Oudkapteins meen Iere kan Kiwi’s se tiere wees

Ierland-rugbyondersteuners in Frankryk. (Foto: Christine Poujoulat/AFP)

Ierland het al ʼn hele paar keer oor die kwarteindstryd-hekkie van ʼn Wêreldbekertoernooi gestruikel en nie weer opgestaan nie.

Maar volgens ʼn oudkaptein kan dinge vanjaar anders vir Johnny Sexton se span uitdraai.

Die Iere het maklik met Tonga en Roemenië in die groepfaserondes van die Wêreldbekertoernooi in Frankryk klaargespeel, terwyl hulle ʼn taai wedstryd teen Suid-Afrika in Parys gewen het.

Dit is egter hul jongste oorwinning van 36 – 14 teen Skotland wat vir Brian O’Driscoll laat regop sit.

“Die wedstryd teen Skotland was ʼn uitstekende spanvertoning. Hulle was akkuraat en hul samespel het ʼn duidelike waarskuwing aan hul teenstanders in die uitspeelwedstryde gestuur,” het die voormalige agterspeler gesê.

Ierland speel Saterdag in ʼn kwarteindstryd van die rugbyskouspel teen Nieu-Seeland op die Stade de France en O’Driscoll meen dat die All Blacks sal moet uithaal en wys as hulle die Noordelike Halfrond-span wil klop.

Selfs al het die Kiwi’s vier jaar gelede in Japan die Iere met 46 – 14 oorrompel.

“Die senuwees sal natuurlik knaag, maar ons is nou ʼn baie beter span as toe. In 2019 het ons verloor omdat ons dieselfde resep vir ʼn hele paar jaar gevolg het en ons teenstanders was slim genoeg om die wedstrydplan uit te werk. Nou het ons spelpatroon by die veranderende tye in rugby aangepas en ons verdediging is ook aansienlik beter.”

Nog ʼn oudkaptein, Rory Best, meen dat Ierland selfs beter in die uitspeelwedstryde kan speel.

“ ʼn Mens kry die gevoel dat die span na selfs ʼn hoër rat kan oorskakel. Almal kyk vas teen ons swak Wêreldbekervertonings teen Nieu-Seeland, maar ek glo dat ons die gunstelingspan is om die wedstryd te wen,” het Best gesê.

Ierland en Nieu-Seeland speel Saterdag om 21:00 in Parys. Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Ierland se vertonings by Wêreldbekertoernooie:

1987: Kwarteindstryd

1991: Kwarteindstryd

1995: Kwarteindstryd

1999: Kwarteindstryd-uitspeelwedstryde (’n unieke verskynsel by dié Wêreldbekertoernooi)

2003: Kwarteindstryd

2007: Groepfase

2011: Kwarteindstryd

2015: Kwarteindstryd

2019: Kwarteindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Schalk ·

Soos met elke wereld beker is daar altyd n wedstryd wat n anti-klimaks is, ek sal beslis nie my geld op Ierland sit nie. Om die All Blacks af te skryf is n reuse fout, veral as jy nou jouself verwys as n gunsteling, en dan boonop n briljante rekord as n kwarteind span het.

Jackie ·

Hoop die All Blacks wen. Al is dit net om ou Sexton se dag te belemmer.

Niklaas ·

Ek sal nie geld wed op die kanse van enige van AB’s teen Ierland nie. Dit gaan een titaniese stryd wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.