Sewesglorie wink vir Blitsbokke in LA

Die Suid-Afrikaanse sewesspan sal hierdie naweek probeer om die wêreldtitel in Los Angeles te wen. Foto: Twitter.

Die HSBC-sewestitel is hierdie naweek in Los Angeles op die spel en Suid-Afrika se Neil Powell weet presies wat van sy span verwag word om met die reekslouere weg te stap.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het vroeër amok met die internasionale sportkalender gemaak en die internasionale sewesreeks moes ook daarby aanpas.

Die finale punteleer sal bepaal word deur die deelnemende lande se sewe beste vertonings van die afgelope seisoen in berekening te bring. Dit beteken dat Fidji – wat tans vierde op die punteleer is – nog met die titel kan wegstap as hulle die silwerware in Los Angeles omhoog hou en die Suid-Afrikaners terselfdertyd heeltemal uit die bus val.

En bêre maar vir eers jou sakrekenaar om te probeer uitwerk wat die Blitsbokke alles moet doen om heel boaan die punteleer te eindig. Vir Powell is die antwoord op al die somme eintlik heel eenvoudig: Suid-Afrika moet al sy wedstryde wen.

“Ons gaan nie probeer om ’n klomp permutasies te ontrafel nie; ons wil eerder daarop konsentreer om die topspan in Los Angeles te wees,” het die Blitsbok-afrigter gesê.

Suid-Afrika se spel in die begin van die seisoen kan met ’n wegholtrein vergelyk word. Hulle het vier toernooie op ’n streep gewen en hulle het haas onstuitbaar gelyk.

Sedert Januarie is die trein egter lelik ontspoor en hulle kon met niks beter as ’n vyfde plek in die afgelope paar toernooie tevrede wees nie.

Tog het hul puik vertoning in die Statebondspele weer vir broodnodige momentum gesorg.

“Die ouens se selfvertroue het ’n welkome hupstoot ná die sukses in Birmingham gekry, maar dit is nou iets van die verlede. Ons is nou in ’n baie taai groep en oudergewoonte sal ons vanuit die staanspoor ons stempel op die toernooi wil afdruk.”

Die Blitsbokke se eerste wedstryd is Saterdagaand (SA tyd) teen die VSA, terwyl hulle later ook teen Kanada en Nieu-Seeland sal kragte meet.

Blitsbok-span: Sako Makata, Ryan Oosthuizen, James Murphy, Zain Davids, Angelo Davids, JC Pretorius, Branco du Preez, Darren Adonis, Shaun Williams, Dewald Human, Shakes Soyizwapi (kaptein), Muller du Plessis en Shilton van Wyk.

Bepalings:

  • Saterdag:

18:20 teen die VSA

21:26 teen Kanada

  • Sondag:

00:59 teen Nieu-Seeland.

Hoe dinge op die HSBC-punteleer lyk:

  1. Suid-Afrika 124 punte
  2. Australië 122 punte
  3. Argentinië 118 punte
  4. Fidji 104 punte
  5. Ierland 92 punte
  6. VSA 84 punte
  7. Frankryk 81 punte
  8. Engeland 70 punte
  9. Nieu-Seeland 58 punte
  10. Samoa 56 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.