Skokweglatings uit Engelse se Wêreldbekerspan

Henry Slade (Foto: Action Foto Sport / NurPhoto / NurPhoto via AFP)
(Photo by Action Foto Sport/NurPhoto) (Photo by Action Foto Sport / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het Maandag die senter Henry Slade uit die Engelse se span vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk weggelaat.

Slade was deel van die span wat vier jaar gelede in die eindstryd teen Suid-Afrika gespeel het. Hy het vanjaar in 30 van die laaste 37 wedstryde vir die span gespeel.

Joe Marchant sal nou sy plek inneem. Marchant het die afrigter beïndruk ondanks Saterdag se teleurstellende nederlaag van 29 – 9 teen Wallis.

Borthwick moes – nes talle ander afrigters – moeilike besluite neem oor die span wat hy na die skouspel gaan stuur.

“Goeie spelers het na agt weke se wedywering en voorbereiding nie die Wêreldbekerspan gehaal nie,” het Borthwick gesê.

Borthwick het ook die besluit om sy span effe vroeër bekend te maak verdedig – met oefenwedstryde teen Wallis, Ierland en Fidji wat nog voor die spertyd later vandeesmaand gespeel word.

“Ons glo dat die vroeëre bekendmaking van die groep duidelikheid en sekerheid sal bring. Dit sal die spelers soveel moontlik tyd gee om as span te verenig en te ontwikkel.”

Die weglating van Alex Dombrandt beteken dat Billy Vunipola die enigste spesialis-agsteman is wat na Frankryk gestuur word.

Vunipola is gekies al het hy sedert April weens twee knie-operasies nie gespeel nie en hy die ganse Sesnasies-reeks weens ʼn  gebrek aan spelpeil misgeloop het.

Lewis Ludlam, Ben Earl en Tom Curry is ook op pad Frankryk toe om die nommeragt-posisie te vul, saam met ʼn veelsydige groep van vyf voorspelers wat die Leicester-duo Ollie Chessum en George Martin insluit.

Ander groot name wat ook vanjaar tuis bly, is die vleuels Jonny May en Joe Cokanasiga. Albei het vier jaar gelede ook vir Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd gespeel.

Engeland sal Argentinië, Japan, Samoa en Chili in Groep D teëkom.

Só lyk die Engelse se span vir die Wêreldbekertoernooi:

Voorry:

Stutte: Dan Cole (Leicester), Ellis Genge (Bristol), Joe Marler (Harlequins), Bevan Rodd (Sale), Kyle Sinckler (Bristol), Will Stuart (Bath)

Hakers: Theo Dan (Saracens), Jamie George (Saracens), Jack Walker (Harlequins)

Slotte: Ollie Chessum (Leicester), Maro Itoje (Saracens), David Ribbans (Toulon/FRA)

Losvoorspelers: Tom Curry (Sale), Ben Earl (Saracens), Courtney Lawes (Northampton), Lewis Ludlam (Northampton), George Martin (Leicester), Billy Vunipola (Saracens), Jack Willis (Toulouse/FRA)

Agterspelers:

Skrumskakels: Danny Care (Harlequins), Ben Youngs (Leicester), Jack van Poortvliet (Leicester)

Losskakels: Owen Farrell (Saracens), George Ford (Sale), Marcus Smith (Harlequins)

Vleuels: Max Malins (Bristol), Anthony Watson (geen klub), Elliot Daly (Saracens)

Senters: Ollie Lawrence (Bath), Joe Marchant (Stade Français/FRA), Manu Tuilagi (Sale)

Heelagters: Henry Arundell (Racing 92/FRA), Freddie Steward (Leicester).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.