Mening: Te veel jong SA-spelers ‘raak weg’

Ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Dit gaan goed met Suid-Afrikaanse rugby. Baie goed, as ʼn mens die twee opeenvolgende Wêreldbekers en ook die vertonings van ons voorste spanne in die Europese ligas in ag neem, waar hulle die afgelope naweek vier uit vier wedstryde gewen het.

Desondanks is daar gevaarligte wat flikker, veral as die krag en diepte van ons skole- en junior naskoolse provinsiale spanne sommerso aanvaar word.

Suid-Afrika verloor eenvoudig net te veel spelers wat ná skool ophou rugby speel.

Dat net ʼn skrale sewe persent van skolespelers ná skoolverlating aanhou rugby speel, is kommerwekkend. Die sowat 290 000 o.13-seuns word reeds met hul skuif hoërskool toe meer as gehalveer na slegs 140 600 wat van o.14 tot matriek nog speel, aldus statistiek op Wikipedia.

En dan is daar ná skool ʼn verdere klomp wat ophou speel weens studies of nuwe werk en loopbane. Daar is tans net sowat 82 100 spelers wat klubrugby in Suid-Afrika speel – en van hulle is al diep in hulle 30’s en ʼn hele klomp is nuwelinge wat hul eerste proesel klubrugby ervaar.

Die Lions en Blitsbokke se JC Pretorius was ’n skitterende skoolrugbyspeler. (Foto: Facebook.)

Met die voortsetting van meer jong spelers ná matriek sou dit op die lange duur uiteraard ʼn sterker, en ook groter basis van gehalte spelers aan provinsiale spanne kon verskaf as die reeds uitstekende diepte wat ons op nasionale vlak met ons provinsiale spanne het ­– en dit sou ook tot ʼn groter keuse-poel en stellig ook beter spanne op nasionale vlak kan bydra.

Ja, ek besef terdeë dat daar nie plek in ons huidige stelsel is om uit te brei nie. Die Spelersvereniging het juis pas reeds kapsie gemaak teen die nuwe SA Bekerreeks – en dít na net ʼn enkele ronde.

Dié nuwe kompetisie sal glo te veel verg van daardie eersterangse spelers wat ook verpligtinge in die VRK en die daaropvolgende twee Europese kompetisies mag hê. Die gebrek aan ruskans tussen die baie kompetisies is glo die probleem.

Maar hoe kan dit oorkom word? Daar moet tog immers ook aandag gegee word daaraan dat meer gewone klubspelers iets het om na te streef, of anders sal die spelergetalle op klubvlak ernstig begin daal. Tans is daar net die Gold Cup waaraan die klubs, buiten hul interne provinsiale kompetisies, kan deelneem – en dis net vir die voorste klubs van die onderskeie unies.

Die verlies aan skoolverlaters (en ook andere) op klubvlak kan straks op die lange duur nie net op die speelveld probleme met diepte veroorsaak nie. Dit kan selfs, met minder belangstelling in die spel en praktiese blootstelling deur die spelers wat uit die stelsel ‘wegraak’, die spel kwaad aandoen.
Ons wil tog nie soos die Yanks se bofbal en Gridiron feitlik net een liga uitsoekspelers hê nie, of hoe?

Die Cravenweek, en ʼn baie sterk skolestelsel dra uiteraard by tot die uithaal-vertonings wat die Springbokke lewer. Maar daar is ongetwyfeld ruimte vir verbetering. Suid-Afrika (199 200) het ná Engeland (602 000) die tweede meeste spelers tussen o.14 en o.20, terwyl Frankryk en Ierland albei net oor 57 000 spelers het en Nieu-Seeland net 40 390.

Ierland vaar in internasionale rugby heelwat beter as wat ʼn mens van sy karige getalle aflei. Die Iere het net ʼn raps meer as 25 400 senior spelers teenoor die sowat 132 000 van Engeland, Frankryk se 124 000 en Suid-Afrika se 113 000 waaruit die Iere hul nasionale spanne kan kies.

Frankryk se syfers word waarskynlik skeefgetrek deur die groot aantal buitelandse spelers wat in sy top ligas speel – en dit krap ons en die Kiwi’s se syfers natuurlik deurmekaar met talle van dié twee lande en die Suidsee-eilande se spelers wat ook gekontrakteer word.

Wat is SA se oplossing?  

Justin Durandt van die Sportinstituut van Suid-Afrika, het reeds in 2015 uitgewys dat slegs 24% van die o.13-Cravenweek se deelnemers ook later vir die o.18-Cravenweek gekies word. Hy het gevoel dat o.13s nie reeds met spesialisering moet begin nie.

Durandt het aangevoer daar moet eerder, pleks van die spesialisering van ʼn klein groepie elite spelers op die vlak, gepoog word om ʼn groter groep spelers se belangstelling in die sport behoue te laat bly en wedstryde te speel – amper soos die kaalvoet-buksies by die klinieke leer en by hul ‘toernooie’ Bulletjie-rugby speel.

Die ontwikkeling van vaardighede moet stelselmatig voorkeur kry en eers op hoërskool moet daar oorgeslaan word na fokus op die ontwikkeling en beoordeling van spelers se gehalte, meen Durandt.

Dit maak baie sin, maar die realiteit is dat dié omwenteling nie goedsmoeds deur ouers van klein kannetjies en hul afrigters aanvaar sal word nie.

Foto ter illustrasie. (Foto: GB Jordaan)

Dus, daar moet ander uitweë wees:

  • SA Rugby het die week die bepalingslys uitgestuur vir die nuwe o.20-reeks tussen die vier Rugbykampioenskap-lande: Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië.

Die reeks begin op 2 Mei aan Australië se Sonskynkus, waar al die wedstryde gespeel word.

  • Daar kan, op dieselfde patroon as verlede jaar se onder 20-reeks wat die Blou Bulle gereël het vir die voorste spanne, ook ʼn klubreeks tussen drie streke, Noord, Suid en Sentraal, gereël word met gereelde oorgrens-bepalings tussen elke streek se voorste spanne nadat hulle eers plaaslik geïdentifiseer is.
  • Dit bied ʼn legio maniere waarop o.20- en ook senior-klubspelers ook kan toer en speel. En dit is immers deel van die pret en uitdagings van rugby. Dit kan verder ook na senior spanne uitgebrei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boeretroos ·

Ja dit is ongelukkig so , en die groot rede is kwota’s ongelukkig , ek het dit eerstehands gesien hoe o.11 spelertjies wat uitstekend vir sy ouderdom speel, nie plek in n toerspannetjie kon kry nie want die span moet ten meeste uit 7 wit seuns wees insluitend reserwe spelertjies in n totaal van 19 , hoe kan mens dit aan silke jong generasie kinders doen wat net wil speel omdat dit lekker is, en nou moet dit op die vlak ook ingeforseer word, dis hoekom hulle nie gemotiveer is om hul beste te lewer nie.en aan te hou speel nie

piet ·

Dis nie nuut nie, dis al JARE (was nog altyd) die geval. “n Bitter klein persentasie van skoolspelers speel na hul skoolgangsjare, was nog altyd so. Kwotas het niks daarmee te doen nie, jy kan mos vir enige klub na skool gaan speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.