‘Ons moet positief bly‘

Die Bulls het die afgelope naweek teen die Lions op Loftus Versfeld verloor. Foto: Twitter.

ʼn Mens kon die verslaentheid op die Bulls-spelers se gesigte sien toe hulle die afgelope Saterdag teen die Lions op Loftus Versfeld verloor het.

Ja, hulle het vroeër in ʼn titaniese derby teen die Stormers vasgeval, maar selfs die grootste pessimis in die Bulls-kamp het waarskynlik geglo dat hul span met die Lions sou afreken.

Tog meen Jake White daar is steeds hoop vir die Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap. Ondanks ʼn paar sukkelvertonings bly hulle sesde op die punteleer en met ʼn bietjie elmboog-ghries is ʼn plek in die uitspeelwedstryde seker nie té vergesog nie.

Die waarskuwingsligte is egter beslis besig om te flikker, terwyl daar ook nog taai uitdagings teen Leinster en Ulster op die Pretorianers wag.

“Solank as wat ons lot nog in ons eie hande is, is daar hoop. ʼn Mens moenie op ander spanne staatmaak om vir jou ʼn uitspeelwedstryd-hupstoot te gee nie. Dit is beslis een van daardie seisoene waar ons net positief moet bly,” het White gesê.

Jake White. Foto: Twitter.

Die Bulls-afrigter het na die Stormers verwys wat verlede jaar teen Benetton verloor het en toe met die uiteindelike louere weggestap het.

“Daar is nog drie oorblywende wedstryde en ons sal doodeenvoudig net moet seker maak dat ons op ons beste is. Ons het inderdaad dinge vir onsself moeilik gemaak – Leinster en Ulster is immers twee baie sterk spanne.”

Die Wêreldbeker-wenafrigter het in die aanloop tot die Lions-kragmeting gesê die Bulls moet wys dat hulle desperaat is om wedstryde te wen. Hy het egter erken dat die Johannesburgers met meer wenpassie gespeel het.

ʼn Tikkie goeie nuus is dat Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie binnekort weer op Loftus Versfeld te siene sal wees. Die twee spoedvrate is tans deel van Jacques Nienaber se nasionale oefenkamp en hul teenwoordigheid in Pretoria kan dalk die nodige vonk vir die Bulls-kruitvat wees.

“Hul kamp kom Vrydag tot ʼn einde. Sodra hulle terug is, sal hulle weer by die groep inskakel.”

White het in Januarie ʼn noodoperasie aan sy dunderm ondergaan en sedertdien kyk hy met nuwe oë na die lewe en die spel.

“Rugby is fantasties en dit is ʼn voorreg om ʼn afrigter in ʼn toernooi soos die Verenigde Rugbykampioenskap te wees. Ek is steeds ʼn baie mededingende mens, maar hierdie ervaring het beteken dat ek ʼn kopskuif gemaak het oor hoe om die spelers te motiveer en om jou balans in die lewe reg te kry,” het die afrigter destyds gesê.

Die Bulls moet egter ligloop; net soos wen kan verloor ook ʼn gewoonte word.

Bepalings:

25 Maart: Bulls teen Ulster

15 April: Bulls teen Zebre

22 April: Bulls teen Leinster.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.