Mening: ‘Geboortereg’-reël kan groter Wêreldbeker-uitdaging vir Bokke skep

Jean Kleyn. (Foto: Charly Triballeau/AFP)

Rugby, trouens die meeste internasionale sporte, het die afgelope paar jaar geweldig in omvang, hier en daar weens reëls en ook weens ander faktore, verander.

Ek wil my vandag egter toespits op die komende Rugbywêreldbeker in September met die fokus juis op ʼn “reëlverandering” wat sedert 1 Januarie 2022 geld en die teenstand in hul groepwedstryde mag beïnvloed.

Dit is naamlik die aangepaste “geboortereg”-reël van Wêreldrugby oor spelers wat elders as in hul eie land internasionale rugby gespeel het.

Daarvolgens mag spelers, mits dit drie jaar of meer ná hul laaste toets vir hulle “aangenome land” is, nou weer deur hul geboorteland (of enige land waar ʼn ouer of grootouer gebore is), as toetsspelers gekies word.

SA Rugby het juis pas van Wêreldrugby verneem dat hulle die bielie-slot van Munster Jean Klein, wat deel van die Bokke se voorbereidingskamp is, nou mag kies.

Twee vrae kom by ʼn mens op: Eerstens, is dit reg om vir ʼn ander land as jou eie te gaan speel waar jy nie kon of sou plek kry in die toetsspan nie? En ook, as jy dit wel gedoen het, is dit reg om weer na jou geboorteland terug te keer? Of selfs pad te gee na ʼn heeltemal ander land as jy te lig by jou eie of aangenome land bevind is?

Daar was baie jare gelede geen probleem daarmee nie. Sedert 1891, met die eerste oorsese Britse toerspanne wat in wedstryde in Suid-Afrika ook teen die Britse toerspanne van 1896, 1903 en 1906 (oorsee) gespeel het, was daar heelwat spelers, hoofsaaklik van Brittanje maar ook vanuit Suid-Afrika, wat selfs vir albei lande gespeel het!

Miskien was dit toe makliker, want Suid-Afrika soos ons dit vandag ken het eers op 31 Mei 1910 tot stand gekom. Wat aanvanklik toere vir ons rugby en krieket betref het en Suid-Afrika genoem is, was die Vrystaatse en Transvaalse republieke en die kolonies van die Kaap en Natal.

Eers jare later is die Britte se toere hierheen en Suid-Afrika s’n in 1906 na Brittanje en Frankryk as toetse bekragtig en het die spelers ter plaatse geword en is hulle (swak gehalte besoekers, gemeet aan Britse standaarde en afkomstig uit hoofsaaklik klubs) in die Britse Leeus se annale as toetsspelers aangedui.

Daar was ook ʼn aansienlike aantal Suid-Afrikaanse spelers uit daardie era wat deur die kaptein van die tuisdorp vir die “toets” gekies en toe later as speler bekragtig is.

Maar vandag, met blitsige vervoermiddels pleks van ʼn weke-lange skeepsreis vanaf Brittanje, het die voormalige IRB (International Rugby Board) besluit die spelery vir verskeie lande is taboe. Samoane wat vir die All Blacks of Australië gespeel het, kon nooit weer hul eie land verteenwoordig nie. Dit het ook ander lande se spelers geraak.

Dit is egter vanaf 1 Januarie 2022 verander, mits ʼn spelers ten minste drie jaar laas vir sy “aangenome” land gespeel het – soos  Kleyn wat tans in die Bokke se oefengroep is.

Dié oud-leerling van Hoërskool Linden in Johannesburg het meer as drie jaar gelede, in 2019, die laaste van sy vyf toetse vir Ierland gespeel.

Die laaste man wat ek kan onthou wat vir ʼn ander land én sy geboorteland gespeel het, was die destydse Natalse haker, John Allan. Hy is in Skotland gebore, maar het in Durban grootgeword en by Glenwood skoolgegaan. Hy het daarna sedert 1990/91 in nege toetse vir Skotland, en toe ná sy terugkeer na Durban, ook in 13 toetse (1993-1996) vir Suid-Afrika gespeel.

ʼn Mens kan jou voorstel hoeveel Tongane, Fidjiane en Samoane wat veral vir die All Blacks gespeel het, van nou af redelik maklik weer plek onder meer in die Wêreldbekerspan van hul geboorteland sal kan kry.

Wêreldbeker-eindstryd. (Foto: Verskaf).

Dit sal dus interessant wees om te sien hoe hierdie reëlverandering die getal spelers, wat vir ʼn ander land as hul geboorteland speel, sal beïnvloed. By 2015 se Wêreldbeker was daar 129 spelers in ʼn ander trui as hul geboorteland s’n en in 2019 was die getal 144.

Dit is redelik seker dat hierdie getal vanjaar sal afneem, en ook dat spanne soos onder meer Samoa, Fidji en Tonga moontlik spelers van veral Nieu-Seeland en Australië in die veld sal kan stoot. En laat ek dit maar duidelik stel: Van die groot klomp spelers van dié drie lande wat al vir die All Blacks, die Wallabies en selfs vir van spanne van die vier Britse lande gespeel het, is uitstekende spelers.

Suid-Afrika, wat Tonga as teenstander in sy groep van vyf spanne het, kan moontlik met Israel Folau te doen kry. Hy is, voor sy 2019-skorsing uit rugby deur die Australiese Rugby-unie vir sommige van sy geloofsienings, as die beste heelagter ter wêreld beskou.

Hy speel reeds sedert verlede jaar vir Tonga. Die Bokke kan ook met die voormalige Wallaby-slot Adam Coleman en die Tongane Amanaki Lotoahea, Ata’ata Moeakiola, Fetuani Lautami, Mifiposeti Paea, Sione Teaupa, Uwe Helu en Sione Vatuvei, wat in Japan gespeel het, te doen kry.

Die All Blacks van Samoa wat nou weer vir hul Suidsee-eilande mag speel, sluit ondermeer All Blacks John Afoa, Charles Faumuina, Josh Ioane, Steven Luatua, Francis Saili, Julian Savea, Lima Sopoaga en Jeffrey To’omaga-Allen in.

Engeland, wat teen Samoa moet speel en Australië wat Fidji moet aandurf, sal ongetwyfeld ook deur die nuwe toegif van Wêreldrugby geraak word. En moenie dat die drie Suidsee-lande jou fop nie. Hulle kan, op hul beste, moeilikheid vir die wêreld se bestes veroorsaak en selfs wen.

Samoa, wat die Bokke in 2007 baie harde bene laat kou het, het sedert verlede jaar reeds ses spelers gekies wat Nieu-Seeland in toetse en sewes verteenwoordig het. Daar is ook ʼn Wallaby wat nou reeds vir Samoa gespeel het.

Daar is boonop ook nog ʼn groep van nege spelers, insluitende die vleuel Julian Savea wat tot 2017 in 54 toetse vir die All Blacks gespeel het, waaruit Samoa kan kies. Hy is nou 32. (Sy broer, die losvoorspeler Ardie, was in 2019 lid van die All Black-span by die Wêreldbeker. Hy kwalifiseer nie om vanjaar vir Samoa te speel nie, omdat hy die afgelope drie jaar nog toetsrugby vir Nieu-Seeland gespeel het).

Watter verrassende keuses gaan daar vanuit die Suidsee-lande by die Wêreldbeker wees? ʼn Mens kan maar net skouers ophaal, want om deur die 20 Wêreldbekerlande te werk om uit te vind wie het wanneer vir wie gespeel en die afgelope drie jaar geen toetse vir hul aangenome spanne nie, is ʼn haas onbegonne taak.

Suid-Afrika het beste rekord by die Wêreldbeker

Dit is interessant om te noem dat Suid-Afrika die beste rekord met sy drie titels het.

Die All Blacks het hulle drie titels in nege toernooie gewen, Suid-Afrika syne in net sewe toernooie. (Weens ons skorsing van internasionale rugby kon ons nie in 1987 en 1991 aan die Wêreldbeker-toernooi deelneem nie.)

Boonop het die Bokke hul twee titels in oorsese toernooie (in Frankryk in 2007 en in 2019 in Japan) en net een op tuisbodem, in hul heel eerste toernooi op Ellispark in 1995, gewen.

Die All Blacks se drie oorwinnings was in die heel eerste toernooi in 1987, en toe in 2011. Albei hierdie eindstryde was op die All Blacks se tuisveld, Edenpark, en in albei gevalle was dit Frankryk wat verloor het. Die All Blacks het in 2015 op Twickenham vir Australië vir hul derde titel geklop.

Toetse ter voorbereiding

Die Bokke speel die komende tien Saterdae in ses toetse, wat twee elk teen Nieu-Seeland en Argentinië insluit. Benewens die verkorte Rugbykampioenskap oor een ronde, speel hulle ook drie “opwarmingswedstryde” voordat die Wêreldbeker op 8 September afskop.

Rugbykampioenskap:
Saterdag, 8 Julie – SA teen Australië (Loftus Versfeld, Pretoria)

Saterdag, 15 Julie – SA teen Nieu-Seeland (in Nieu-Seeland, nie bekend waar nie)

Saterdag, 29 Julie – SA teen Argentinië (Emirates Airline-park, Johannesburg)

Opwarmingswedstryde:

Saterdag, 5 Augustus –  SA teen Argentinië (Buenos Aires)

Saterdag, 19 Augustus –  SA teen Wallis (Principality-stadion, Cardiff)

Vrydag, 25 Augustus – SA teen Nieu-Seeland (Twickenham, Londen)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

capie ·

Ierland het’n baie goeie span, maar daar is die afgelope drie jaar nie plek vir Jaen Kleyn nie. So hy tel nie eers onder hulle vier beste slotte nie. Het ons dan so ‘n tekort aan slotte. Dat ons ‘n goeie span kan instoot is waar, maar ons gaan onsself in die voet skiet met onfikse en ouetehuis spelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.