Skotte wil doedelsakke laat blêr in Parys

Jamie Ritchie en Skotland is oorgehaal om hul beste rugby teen Ierland te speel. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Franse rugbyliefhebbers trek gereeld weg met ʼn spontane weergawe van “La Marseillaise” by die Wêreldbekerwedstryde.

Maar Saterdag in Parys sal Skotland se ondersteuners hoop dat ʼn doedelsakbegeleide weergawe van “Flower of Scotland” ook in die Stade de France gehoor sal word.

Skotland moet ordentlik met Ierland afreken om na die uitkloprondes van die rugbyskouspel in Frankryk te vorder en volgens Blair Kinghorn is die span oorgehaal vir sukses.

“Ons het nie eintlik veel van ʼn keuse nie: Ons móét wen,” het die 26-jarige agterspeler gesê.

Kinghorn, wat in sy 50ste toets sal speel, glo dat Skotland oor die spelers beskik om die wa deur die drif te trek.

“As ʼn rugbyspeler wil jy in die belangrike toetse speel en hierdie is vir baie van ons die grootste wedstryd van ons loopbaan. Terselfdertyd is daar weliswaar ʼn paar senuweeskoenlappers wat rondfladder, maar dit beloof om ʼn wonderlike aand te wees.”

Gregor Townsend het vroeër gesê dat wanneer Skotland op alle suiers vuur, hy mededingende rugby teen die wêreld se voorste spanne kan speel.

En Kinghorn het heelhartig met sy afrigter saamgestem.

“Ons moet net speel soos wat ons kan; dit is immers die perfekte geleentheid om dit te doen.”

Maklik gaan dit gewis nie wees nie, in die afgelope wedstryde tussen die twee lande swaai Ierland ongetwyfeld die septer, terwyl Johnny Sexton in die laaste 12 jaar nog nie een keer teen Skotse teenstanders verloor het nie.

Nie in die trui van Leinster óf Ierland nie.

Die wedstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Skotland: Blair Kinghorn (heelagter), Darcy Graham (regtervleuel), Huw Jones (buitesenter), Sione Tuipulotu (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Finn Russell (losskakel), Ali Price (skrumskakel), Jack Dempsey (agtsteman), Rory Darge (flank), Jamie Ritchie (kaptein en flank), Grant Gilchrist (slot), Richie Gray (slot), Zander Fagerson (stut), George Turner (haker) en Pierre Schoeman (stut). Plaasvervangers: Ewan Ashman, Rory Sutherland, WP Nel, Scott Cummings, Matt Fagerson, Luke Crosbie, George Horne en Ollie Smith.

Ierland: Hugo Keenan (heelagter), Mack Hansen (regtervleuel), Garry Ringrose (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), James Lowe (linkervleuel), Johnny Sexton (kaptein en losskakel), Jamison Gibson-Park (skrumskakel), Caelan Doris (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Peter O’Mahony (flank), Iain Henderson (slot), Tadhg Beirne (slot), Tadhg Furlong (stut), Dan Sheehan (haker) en Andrew Porter (stut). Plaasvervangers: Ronan Kelleher, David Kilcoyne, Finlay Bealham, James Ryan, Jack Conan, Conor Murray, Jack Crowley en Stuart McCloskey.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Dit gaan een harde stryd wees. As die Skotte wen sal dit egter een verrassing wees , maar nie onmoontlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.