Parys is nie Bokke, All Blacks se eerste WB-rodeo

Joel Stransky het die wen-skepskop in die 1995 Wêreldbeker deur die pale gejaag. (Foto: Facebook/All Blacks.)

Saterdag se eindstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Parys is nie die twee rugbylande se eerste Wêreldbeker-rodeo nie.

Die Springbokke en die All Blacks was al vyf keer vantevore slaags by die internasionale rugbyskouspel en die Kiwi’s het drie van dié wedstryde gewen.

Tog spog die Bokke met ʼn 100%-eindstrydwenrekord, danksy hul triomf in 1995.

Hier volg ʼn kort beskrywing van Suid-Afrika en Nieu-Seeland se Wêrelbeker-tweestryde:

1995: Springbokke 15 – 12 All Blacks (eindstryd)

Om ʼn sêding by byderwetse Amerikaners te leen: Die 1995-eindstryd is die OG (soos in original gangster) van Wêreldbeker-ontmoetings tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland.

Die telling was 9 elk toe die eindfluitjie op Ellispark geblaas het, waarna Joel Stransky en Andrew Mehrtens elk ʼn strafskoppoging oor die dwarslat in bykomende tyd gejaag het.

Dit was egter Joost van der Westhuizen se komkommerkoel aangee en Stransky se skerpskutter skepskop wat die eindstryd vir Suid-Afrika beklink het.

Die Bokke het met 15 – 12 gewen en Francois Pienaar kon die Webb Ellis-trofee omhoog hou.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Strafskoppe: Joel Stransky (3). Skepskoppe: Stransky (2).

Nieu-Seeland: Strafskoppe: Andrew Mehrtens 3. Skepskop: Mehrtens.

1999: Springbokke 22 – 18 All Blacks (bronsmedaljewedstryd)

Die Springbokke het hul halfeindstryd-ontmoeting teen die Wallabies met 27 – 21 op Twickenham verloor (wie onthou nog Stephen Larkham se skepskop?) en hulle was oorgehaal om die All Blacks in die bronsmedaljewedstryd in Cardiff te klop.

Breyton Paulse het die enigste drie van die wedstryd gedruk, terwyl Percy Montgomery in die kol met twee skepskoppogings in Suid-Afrika se oorwinning was.

“Ons wou vir onsself, ons eer en vir ons land wen,” het Joost van der Westhuizen (kaptein) na afloop van die kragmeting gesê.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drie: Breyton Paulse. Doelskop: Henry Honiball. Strafskoppe: Honiball (3). Skepskoppe: Percy Montgomery (2).

Nieu-Seeland: Strafskoppe: Andrew Mehrtens (6).

2003: All Blacks 29 – 9 Springbokke (kwarteindstryd)

Nieu-Seeland het sy eerste Wêreldbeker-oorwinning teen Suid-Afrika in styl met drie drieë in Melbourne gevier, terwyl Carlos Spencer ʼn barshou in die no. 10-trui gespeel het.

Die All Blacks is egter in die halfeindstryd deur Australië uitgeskakel.

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Keven Mealamu, Joe Rokocoko en Leon MacDonald. Doelskop: MacDonald. Strafskoppe: MacDonald (3). Skepskop: Aaron Mauger.

Suid-Afrika: Strafskoppe: Derick Hougaard (3).

2015: All Blacks 20 – 18 Springbokke (halfeindstryd)

Handré Pollard het al in 2015 gewys dat hy ʼn speler vir die groot oomblik is toe hy vyf strafskoppe oor die dwarslat op Twickenham gejaag het.

Die All Blacks het egter die enigste drieë van die wedstryd – danksy Beauden Barrett en Jerome Kaino – gedruk en hulle het genoeg gedoen om die kragmeting met twee punte te beklink.

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Beauden Barrett en Jerome Kaino. Doelskoppe: Dan Carter (2). Strafskop: Carter. Skepskop: Carter.

Suid-Afrika: Strafskoppe: Handré Pollard (5) en Pat Lambie.

2019: All Blacks 23 – 13 Springbokke (groepfase)

Die All Blacks het weliswaar die eerste slag in Groep B met hul oorwinning van tien punte in Japan geslaan, maar die Springbokke is ʼn paar wedstryde later as die Wêreldkampioenspan gekroon.

Nieu-Seeland het juis vanjaar – nadat hulle die openingswedstryd teen Frankryk verloor het – na dié 2019-wedstryd terugverwys: ʼn Span het dus nie nodig om die groepfase onoorwonne af te sluit om met die uiteindelike louere weg te stap nie.

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: George Bridge en Scott Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (2). Strafskoppe: Mo’unga (2) en Beauden Barrett.

Suid-Afrika: Drie: Pieter-Steph du Toit. Doelskop: Handré Pollard. Strafskop: Pollard. Skepskop: Pollard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Ek stem saam. Ek dink nie die All Blacks gaan hul tweemaal met dieselfde slap riem laat vang nie. Die risiko is bitter groot. Wees maar seker dat Pollard en Faf geteiken sal word met die doel om hul te beseer ….

Pawiljoen Rot ·

He’s in your heeeaaad… In your heeeeeaaaaad… RASSIE… RASSIE… RASSIE…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.