Kwagga se Ilke droom saam oor WB-sukses

Kwagga Smith druk sy drie op Twickenham. (Foto: Ian Kington/AFP)

Wat het die Mount Smart-stadion en Twickenham gemeen? Kwagga Smith het op al twee rugbyvenues ʼn drie teen die All Blacks gedruk!

Die 30-jarige losvoorspeler se werksetiek en kanniedood-ingesteldheid op die rugbyveld beteken dat hy een van die sleutelspelers in die Bokke se strewe na Wêreldbeker-glorie is.

En sy grootste ondersteuner is ongetwyfeld sy vrou, Ilke.

“Ek is baie trots op Kwagga. Dit was reeds sy droom van ʼn jong ouderdom om in ʼn Wêreldbeker-toernooi te speel en om die prestasie vir ʼn tweede keer te vermag is bitter spesiaal. Ek het beslis saam met hom daaroor gedroom,” het Ilke aan Maroela Media gesê.

Ilke en Kwagga Smith (Foto: Verskaf)

Die twee is in Desember 2017 getroud, maar het mekaar ’n hele ruk geken voordat Kwagga die groot vraag gevra het.

Ilke vertel dat sy 16 jaar oud was toe sy met die 18-jarige rugbyspeler begin uitgaan het. Al twee is oudleerders van HTS Middelburg in Mpumalanga.

Aan die begin was Kwagga maar min by die huis, veral toe hy nog sewesrugby gespeel het. Deesdae is hy in aksie vir die Shizuoka Blue Revs in Japan en Ilke erken dat sy nou ʼn stralerjakker van formaat is.

“Ek woon die helfte van die jaar in Japan en die ander helfte in Dullstroom. Kwagga het verlede jaar ʼn plaas naby die Highland Gate-gholflandgoed gekoop – ons het ʼn gasteplaas (Kareekraal) begin en hy boer ook.”

(Foto: Verskaf)

Die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog begin amptelik op 8 September teen Skotland in Marseille en Ilke sal daarheen reis om die wedstryde by te woon.

“Die ondersteuning van die spelers se vroue speel ʼn baie belangrike rol; veral omdat dit so ’n lang tyd weg van die huis is. Ek is ook daarvan oortuig dat die span goed genoeg is om sy Wêreldbeker-titel te verdedig – veral ná verlede week se wedstryd teen Nieu-Seeland. Hulle het toe ʼn duidelike waarskuwing aan die ander spanne gestuur.”

Wat is Kwagga se grootste sterk punte – óp en ván die veld?

“Hy is baie fluks. Niks is ooit vir hom te veel moeite nie; hy is ʼn regte boerseun. Kwagga werk onsettend hard in elke liewe faset van sy lewe.”

En dit is hierdie hardwerkendheid wat van Kwagga Smith ʼn waardevolle skakel in Suid-Afrikaanse rugby maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.