Mening: Varsitybeker-spanne sukkel, maar SA-klubrugby staan sterk

(Foto: pixabay)

Tussen al die ander groot sporte deur het ons klubrugby, soos die skolerugby, vanjaar ná die Covid-terugslae weer tot hul reg gekom. Daar was nietemin ʼn paar snaakse kinkels wat ʼn mens laat dink.

Een van hulle was die onvermoë van die twee Varsitybeker-finaliste, Maties en Tuks, om nie direk vir  hul onderskeie halfeindstryde by die WP en die Blou Bulle te kwalifiseer nie.

Trouens, soos ek hieronder aandui, was hulle nie die enigste Varsitybeker-spanne wat gesukkel het nie. Dit laat die vraag ontstaan: Hoe sterk is die Varsitybeker-reeks werklik? Moet die provinsiale talentsoekers nie ook meer gereeld na die ‘gewone’ klubspanne soos ondermeer Valsbaai en Durbel van die WP, of Abe Midas Naka en Northam Rhinos van die Bulle en College Rovers in Durban kyk nie?

Willem Strauss se hart klop warm vir klubrugby. Foto: Verskaf.

Dit word met groot sukses deur die Blou Bulle gedoen, en van hul klubspelers is al selfs deur ander unies en ook oorsee gekontrakteer.

* Die Maties, wat net nege van hul 14 ligawedstryde in die Kapenaars se Superliga gewen het, het egter ʼn tweede kans gehad. Hulle was vyfde op die punteleer, maar het na die halfeindronde deurgedring ná ʼn “kwarteind” waar hulle Unie-Millies met 38-28 geklop het. Terloops, Millies het 12 van sy 14 wedstryde in die liga gewen.

In die halfeind het die Maties slae teen Valsbaai (21-38) op die lyf geloop, terwyl die Ikeys (derde op die punteleer) in die halfeind teen Durbel (9-14) vasgeval het. Die telling vlei egter die Ikeys wat nooit in die wenprentjie was nie.

Die Universiteit Wes-Kaap was tiende nadat hy net vyf van sy 14 ligawedstryde kon wen. Bottom of Form

Die Lions se twee Varsitybeker-verteenwoordigers, UJ en Wits, het ook in hul plaaslike Piratesliga  nie die paal gehaal nie.

Hier was daar darem ʼn taai eerstespan-eindstryd tussen die Witsies en die Pukke, wat na ʼn agterstand teruggeveg en met 31-26 gewen het.

Die Pukke, wat weens die swak teenstand in Noordwes al jare klank in dié liga van die Leeus speel, het skoonskip in die Piratesligas gemaak en die kompetisies vir die eerste, tweede, derde en o.20-spanne gewen.

*In die Baai het Progress in ʼn baie taai kragmeting die studente-Madibaz met 23-15 geklop. Dit gaan, ten minste op klubvlak, goed met die unie wat die afgelope jare met bestuurskwessies gesukkel het.

*In die Vrystaat, waar klubrugby se ligas al hoe groter en sterker word, maar die deursnee gehalte desondanks nog haper, het die Shimlas darem oorheers. Hulle was terloops eerste op die Varsitybeker-punteleer, maar is in die halfeind uitgeskakel.

*Tuks was vierde op die Carltonbeker se punteleer, maar het in die halfeind vasgeval. Wat ʼn mens veral laat wonder wat by Tuks skeefgeloop het, is dat hulle o.20s in die eindstryd deur Centurion geklop is. Centurion het ook die Carltonbeker, teen Abe Midas Naka, met 27-26 gewen

Dit gaan goed met klubrugby in al 14 bonde

Argieffoto (Foto: Vlad Vasnetsov/Pixabay)

Die goeie nuus is dat dit in die geheel op klubvlak met ons plaaslike rugby goed gaan. Volle klubreekse is vanjaar by al 14 die bonde afgehandel nadat Covid heelwat ontwrigting veroorsaak het.

*Die Oostelike Provinsie is aan’t herstel na die skade wat Cheeky Watson en sy opvolgers hom aangedoen het. Hulle het vanjaar 14 spanne in hul Groot Uitdaagreeks gehad wat ná ʼn uiters taai en goeie eindstryd deur Progress teen die Madibaz gewen is. Die Uitdaagbeker tussen die OP en Grens se voorste ses spanne is ook vroeër afgehandel en ook híér was Progress baas.

*By die SWD Arende het 70 klubs in die Premierliga met 10 spanne, die Presidentsliga met 28 spanne en die Streeksliga met 32 spanne meegeding. Soos by ondermeer die Pumas en Griekwas weens die lang afstande tussen klubs, speel die SWD ook in streke.

Dit is veral goeie nuus dat ʼn bond soos Griekwas, ondanks die groot afstande en ʼn aantal kleinerige klubs wat ver van teenstand verwyder is, tog ʼn goeie seisoen agter die rug het.

*Die Boland, met 216 klubs, het soos die SWD groot skares na hul klubrugby getrek. Rugby is in dié twee streke se bloed, en die verbeterde bestuur die afgelope tyd sal hopelik binnekort ook op provinsiale vlak in die twee unies waarneembaar wees.

Die Valke se ligas is ook afgehandel nadat daar sedert 2020 ʼn likwidasie-wolk oor die bond gehang het. Die borgskap van Hino vanjaar het nuwe lewe in die Valke se rugby geblaas en ook húlle behoort aanstaande jaar in die Curriebeker se eersteliga stem dik te maak.

*Die Pumas se klubs (Sasol, Witbank, en Middelburg) speel ondermeer teen die Newcastle Highlanders wat eintlik onder Noord-KZN se subunie val – en die afstande is ook iets ysliks. Witbank is 250 km en Secunda (Sasol-klub) 195 km van Newcastle af.

VRK franchise’e se klubs

*Dit gaan klopdisselboom met klubrugby by die vier bonde (WP, Blou Bulle, Sharks en Leeus) wat se franchise-spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap speel.

Daar is veral by die Blou Bulle ontwikkelings wat te veel is om hier te noem. Ondermeer het hulle Limpopo subunie nou ʼn lewendige, goeie klubkompetisie en Northam speel trouens in die Carltonliga.

Die Wolverines, ʼn mynspan naby Hartebeespoortdam, is na ʼn verrassend-goeie seisoen na die Carlton bevorder nadat hy die voormalige SA-kampioen, Impala, in die uitspeelwedstryd geklop het. Die agt klubs in aanstaande jaar se Carltonliga sal dus Centurion, Abe Midas Naka, Northam, Tuine-Grizzlies, UP-Tuks, die Wolverines, Quins en Pretoria wees.

* Die KZN-klubspanne van die Sharks het pas met hul Murraybeker-uitklopkompetisie begin. Die bond het 93 spanne wat in hul 17 senior kompetisies speel.

* Die WP het 15 spanne in hul Super A-liga (en ook in van hulle ander ligas). Die groot tellings teen die onderste spanne doen egter hul klubkrag ʼn onreg aan. Die boonste agt, nege spanne was egter goed verteenwoordigend van die bond se krag en soos by die Bulls word spelers in die ligas met provinsiale kleure beloon.

By die Leeus lyk dit of die Covid-pandemie heelparty klubs kwaai getref het, en gevestigde oop-klubs soos ondermeer Pirates, Raiders, Wanderers en Roodepoort, lyk swakker as drie jaar gelede.

Wat vorentoe ʼn hupstoot vir klubrugby kan wees, is dat klubwedstryde vanjaar taamlik gereeld regstreeks op televisie gesien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Uitstekend van Uni Milnerton. Hierdie klub was vir lank in die doldrums en het laer liga gespeel (tot nie te lank gelede nie as ek reg onthou), dit is verbasend dat hulle nou een van die topklubs in die A-liga is.

Hennie Biebouw ·

Ek dink die sukkelende Varsity Cup spanne is meer ‘n aanduiding van die algehele agteruitgang van rugby in Suid-Afrika, as wat dit dui op ‘n “gesonde klubrugby” stelsel.
Die kwaliteit rugby wat op klubvlak gespeel word, selfs in die WP A1 liga, bly steeds slegs ‘n skadu van wat dit was in die verlede.
Hoe dit ookal sy, die Varsity Cup spanne kan nie noodwendig word met die universiteit se span wat in die breë klub kompitiesie deelneem nie. Varsity Cup het bv ouderdoms beperkings en dies meer. Verder word die sterk universiteite se spanne ook beinvloed deur spelers wat nie beskikbaar is vir klubrugby, omdat hul diens moet doen in verteenwoordigende spanne nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die studente profiel het verander. Dit het ‘n impak op studente rugby. Die Varsity beker se kwaliteit is power. Waar is die polisie klubs?

Jakkie ·

Pta Polisie klub se veld nou n sokkerveld met gebuigde doelhokke. Skokkend om die polisie kollege se sport fasiliteite se toestand te sien weens geen instandhouding oor etlike jare

Snuffelgids ·

Net omdat die Varsity spanne al die TV tyd kry, maak dit hulle nie beter as die klubs nie…en hier is die bewyse. Daar moet meer lugtyd gemaak word vir die klubs, daar is beslis n Paar Diamante!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.