Sir Clive meen Rose kan Bokke klop

Sir Clive Woodward. (Foto: Gbariel Bouys/AFP)

Sir Clive Woodword het die pot lelik misgesit met sy voorspelling oor die Noordelike Halfrond-spanne se vertoning in die afgelope naweek se Wêreldbeker-kwarteindstryde. Nou loop hy en vertel Engeland het niks te vrees vir hul opkomende ontmoeting teen die Springbokke nie.

Die voormalige Engeland-afrigter het verlede week in sy Daily Mail-rubriek voorspel dat die Noordelike Halfrond-spanne té sterk vir hul Suidelike Halfrond-teenstanders in die kwarteindstrydronde van die toernooi in Frankryk sou wees.

Nou ja, Ierland, Frankryk en Wallis het in die stof gebyt en net Engeland kon na die halfeindstryd van die rugbyskouspel deurdring.

Maar in sy jongste skryfstuk sprak hy gʼn sprook oor sy Nostradamus-flater nie. Aikôna, hy besing net die Rose se lof, al moes hulle maar met ʼn broekskeursege teen Fidji tevrede wees.

“Sondag was ʼn fantastiese dag vir England-rugby en vir Steve Borthwick. Dit was ʼn bewys dat Engeland niks van Suid-Afrika behoort te vrees wanneer hulle Saterdagaand teen mekaar in Parys speel nie,” het Woodward geskryf.

Die 67-jarige oudafrigter glo Borthwick het  ʼn slag teen Fidji geslaan toe hy vir Owen Farrell in die no. 10-trui gekies het.

“Om vir Farrell op losskakel te kies was die regte besluit; hy kan nie binnesenter speel nie. Borthwick moes erken dat hy ʼn spankeusefout ʼn paar dae vantevore teen Samoa gemaak het en hy verdien ʼn klop op die skouer vir sy jongste span.”

Volgens Woodward was dit die nuwe Engeland-afrigter se beste dag aan die stuur van die Rose.

“Baie mense het nie met die losskakelbesluit saamgestem nie, maar dit was die rede vir Engeland se sukses en Farrell is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.”

Hoewel die Rose “fisieke en briljante” spel opgedis het, was hy ook beïndruk met die eilandmanne se vertoning.

“Fidji het my verras met hul vertoning – hulle was fantasties – maar Engeland is ʼn goeie Wêreldbeker-span. Hulle het in 2019 in die eindstryd gespeel en nou tel hulle weer eens onder die vier topspanne waar hulle met reg kan dink dat hulle enige teenstander kan ore aansit.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Oom, ons sal jou maar eerder nie dié keer glo nie. SIEN is glo … ek dink – al ondersteun ek nie die Bokke nie – sal hulle die Rose heel gemaklik kan klop.

latie ·

FIDJI KON GEWEN HET AS DAAR GOEIE SKOPPER WAS WAT DAN ??KON DIE ENGELSE VERLOOR HET

Chris ·

Ek het gedog die outjie is slim oorlat hulle hom ‘n Sir gemaak het. Met die kommentaar sal ‘n Lord vir seker beter gepas gewees het. Ek kan nie verstaan dat mense onderdagte openbare kommentare maak nie. Sit ‘n wag voor jou mond.

Hennie Biebouw ·

Op dié stadium van die toernooi, kan enige span op enige dag ‘n wedstryd wen. Ek glo nie die Bokke sal die fout maak om vir ‘n oomblik te dink die westryd teen Engeland gaan hoegenaamd maklik wees nie. Maklik gaan dit beslis nie wees nie.

Fran ·

Die Bokke het ‘n baie baie harde wedstryd Sondag gespeel. Hulle is seer. Dis seker nie onmoontlik dat die Engelse hulle die naweek kan wen nie. Ek glo Rassie is bewus daarvan en dat die manne reg sal wees. Ons moet nooit dink ons is die kat se snor nie. dit is wanneer jy die hardste val.

Mnr De Beer ·

Presies wat met Ierland gebeur het. Ek glo hulle het All Blacks te veel onderskat.

Thomas ·

Op die stadium van die geveg is als moontlik Sir Clive. Maar………….. die Bokke is reg vir oorlog pappie!!!!!!!!!!!!!

Niklaas ·

Almal glo vas dat die Bokke deur na die eindstryd gaan drentel. Engeland het tot dusver rustige spel gelewer. Hul mag dalks net vreeslik verras.

Casper ·

In 2019 het ons teen NZ verloor en die wêreldbeker gewen.In 2023 verloor ons teen Ierland maar ons is klaar in die semi-finaal.Was dit so beplan deur Rassie en kie.In 2019 in die finaal was die telling 32-12 in die bokke se guns.Ons het weer dieselfde span met Kurt Lee Arendse ‘n troefkaart.Ons het die Engelse in die skrums vermorsel en dit was die grondslag gelê word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.