Skouer aan die wiel vir Bokke

Siya Kolisi het met ’n stewige vertoning in die laaste toets teen Wallis beïndruk. Foto: Hansie Linde.

Die Springbokke se volgende dagboekinskrywing is ’n belangrike een: 6 Augustus teen Nieu-Seeland in Mbombela (Nelspruit).

Die Suid-Afrikaners is darem weer op die wenpad nadat hulle die afgelope naweek met Wallis in Kaapstad afgereken het. Danksy hul oorwinning van 30 – 14 het hulle die reeks met 2 – 1 teen Noordelike Halfrond-teenstanders beklink; ’n prestasie wat die All Blacks en Australiërs hulle nie kon nadoen nie.

Ja, die Springbokke het met meer dringendheid as in Pretoria en in Bloemfontein gespeel, maar daar is nog ’n paar haakplekke wat voor die All Blacks-kragmetings, en natuurlik die Wêreldbeker-toernooi, uitgestryk moet word.

Hulle het veral in die eerste helfte die spel oorheers, maar het met tye gesukkel om hul momentum in punte om te skakel. Jy kan dalk met so iets teen Wallis wegkom, maar teen sterker spanne kan die uiteinde veel anders lyk.

Jacques Nienaber was ook nie heeltemal tevrede met sy span se vertoning nie.

Die Springbokke het wel hul beste vertoning vir laaste teen Wallis gelos. Foto: Hansie Linde.

“Dit was nie ’n kliniese vertoning nie en ek dink daar is nog baie goed waarop ons kan verbeter. Ons spel in die vaste fasette het beter gelyk, maar daar was nogtans ’n paar struikelblokke en ons moet nog gewoond raak aan die nuwe skrumreëls,” het die Springbok-afrigter gesê.

Tog was verloor nie deel van die Suid-Afrikaners se woordeskat nie en hulle wou met mag en mening die wedstryd wen.

“Ons het die kragmeting as ’n eindstryd benader en ons moes doodeenvoudig net met ’n stewige vertoning vorendag kom.”

Siya Kolisi – kaptein – was ook tevrede met die uitslag van die wedstryd.

“Baie mense het iets oor die span te sê gehad. Ek glo dit is goed as mense oor die span praat en kritiek lewer want dit beteken dat hulle omgee. Juis daarom het ons die wedstryd met die erns van ’n eindstryd benader,” het Kolisi gesê.

Komende bepalings:

6 Augustus teen Nieu-Seeland

13 Augustus teen Nieu-Seeland

27 Augustus teen Australië

3 September teen Australië

17 September teen Argentinië

24 September teen Argentinië

5 November teen Ierland

12 November teen Frankryk

26 November teen Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter9 ·

Die AB sien uit na hulle toer want hulle is seker dat hulle die toetse gaan wen. Kommentators daar is van mening dat weens die Bokke se gebrek aan bal vaardigheid en onvermoë om met die bal te hardloop dit vir die AB maklik gaan maak op die verdediging, anders as wat die geval teen die Iere was. En almal weet dat die AB beter as die Bokke op aanval is. So vir hulle is dit ‘n geleentheid om weer hul selfvertroue terug te kry. Net bly ons speel nie teen die Iere nie.

piet ·

Ierland het die AB’s in ‘n nasionale krisis ingespeel. Dis ‘n absolute plesier om die Ierse agterlyn in aksie te sien. Kop en skouers bo enige ander land wat agterlynspel aanbetref. Frankryk kom waarskynlik naaste in hierdie stadium.

SjN ·

Skouer aan die wiel klink reg, maar laat no 9 sy voet van die bal af hou!!

Kobus ·

100% korrek mnr die afrigter. Klinies = jy kyk na die spelel wanneer / indien jy die bal uitgee. Nie voor jou kyk en die bal weggooi nie. Ons agterlyn het baie goeie spelers maar die gebrek aan visie laat hulle maar gemiddeld lyk

piet ·

Ek sal graag wil sien dat ons vir Australie vir ‘n slag in Australie klop. Dis onaanvaarbaar dat ons hulle nie daar kan klop nie. Hier het Engeland dit sommer 2 naweke in ‘n ry gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.