Oberholzer keer terug in tydelike pos

Rian Oberholzer. Foto: Twitter.

SA Rugby (Saru) het vandag bevestig dat Rian Oberholzer sy tydelike uitvoerende hoof sal wees totdat ʼn meer permanente aanstelling gemaak is.

Die 62-jarige Oberholzer het die einste pos tussen 1996 en 2003 beklee, terwyl hy ook die toernooidirekteur van die 1995-Wêreldbeker in Suid-Afrika was. Daarbenewens het hy in sy hoedanigheid as SANZAR-hoof ʼn beduidende rol in die stigting van die Drienasies- en Superrugbyreekse gespeel.

Hy sal Jurie Roux se skoene volstaan wat in Januarie sy kantoor ná 12 jaar as die nasionale rugbybeheerliggaam se uitvoerende hoof moes ontruim.

“My rol is om leiding aan die bedryfspan te verskaf en om hulle in die regte rigting te stuur om die strategiese doelwitte te bereik wat reeds deur die uitvoerende raad vasgestel is,” het Oberholzer gesê.

Volgens die ervare sportadministrateur is dit vir hom ʼn verrassing om terug in die pos te wees, maar dit is ook ʼn opwindende tyd om deel van die nasionale rugbyopset te wees: Die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk is immers om die draai.

Jurie Roux. Foto: AFP.

Mark Alexander, Saru-president, het intussen gesê dat Oberholzer die geskikte persoon vir die pos is omdat hy oor die vermoë beskik om sommer dadelik die aflosstokkie vas te vat en te hardloop; gʼn opwarmingswerk is nodig nie.

“Die vereistes was dat die betrokke individu uitstekende kennis van die plaaslike rugbylandskap moet hê, terwyl hy ook maklik by SANZAAR, die Verenigde Rugbykampioenskap en Wêreldrugby kan inskakel.  Rian is beslis vertroud daarmee en ons is bevoorreg dat hy in ’n posisie was om ons versoek te aanvaar,” het Alexander gesê.

Alexander het dit ook weer bevestig dat die beoogde belegging in private ekwiteit tot die vestiging van ’n nuwe kommersiële struktuur sal lei. Dit sal dan twee entiteite skep wat uitvoerende hoofde nodig het om die leisels vas te vat. Sodra daardie proses afgehandel is, sal die werwingproses vir die betrokke rolle van stapel gestuur word.

Die Springbokke het ’n opwindende seisoen wat op hulle wag en benewens hul Wêreldbeker-pligte sal hulle ook onder meer teen Nieu-Seeland op Twickenham speel.

Bepalings:

8 Julie: Springbokke teen Australië (Loftus Versfeld)

15 Julie: Springbokke teen Nieu-Seeland (venue moet nog bevestig word)

29 Julie: Springbokke teen Argentinië (Ellispark)

5 Augustus: Springbokke teen Argentinië (venue moet nog bevestig word)

19 Augustus: Springbokke teen Wallis (Principality-stadion)

25 Augustus: Springbokke teen Nieu-Seeland (Twickenham)

10 September: Springbokke teen Skotland (Stade Vélodrome)

17 September: Springbokke teen Roemenië (Stade de Bordeaux)

23 September: Springbokke teen Ierland (Stade de France)

1 Oktober: Springbokke teen Tonga (Stade Vélodrome)

14‑28 Oktober: Wêreldbeker-uitspeelwedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Bankrot organisasie, op en van die veld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.