Noem hom sommer ‘Drie-han’ van der Merwe!

Duhan van der Merwe duik oor vir een van sy drie drieë teen Engeland op Murrayfield. (Foto: Malcolm Mackenzie/ProSportImages/AFP)

Ná Duhan van der Merwe se wonderdrie verlede jaar op Twickenham, het Skotland se Suid-Afrikaans gebore agterspeler weer eens Engeland se rugbyondersteuners aan hul tee laat stik.

Die sterk vleuel het drie drieë in Skotland se goeie oorwinning van 30 – 21 op Murrayfield gedruk.

Sodoende het die tuisspan nie net waardevolle Sesnasies-punte ingeoes nie, maar dit is ook hul vierde toernooi-oorwinning op ʼn streep teen die Rose. Ja-nee, die Calcutta-beker bly beslis in Skotse hande.

Maar terug na Van der Merwe.

Dié oudleerder van Hoërskool Outeniqua het oudergewoonte met sy kraglopies langs die kantlyn af beïndruk, terwyl sy samespel met Finn Russell ook uit die boonste rakke is.

Hy het nou al 26 drieë in 37 toetse vir Skotland gedruk en Stuart Hogg se driedrukrekord van 27 drieë is sommer lag-lag binne trefafstand.

“Ek kan dit kwalik glo. Ek het nog nooit ʼn driekuns teen Engeland behaal nie, maar ek moet my spanmaats bedank wat vir my die nodige geleenthede gee om af te rond,” het Van der Merwe na afloop van die kragmeting gesê.

Nodeloos om te sê is afrigter Gregor Townsend ook in sy noppies.

“Duhan se eerste was te danke aan goeie spel saam met Sione Tuipulotu en Huw Jones. Dit was waarskynlik die eerste keer dat ons ʼn aanval in Engeland se halfgebied van stapel kon stuur en ons het ʼn drie broodnodig gehad,” het die Skotland-breier gesê.

“Sy tweede drie het die momentum beslis in ons rigting geswaai en die skare het toe ordentlik begin saamgesels. Dit was natuurlik ook mooi om te sien hoe hy Russell se skop opgevolg het om sy derde drie te druk.”

Townsend meen egter dat verlede jaar se wafferse Playstation-drie op Twickenham steeds die kersie op die koek is.

“Om ’n driekuns te behaal is ’n ongelooflike prestasie, maar verlede jaar se individuele briljantheid is steeds vir my tops. Hy hou daarvan om teen Engeland te speel en ons is baie in ons skik met sy vertoning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

In SA sou Duhan waarskynlik gelukkig wees om vir Evergreen in George te speel. Geen franchise sou in hom belangstel nie.

Niklaas ·

Sterk hardloper met die bal en dan is hy sommer vinnig ook. Dis moeilik om nie beindruk te wees met die Glimlaggende Mega vleuel nie. Daar was al in Skotland na hom verwys as “Superman”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.