Oudspelers bevraagteken Rose se ingesteldheid

Engeland se Marcus Smith. Foto: Ian Kington/AFP.

ʼn Begeesterde Engeland-span het die afgelope Saterdag binne tien minute ʼn agterstand van 6 – 25 uitgewis om ʼn gelykopuitslag teen die All Blacks op Twickenham af te dwing.

Maar met die Kiwi’s teen die planke en die Rose op die voorvoet, het die Engeland-losskakel Marcus Smith die bal oor die kantlyn geskop.

As jy ooit gewonder het hoe ʼn antiklimaks op die rugbyveld lyk, was daardie skop sekerlik die perfekte illustrasie.

Nou meen James Parson, oudkaptein van die Blues-rugbyspan, dat die Engelsmanne ʼn paniekaanval gekry het toe hulle die uitklophou moes geplant het.

Dit laat ʼn mens oor die Rose se ingesteldheid wonder – is hulle tevrede met ʼn gelykopuitslag? Daar was immers net 14 Nieu-Seelanders op die veld wat verbouereerde spel opgedis het en ʼn geskiedkundige oorwinning was binne die tuisspan se bereik.

“Ek dink hulle het paniekbevange geraak en wou waarskynlik net so gou as moontlik van die veld gekom het,” het Parsons op die Aotearoa Rugby Pod gesê.

Smith, wat met sy uitstekende breekslag die Engelse se herlewing ingelui het, was aanvanklik angstig om die bal aan die rol vir ʼn moontlike sege te sit.

“Hy het beslis nie enige tyd gemors toe hy sy laaste doelskop oor die dwarslat gejaag het nie. Hy het die bal geskop, omgedraai en terstond na die halflyn gehardloop. Maar toe hy die bal in die daaropvolgende beweging uitgeskop het, kon jy sien dat hy nie gelukkig was nie – ʼn paar van die voorspelers het hom beslis ook aangemoedig om dit te doen.”

Matt Dawson, die voormalige Engeland-skrumskakel, skryf in sy BBC-rubriek dat Engeland se benadering hom stom geslaan het.

“Ek wil hê dat die span hul ingesteldheid moet regkry. Hulle moet veel eerder meedoënloos wees wanneer die momentum aan hulle kant is, as om tevrede met ʼn gelykopuitslag te wees.”

Die Springbokke sal beslis hierdie naweek op hul stukke moet wees wanneer hulle met die Rose op Twickenham kragte meet, maar dalk haal die tuisspan net weer hul voet van die versnelpedaal af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Bokke en meeste ander spanne sou dit ook gedoen het. Dis nie aldag dat jy ‘n kans kry om selfs gelykop teen die AB’s te speel nie.

Niklaas ·

Engeland het nou bloed geruik , maar ons Bokke is reg hulle

Republikein in die Wes Kaap ·

Die AB sou in die laaste sekondes ‘n drie druk of strafskop kry. Dan moes jy die kritiek hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.