Namibië veggereed vir All Blacks-stryd

(Foto: Clement Mahoudeau/AFP)

All Blacks-skrumafrigter Greg Feek sê hulle verwag dat ʼn taai stryd teen Namibië voorlê wanneer die twee spanne Vrydag in die Wêreldbeker-rugbytoernooi kragte meet.

Die spanne speel Vrydag om 21:00 in Toulouse in hul tweede wedstryd van die toernooi.

Ondanks hul veel laer plek (as dié van die All Blacks) op die punteleer, spog die Welwitschias ook met Bayonne se ervare haker Torsten van Jaarsveld, asook vier voorspelers wat in Suid-Afrika speel.

Die voormalige Springbokmentor Allister Coetzee is deesdae Namibië se hoofafrigter.

“Hulle het verskeie spelers in die span wat vantevore vir die Cheetahs gespeel het, selfs soms in Europa,” het Feek voor Vrydag se wedstryd gesê.

“Hulle gaan veggereed wees. Dit gaan ʼn groot toets vir ons wees; ons het baie respek vir die span.”

Albei spanne het hul openingswedstryde verloor.

Namibië het Saterdag met 52-8 teen Italië verloor en die driemalige Wêreldbekerwenner Nieu-Seeland se spelers lek hul wonde nadat hulle Vrydag met 27-13 teen gasheerland Frankryk verloor het.

Feek, self ʼn oudstut, het ontken die moreel in die All Blacks-kamp is laag ná die span sy eerste groepwedstryd ooit verloor het.

“Daar is altyd vertroue wanneer ons die talent het wat ons het,” sê Feek.

“ʼn Paar goed moet nou net saamval om ons spel aan die gang te kry.

“Teen die Franse – wat betref die voorbereiding – was daar dalk een of twee dinge wat ons nie heeltemal kon regkry nie. Ons probeer dit nou regkry so goed as ons kan.”

Kaptein Sam Cane het die wedstryd verlede week weens ʼn rugprobleem misgeloop en daar is steeds twyfel of hy teen Namibië in aksie gaan wees.

“Hy’s steeds tussen die manne, besig om sy ding te doen,” sê Feek.

“Ons moet maar versigtig wees. Ons neem dit dag vir dag. In hierdie stadium moet ons maar wag en kyk.”

Voormalige Nieu-Seelandse hoofafrigter Steve Hansen het vandeesweek nieamptelik by die kamp aangesluit. Hansen was ʼn hulpafrigter tydens die span se Wêreldbeker-oorwinning in 2011. As hoofafrigter het hy die span gebrei toe hulle vier jaar later hul titel suksesvol verdedig het en daarna na ʼn derde plek in 2019 gelei.

“Hy gooi sy stuiwer in die armbeurs, maar nie werklik in ʼn formele rol nie. Hy neem dinge net waar,” het haker Dane Coles aan verslaggewers gesê.

“Hy het ʼn goeie, diep band met baie van die spelers wat hy al vantevore afgerig het. Jy sien dit onder die spelers in die glimlagte en gekskeerdery.

“Dit het almal se luim meer opgeruimd gemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Daars ‘n groot kans dat die eerste honderd-tal van hierdie wereldbeker kompetisie bereik gaan word in hierdie wedstryd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.