Springbok-vaskopstutte: die manne met die blomkoolore

Jannie du Plessis. Foto: Twitter.

Wanneer daar om die braaivleisvuur gesels word, kry die manne met die blomkoolore en dik nekke eers laataand ʼn woordjie in.

Dan word die staaltjie vertel dat hulle oor ʼn rugbywedstryd in die hemel droom wat net uit skrums bestaan met ʼn oud-stut as skeidsregter.

Die manne is nie die skouponies van rugby nie en van hulle, soos Jannie du Plessis, het in 70 toetse en 149 Superrugbywedstryde nog nie ʼn drie gedruk nie.

Hulle is die ysters van rugby, die ankers van die skrum.

Gaan praat maar met enige afrigter, as jou vaskop die dag knak, is die wedstryd daarmee heen. Dink maar terug aan verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd tussen die Bokke en Engeland in Jokohama, aan die Britse Leeus-toer van 1974, ook toe Johan Strauss die All Blacks in 1976 verwoes het, toe die All Black-keurders in 1956 ʼn bokser, Kevin Skinner, gekies het om die Bokke se vaskop, Jaap Bekker, met sy vuiste te tem.

In die ou dae was daar plaas- en wynboere, soos Piet du Toit, Hempies du Toit en Tommie Laubscher.

Daar was ook die heel slimmes onder hulle, soos prof. Hannes Marais en dr. Jannie du Plessis.

Hulle was van die swaarste spelers in die span, soos Flippie van der Merwe in die tagtigerjare.

Hulle is die manne met die snaakse sêgoed, soos die legendariese Boy Louw, wat in die dertigerjare op sy kruin was.

Wie sal ooit sy “looks at the scoreboard” vergeet?

Louw was eintlik ʼn loskopstut, met sy broer Fanie aan die vaskopkant. Maar Boy het ook vaskop gespeel, asook slot, flank en agtsteman in vyf agtereenvolgende toetse in 1933 en 1937 teen die Wallabies. Dan het hy in 1937 in vier provinsiale wedstryde vir Jan Lotz op haker ingestaan.

Hy het, volgens die skrywer Huw Richards in ʼn toets aan sy kaptein gesê: “Maak jy die toesprake, ek lei op die veld”.

Die vaskopstutte is die manne wat die grootste las in wedstryde dra, en dis hulle wat jare lank nadat hul loopbane verby is, die letsels van die geswoeg dra.

Om een of twee vaskoppe uit te sonder, is baie moeilik, want hoe gaan jy tussen die twee Louw-broers, die twee Du Toit’s, Okey Geffin, Fanie Kuhn, Laubscher, Marais, Van der Merwe, Du Plessis, Cobus Visagie, Balie Swart en Bekker kies?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Estelle ·

Ek wonder nou net, praat ons van va-skopstutte of vas-kopstutte, of moet dit wees vasskopstutte. Ek sukkel altyd met die dubbel medeklinkers. Help my reg asb.

Kokkie ·

Okey Geffin op vaskop?……..seker met Naas Botha agter hom op slot.????????
.

Frans ·

Ja die vaskop kon skop.Het All Blacks moedeloos geskop ,dink was in 1949.

MakersMark ·

Okey was bok vaskopstut in 1949 reeks teen die All Blacks wat bokke met vier toetse teen nul gewen het. Hy het in die reeks 35 van die bokke se 47 punte geskop, insluitende vyf strafskoppe na mekaar wat ‘n wereldrekord was. Die ander hoogtepunt van die reeks was natuurlik Hansie Brewis se drie in die tweede toets op die Parkie in JHB. So met Okey op vaskop en Naas op slot sou die bokke dalk nie al die lynstane gewen het nie maar nog steeds die reeks.

Kokkie ·

Ek laat sak my kop in skaamte en vra die skrywer, Johan Gresse, en die lesers groot om verskoning vir my ietwat sarkastiese kommentaar aangaande Okey Geffin. Hy was inderdaad ‘n stut en word allerweë beskou as die beste Joodse rugbyspeler ooit. Hy was ook ‘n stelskopper by uitnemendheid. En ek het sowaar altyd gedink dat hy ‘n heelagter was. Inderdaad nooit te oud om te leer nie.

Kokkie ·

@Estelle : dit gaan oor die posisie van die spesifieke stut se KOP in die skrum. Die VAS-kop skrum aan die regterkant van die skrum en sy kop word tussen dié van die opposisie se haker en LOS-kop stut ingewig. Daarenteen is die LOS-kop stut se kop nie tússen
twee van die opposisie se koppe nie, maar wel aan die buitenkant van die opposisie VAS- kopstut se kop. Dit het niks met SKOP te doen nie. Laat iemand vir jou ‘n sketsie maak van die twee opponerende voorrye in skrum posisie. En die skrumskakel sit die bal altyd van die LOS-kop kant af in. As ‘n haker die opposisie skrumskakel se ingooi in die skrum wen, dan word daar gesê die haker het ‘n VAS-kop gewen.

Estelle ·

En daar dog ek dit het als met skop te doen. Baie dankie vir jou verduideliking Kokkie. Nou maak die hele skrum woordeskat vir my baie meer sin. Sien, mens is nooit te oud om te leer nie.

Kokkie ·

@Estelle: let ook op die spelling van die twee woorde. In albei gevalle net een S, loskopstut en vaskopstut.

Estelle ·

Ek sien ja. En as ek nou die woorde in my gedagtes sê kan ek werklik die speler in my geestesoog sien in daai posisie. Baie dankie, jys n ster!.

Kokkie ·

Nog ‘n laaste dingetjie, Estelle. Die LOS-kopstut dra die no.1-trui, terwyl die VAS-kopstut die no.3-trui dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.