
Siya Kolisi. Foto: Twitter.
Covid-19-regulasies het die WP ’n gevoelige nekslag toegedien voor sy Curriebeker-halfeindstryd teen die Haaie op Nuweland.
Die skrumbreker, Steven Kitshoff, sal die wedstryd misloop en word deur Ali Vermaak in die voorry vervang.
Siya Kolisi, wat weens die einste regulasies nie vir die Streeptruie se laaste twee kragmetings oorweeg is nie, is terug in die nommersestrui en sal die kapteinskapleisels by Kitshoff oorneem.
Die Bokkaptein word volgens Britse joernaliste as een van die beste toetskapteins ooit bestempel, maar hy was maar min deel van die aksie gedurende die Curriebeker- en die Superrugby Unlocked-reekse.
Jaco Coetzee sal dan na die plaasvervangersbank oorskuif.
Die Haaie het egter goeie nuus gekry oor die insluiting van die Springbokstut Thomas du Toit. Die sterk voorryman het ’n groot gedeelte van die toernooi met ’n besering misgeloop en sal in Kitshoff se afwesigheid sy stempel op die skrums wil afdwing.
Die wedstryd begin Saterdag om 16:30 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
WP: Damian Willemse (heelagter), Sergeal Petersen (regtervleuel), Dan du Plessis (buitesenter), Rikus Pretorius (binnesenter), Angelo Davids (linkervleuel), Tim Swiel (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Juarno Augustus (agtsteman), Johan du Toit (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), JD Schickerling (slot), Salmaan Moerat (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ali Vermaak (stut). Plaasvervangers: Scarra Ntubeni, Leon Lyons, Neethling Fouche, Chris van Zyl, Ernst van Rhyn, Jaco Coetzee, Paul de Wet, Ruhan Nel, Sazi Sandi en Tristan Leyds.
Haaie: Aphelele Fassi (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter en kaptein), Marius Louw (binnesenter), Yaw Penxe (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Sanele Nohamba (skrumskakel), Sikhumbuzo Notshe (agtsteman), Henco Venter (flank), Dylan Richardson (flank), Ruben van Heerden (slot), JJ van der Mescht (slot), Thomas du Toit (stut), Fez Mbatha (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Dan Jooste, Mzamo Majola, Michael Kumbirai, Hyron Andrews, Thembelani Bholi, Jaden Hendrikse, Jeremy Ward en Manie Libbok.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
25 Kommentare
Hy is seker nou vreeslik opgewonde vir weer ‘n bietjie kniebuig voor die wedstryd begin.
Ongelukkig sal hy nie ‘n verskil maak nie. Kitshoff is ‘n beter kaptein, speel 70 min plus, baie groter impak op die uitkoms van die wedstryd.
Kom ons kyk maar. Want ek onthou in die ou tyd was dit Bulle teen WP. Deesdae is dit Bulle teen Siya. :)
Een van die beste ooit, regtig? Hoeveel toetse het hy al as kaptein gewen teenoor n hele rits NZ’rs?
En kom ons vra ook sommer hoeveel toetse hy al teen NZ gewen het