Oudrugbybaas sê dit was g’n ‘Suzie’ se skuld

Joel Stransky het die wen-skepskop in die 1995 Wêreldbeker deur die pale gejaag. Foto: Facebook.

Ed Griffiths, die voormalige uitvoerende hoof van SA Rugby, voer aan dat die All Blacks vir hul eie voedselvergiftiging-ondergang op die vooraand van die 1995-Wêreldbekereindstryd teen Francois Pienaar se Springbokke verantwoordelik was.

Pas nadat die Bokke Sean Fitzpatrick se magtige All Blacks-span – wat baie ontleders as die beste Nieu-Seelandse span nóg bestempel – met 15 – 12 op Ellispark geklop het, is riemtelegramme die wêreld ingestuur dat die Kiwi’s voedselvergiftiging opgedoen het.

En die hoofverdagte was die misterieuse hotelkelnerin, genaamd Suzie.

Die Nieu-Seelandse afrigter van daardie tyd, die legendariese Laurie Mains, het selfs ’n private speurder aangestel om ondersoek in te stel.

“My vrou het ’n private speurder in Suid-Afrika geken en ons het hom gekontak om te kyk wat hy kan uitvind, aangesien ons geweet het dat ons op ons eie nie veel wyser sou word nie,” het Mains gesê.

Volgens Mains het ’n tikkie knap speurwerk gesorg dat hulle ’n verdagte in die visier gehad het.

Laurie Mains (Foto odt.co.nz)

Laurie Mains. Argieffoto.

“Hy kon vasstel dat die hotel twee dae voor ons aankoms ’n werker aangestel het; sy het egter ’n dag nadat ons siek geword het van die aardbodem verdwyn.”

Maar, sê Griffiths, dit was eerder ’n verdagte seekoshappie wat die hoofsondebok was.

“Kyk, dit is ’n feit dat vyf of ses van hul spelers met ’n omgekrapte maag gesukkel het, en ek onthou hoe Marc Ellis langs die veld opgegooi het,” het Griffiths gesê.

Jeff Wilson en hul losskakel, Andrew Mehrtens, het ook kwaai onder die kwaal deurgeloop.

“Al wat ek daaroor kan sê, is dat hulle seekos gehad het – so ’n mengelmoes van garnale, kreef en nog dinge – ’n dag of wat voor die eindstryd. Die meeste mense weet dat seekos jou voedselvergiftiging kan gee.

“Almal het oor ‘Suzie’ van Southern Sun gepraat en daar was ’n spul gerugte wat die ronde gedoen het. Tog hou ek voet by stuk dat dit hul eie keuse was wat hulle geëet het; niemand het hulle gedwing om seekos ’n paar dae voor die eindstryd te eet nie.”

Die Bok-kaptein, Francois Pienaar, was ook skepties oor die voorval.

“Dit is ongelooflik indrukwekkend as hulle in bykomende tyd teen daardie tempo kon speel as hulle vergiftig was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gerhard ·

Ek glo as die All Blacks daai dag gewen het, sou daar natuurlik geen sprake van enige Suzie gewees het nie…slegs verskonings.

Raadslid ·

Ongeag wie wat geëet het en wie se keuse dit was bly die feit dat meer as die helfte van die span ongesteld was en nie hul beste kon lewer nie. Dit het in SA se guns op die telbord gewys. Vandag weet ons dat die impak van die “oorwinning” was dat dit die verval in kommunisme versnel het en die oorwinning glad nie meer die soet smaak wat dit in 1995 gehad het, het nie.

Amatambo ·

Feit is, Raadslid, dat hoewel die kommunisme nog nie diep in ons “nuutgevonde S.A.” onder Mandela – die “HEILIGE” -se pasaangestelde leier – posgevat het nie, moet in gedagte gehou word dat hy, die “HEILIGE” self ‘n hoogstande amptenaar van die kommunistiese party was – maar hy het natuurlik geweet dat die ou slagspreuk: “Softly, softly catchee monkey” baie veelseggend was – en steeds is… en hy het geweet hy moet sy kaarte goed speel om die algemene publiek nie op hol te jaag nie…

Frans ·

Verskonings-verskonings.Die Bokke moes verder gewen het,want Morrison het uiteindelik 20 jaar later erken dat die Springbokke heel waarskynlik wel ‘n drie deur Kruger gedruk het.Hy het ook erken dat hy gedink het dat die All Blacks nie sou verloor het omdat hul so goed was.

Die drie sou ekstra tyd onnodig gemaak het.

twaalfboor ·

Bla bla bla…… altyd verskonings. Wat was hul verskonings nou weer toe hulle laasjaar nie in die “finals” was nie? Klomp cry babies nes die Ausies en Pommies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.