Ox lank op kantlyn

Springbok-stut Ox Nche. (Foto: Facebook / Ox Nche)

Die Springbok-stut Ox Nche sal waarskynlik weke lank op die kantlyn wees nadat hy Dinsdag ’n borsspierbesering opgedoen het.

Dit het Bokafrigter Jacques Nienaber gedwing om vinnig veranderings aan sy span te maak enkele dae voor die Springbokke se kragmeting teen die Wallabies tydens die eerste wedstryd van die Rugbykampioenskap op Loftus Versfeld in Pretoria.

Steven Kitshoff sal Saterdag Nche se plek in die voorry saam met Frans Malherbe en Bongi Mbonambi inneem.

Kitshoff sou Dinsdag saam met ʼn groep Bokspelers na Nieu-Seeland vertrek om vir die span se wedstryd teen die All Blacks volgende Saterdag voor te berei. Hy het egter op die nippertjie agtergebly in afwagting op Nche se prognose.

Die Bulle-stut en voormalige junior Springbok Gerhard Steenekamp is ook nou na die nasionale span opgeroep omdat Nche waarskynlik so lank buite aksie gaan wees.

Die 26-jarige Steenekamp het Woensdag reeds sy eerste oefensessie bygewoon en sal vanaand na Nieu-Seeland vertrek om saam met die res van die span daar te oefen. Bokke wat Dinsdag na dié land vertrek het, sluit in Cheslin Kolbe, Jesse Kriel, Malcolm Marx, Lood de Jager, Makazole Mapimpi en Franco Mostert.

Die Stormers se Steven Kitshoff. (Foto: Twitter/Stormers)

Ervare stut Trevor Nyakane oefen tans ook saam met die span in Pretoria en sal op bystand wees indien die Bokke nog teëspoed ondervind.

“Dit is nooit ideaal om ʼn speler enkele dae voor ʼn belangrike toetswedstryd weens ʼn besering te verloor nie, maar dit is ongelukkig deel van die spel,” sê Nienaber.

“Ons is veral hartseer vir Ox se onthalwe want hy het baie hard gewerk die afgelope paar maande en lewer ʼn wesenlike bydrae tot die span op en van die veld. Ons wens hom ʼn spoedige herstel toe.”

Nienaber sê dis wel ’n silwerrandjie om goeie spelers soos Kitshoff en Nyakane te hê om op terug te val.

“Ons benadruk nog altyd die belangrikheid daarvan om as ’n span aanpasbaar te wees, en dit sal veral van belang gedurende die Rugbykampioenskap, die Wêreldbeker-oefenwedstryde en die eindelike skouspel self wees.”

Saterdag se span lyk nou só:

15 – Willie le Roux (Toyota Verblitz)

14 – Canan Moodie (Vodacom Bulls)

13 – Lukhanyo Am (Cell C Sharks)

12 – André Esterhuizen (Harlequins)

11 – Kurt-Lee Arendse (Vodacom Bulls)

10 – Manie Libbok (DHL Stormers)

9 – Cobus Reinach (Montpellier)

8 – Duane Vermeulen (kaptein, Ulster)

7 – Pieter-Steph du Toit (Toyota Verblitz)

6 – Marco van Staden (Vodacom Bulls)

5 – Marvin Orie (DHL Stormers)

4 – Jean Kleyn (Munster)

3 – Frans Malherbe (DHL Stormers)

2 – Bongi Mbonambi (Cell C Sharks)

1 – Steven Kitshoff (DHL Stormers)

Plaasvervangers:

16 – Joseph Dweba (DHL Stormers)

17 – Thomas du Toit (Cell C Sharks)

18 – Vincent Koch (Stade Français)

19 – RG Snyman (Munster)

20 – Evan Roos (DHL Stormers)

21 – Deon Fourie (DHL Stormers)

22 – Grant Williams (Cell C Sharks)

23 – Damian Willemse (DHL Stormers).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christo ·

Gee nie om nie. Kyk eerder American football of baseball. Minstens word die spanne op meriete gekies

piet ·

Ek weet nie hoe hulle vir Steenekamp gekies het nie. Die Bulls se skrum is die hele jaar opgefrommel deur ander spanne. Baie vreemde keuse. Ek sou vir Mchunu gekies het, baie beter as die wit kwota wat gekies is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.