So naby, maar tog so ver vir Stormers

Die Stormers het met een punt teen La Rochelle in Kaapstad verloor. (Foto: Hansie Linde)

Daar was vandag hope opwinding, aksie en drama op die DHL-stadion, maar daar is ook nou teleurstelling in die Kaap.

Die Stormers het hul Kampioenebeker-kragmeting teen La Rochelle met 22 – 21 verloor met die Fransmanne wat na die kwarteindronde van die toernooi deurdring.

Die tuisspan kon vandag – net soos in Desember se groepwedstryd op die einste stadion – die wedstryd in die doodsnikke beklink het, maar Manie Libbok kon dié keer nie sy skopheldedade van vroeër herhaal nie.

Dit was egter die Kapenaars wat met die sterkste vertoning in die eerste helfte vorendag gekom het. Herschel Jantjies het ʼn juweel van ʼn drie gedruk nadat Warrick Gelant en Libbok onder meer die bal laat loop het, dan was die skrummasjien geolie en hulle kon hul man op verdediging staan.

Met ʼn rustydvoorsprong van 13 – 0 was die Kaap inderdaad Hollands.

Herschel Jantjies het die Stormers se drie in die eerste helfte gedruk. (Foto: Hansie Linde)

Maar La Rochelle se wedstrydgroep is gelaai met internasionale spelers en in die tweede helfte kon ʼn mens sien waarom hulle die rugbykonings van Europa is.

Die besoekers het met mening onder die tuisspanspelers ingeklim en die Kapenaars het ʼn voorspelerkrisis in die gesig gestaar nadat Hacjivah Dayimani, Deon Fourie, Salmaan Moerat en Ben-Jason Dixon die veld met beserings moes verlaat.

Tussendeur het Louis Penverne, Grégory Alldritt en Joel Sclavi vir telbordmomentum gesorg en skielik het die Franse klubreuse ʼn voorsprong van 22 – 16 geniet.

Tog het die Stormers al vantevore gewys dat hulle na ʼn hoër rat kan oorskakel en terwyl die toeskouers lekker saamgesels het, het hulle aanval ná aanval op die La Rochelle-doellyn geloods.

Oud-Kapenaar Dillyn Leyds is met ʼn geel kaart van die veld gestuur en die besoekers het ook in die skrums gesukkel.

Manie Libbok was in die kol met vier stelskoppe op ’n streep, maar hy het ongelukkig met sy laaste poging gemis. (Foto: Hansie Linde)

ʼn Kort rukkie later het Libbok sy drieskepvaardighede uitgestal toe hy een van sy kenmerkende skoppies sekuur in Suleiman Hartzenberg se gewillige hande gestuur het.

ʼn Suksesvolle doelskop sou beteken dat die Stormers na die volgende ronde vorder, maar met die wind wat deurgaans ʼn faktor was, is die res ongelukkig geskiedenis.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Herschel Jantjies en Suleiman Hartzenberg. Doelskop: Manie Libbok. Strafskoppe: Libbok (3).

La Rochelle: Drieë: Louis Penverne, Grégory Alldritt en Joel Sclavi. Doelskoppe: Antoine Hastoy (2). Strafskop: Halstoy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Dink nie die tweede helfte was naby nie SR het die stormers verniel veral met uitstekende voorspeler spel. En dit op die tuisveld……skandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.