Mening: Wêreldrugby se grootse planne kan nadelige finansiële gevolge hê

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

In Engeland, waar drie Premierliga-klubs laasjaar finansieel gesneuwel het, en ook in Wallis en straks Skotland waar rugby se beheerliggame finansieel maar swaar trek, sal Wêreldrugby se  bekendmaking van die nuwe tweejaarlikse internasionale kompetisies vir mans én vroue vanaf 2026 nie noodwendig gewild wees nie.

Trouens, die meeste lande sal dit moontlik ervaar.

Vernuwing, ja. Dis iets waaraan al jare gedink word. Maar met die eerste oogopslag lyk dit of die reeds buitengewone werklas van internasionale, en ook franchise- en klubspelers, dramaties sal toeneem as daar nie nuwe spelerspersoneel aangestel word nie. En dít sal uiteraard met groter koste gepaard gaan.

Die vernaamste aankondiging van Wêreldrugby was stellig dat die klubs (en franchise’e) se kalenders nou met dié van die internasionale wedstryde duidelik belyn sal word met afgebakende tye waartydens spelers vir internasionale verpligtinge vrygestel sal word.

Dit sal veel meer afgedwing word as tot nou toe en afrigters sal nie meer die vryhede hê om met klubs hieroor te onderhandel nie.

  • Daar sal egter, aldus Wêreldrugby, wel daarvoor voorsiening gemaak word dat die spelers se werkslading volgens riglyne bestuur word. Dit sal ook op vrouerugby toegepas word waar daar die heel eerste keer nie plaaslike kompetisies sal wees wat met hul internasionale rugby oorvleuel nie.
  • In die mans se spel sal die nuwe kompetisiestrukture vir toetslande, insluitende ʼn toenemende aantal oorkruis-wedstryde tussen lande, die heel eerste keer gebruik word om op internasionale vlak die kaf van die koring skei.

Die denkwyse hiervan is dat dit die eerste keer langtermyn-sekerheid van internasionale spanne se krag sal bring en dat dit daarom tot groter belangstelling en spanwaarde sal lei teen die tyd dat die  2031 Wêreldbeker in die VSA gespeel sal word.

ʼn Afleiding is dat die Wêreldbeker nie meer die streeksindeling sal hê wat krag teen krag skeeftrek nie.

Die Nasies-kampioenskap

Daar word al lank gepraat oor ʼn Wêreldliga wat in 2026 werklikheid sal word en waaraan die spanne nét onder die internasionale spanne, dus die franchise’e en beroepsklubs, sal deelneem.

Hierdie tweejaarlikse kompetisie, wat klaarblyklik die Nasies-kampioenskap heet, sal tydens die “vensters” van mansrugby, tydens Julie en November, gespeel word deur die nasionale spanne wat tans aan die Rugbykampioenskap en die Sesnasiesreeks deelneem, met twee verdere (sterk) spanne, soos Fidji en Japan, om ʼn twaalftal in die Topliga te hê.

Vrouespanne sal hul eie “venster” en kompetisie-tydperk kry.

Duhan van der Merwe probeer om deur Tonga se verdedigers te bars. (Foto: Nicolas Tucat/AFP)

Daar sal ook ʼn tweede vlak spanne aan ʼn eie (tweedeliga) internasionale kompetisie deelneem. Dit sal na verwagting spanne soos ondermeer Georgië, Tonga, die VSA, Kanada en Samoa wees.

Tussen hierdie tweejaarlikse Nasies-kampioenskap sal die genoemde internasionale oorkruis-wedstryde gespeel moet word. Dit is niks nuut nie, want Suid-Afrika het die afgelope hoeveel jaar in Junie toetse gespeel.

Maar ondanks die beoogde “venster” vir oorkruis-toetswedstryde plus hul voorafgaande  internasionale oefenkampe, sal die franchise’e/ klubs met swakker spanne moet meeding. Die ondersteuners van byvoorbeeld die Bulls, Lions, Sharks, sal moet toekyk hoe verswakte spanne in hul kompetisies speel.

Die inkomste van die franchise’e en klubs sal ongetwyfeld geraak word, veel meer as wat nou die geval is, en die gevolg sal wees dat daar swakker spanne in die VRK, en nog méér so in die Curriebeker, sal wees; dat die TV meer tyd op die internasionale spanne sal fokus; en dat lande soos Wallis en Skotland, om Suid-Afrika nie eers te noem nie, finansieel sal sukkel om op franchise-vlak kop bo water te hou met die minder toeskouers en belangstelling wat borge ook sal beïnvloed.

En dan net ʼn stertjie: Daar sal klarigheid moet kom oor die tweejaarlikse Nasies-kampioenskap, want soos dit nou staan sal dit in die jaar voor en ná elke Wêreldbeker-toernooi gespeel moet word. Hoe lank sal die voorste nasionale spelers dit kan volhou?

Want onthou, hulle moet ook nog vir hul klubs/ franchise speel met die beste wat in die Wêreldbeker moet uithaal.

Dit gaan goed met ons rugby

In die geheel gesien, gaan dit goed met Suid-Afrikaanse rugby. Ons vroue-sewespan het vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer, en die vroue-Bokke begin meer mededingend teen sterker teenstand raak.

Op skolevlak het ons jonges vroeër vanjaar met van die Sesnasies se spanne hier gespeel en het die SA Skolespan vir Engeland goed gelooi.

Op plaaslike vlak begin al hoe meer dogters rugby speel en is ons klubrugby, veral in die stede, op ʼn stewige vlak.

Daar moet egter effe kommer wees oor die minder klubs en ook minder spanne by plattelandse klubs. Hier is Limpopo, subunie van die Blou Bulle, egter ʼn uitsondering.

Met die groot finansiële inspuiting wat Boland gekry het, en ʼn nuwe bestuur vir wie dit hoofsaaklik om rugby gaan, sal Boland met sy 216 klubs – verreweg die meeste in die land – en baie talent in die bond binnekort weer een van ons toonaangewende provinsiale spanne wees.

Die groot uitdaging bly egter om te keer dat spelers verlore gaan. Net sowat sewe persent van skoolverlaters speel die volgende jaar klubrugby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Rugby probeer met sokker meeding. Internasionale wedstryde sal voortaan aan die agterspeen suig. verder sal die mamon plan van hulle absoluut NIKS doen om doe spel te bevorder en uitbrei in die kleiner unies en lande nie. Dit baat mos die All Blacks as spelers uit Samoa, Fiji, Tonga et al eerder ‘n heil in NZ gaan soek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.