Rose wil teen Bokke blom

Owen Farrell. Foto: Gabriel Bouys/AFP.

Eddie Jones wil nie vervelige rugby teen die Springbokke speel nie; aikôna, die uitgeslape afrigter wil aan die Twickenham-skare ʼn skouspel bied.

“Ons kan nou voortbou op die vordering wat ons in die vorige wedstryde gemaak het,” het die 62-jarige breier gesê.

Die Rose het verlede naweek vriend en vyand verras toe hulle binne tien minute ʼn agterstand van 6–25 teen die All Blacks uitgewis het.

“Ons het die geleentheid om onsself teen die wêreldkampioenspan te meet en ons wil vir ʼn vuurwerkvertoning sorg. Die skare was ongelooflik tydens die toets teen die All Blacks en ons wil hard werk sodat daar Saterdag weer ʼn soortgelyke atmosfeer is.”

Owen Farrell sal die span aanvoer, terwyl Freddie Steward, Tommy Freeman en Jonny May vir ʼn goeie agterste driehoek sorg.

Marcus Smith, wat met sy uitstekende breekslag die Rose se herlewing teen die Kiwi’s ingelui het, sal die no. 10-trui dra.

Nadat Jones vroeër die week daarop gesinspeel het dat Maro Itoje deel van die lostrio sal wees – “om die Springbokke se voorliefde vir skoppe te neutraliseer” – is daar bevestig dat die 28-jarige speler die slotkombinasie met Jonny Hill vorm.

Daar word ʼn fel stryd in die skrums verwag en die Springbok-voorry sal teen Mako Vunipola, Jamie George en Kyle Sinckler te staan kom.

Engeland: Freddie Steward (heelagter), Tommy Freeman (regtervleuel), Manu Tuilagi (buitesenter), Owen Farrell (kaptein en binnesenter), Jonny May (linkervleuel), Marcus Smith (losskakel), Jack van Poortvliet (skrumskakel), Billy Vunipola (agtsteman), Tom Curry (flank), Alex Coles (flank), Jonny Hill (slot), Maro Itoje (slot), Kyle Sinckler (stut), Jamie George (haker) en Mako Vunipola (stut). Plaasvervangers: Luke Cowan-Dickie, Ellis Genge, Will Stuart, David Ribbans, Sam Simmonds, Ben Youngs, Henry Slade en Jack Nowell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

De Villiers ·

Hier kom ding!

Die Bokke gaan potpourri van die Rose maak!

Boksombende ·

Ek dink dit gaan ‘n goeie wedstryd wees, maar ek glo nie die Bokke is opgewasse hiervoor nie. Ons mis baie sleutel spelers, en ons het nie ‘n behoorlike skopper nie. Sal maar moet wag en sien.

Andries ·

Droom solank lekker van n vuurwerkvertoning.
All Blacks is” softies”

JohanR ·

Het Suid Afrika ‘n skopper……’n rerige skopper, want Engeland het en hy is in die begin span?

Vrijburger ·

Terloops, het Bafana-Bafana nog nie gespeel nie, of waarom het ek nog nie wedstryd uitslae van julle in die media gesien nie?

Harley Davidson ·

Ek hoop die Engelse wen met ‘n rekord getal punte.

Manie ·

Wil Nienaber vir oulaas vir Bakkies, onfiks en al op die bank kies en hom in die laaste 10 minute as binnesenter opstuur sodat hy vir Owen Farrel behoorlik kan bykom. Ek kan nie wag dat iemand die mannetjie vir ‘n slag goed bykom en van sy eie medisyne gee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.