Loftus-skare sorg vir bywoningsrekord

Meer as 41 000 toeskouers het die wedstryd tussen die Bulls en die Stormers op Loftus Versfeld bygewoon. Foto: GB Jordaan.

Die bywoningsrekord vir ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Suid-Afrika is die afgelope naweek verbeter toe 41 205 toeskouers die aksie tussen die Bulls en die Stormers op Loftus Versfeld bygewoon het.

Die vorige rekord van 31 000 toeskouers is tydens verlede jaar se eindstryd tussen die einste twee spanne in Kaapstad opgestel.

Die Kapenaars het nou juis hul vyfde agtereenvolgende oorwinning teen die Bulls behaal en volgens Deon Fourie het die skare beslis die spelers aangevuur.

“Ons het in aanloop tot die wedstryd gepraat en gesê dat die Bulls waarskynlik die oorhand in die eerste 20 minute sal hê omdat hulle voor hul tuisskare speel,” het die Stormer-kaptein gesê.

Tog was daar ook baie toeskouers in Stormer-truie en Fourie – wat as die speler van die wedstryd aangewys is – was dankbaar vir hul ondersteuning.

“Ek dink nie dit was net 41 000 Bulls-ondersteuners nie, ek voel dat ongeveer die helfte van die toeskouers vir ons geskree het en ek wil almal bedank wat die wedstryd bygewoon het. Dit was beslis een van my hoogtepunte.”

Hanlie Putter het die wedstryd saam met haar man bygewoon en sy meen dat die stadion se atmosfeer meer elektries as jou deursnit Eskom-noodvergadering was.

“Dit was ongelooflik. Ons gaan gereeld Loftus toe en dit was die eerste keer in ʼn baie lang tyd dat die Oos-pawiljoen ook van bo tot onder volgepak was; gewoonlik sit min mense in die boonste sitplekke daar,” het Putter gesê.

Sy is egter hartseer dat die Bulls die kragmeting met 23 – 19 verloor het.

“Hulle het weliswaar baie geleenthede gehad om dinge ordentlik af te rond, veral daar teen die einde van die wedstryd. My man glimlag egter breed – hy is immers ʼn Stormer-ondersteuner.”

Volgens die jongste VRK-punteleer beklee die Stormers die tweede plek, terwyl die Bulls nou sesde is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit wys jou net hoeveel mense die rugby got aanbid ek het gedink na die Israel vernedering en sa rugby wat voortgaan met die kwota sisteme sou mense die regte ding doen maar hulle het my verkeerd bewys maar dit is wat dit is.

#Afrikaner ·

Dit het seker helemal teen jou grein gegaan om hierdie berig te lees en daarop kommentaar te lewer. Wat het jy Saterdag gedoen vir plesier en/of ontspanning?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.