Taai groep wag op Blitsbokke in LA

Selvyn Davids – Blitsbokkaptein. (Foto: Jeff Vinnick/Getty Images North America via AFP)

Dinge gaan nie veel makliker vir die onbestendige Blitsbok-groep in Los Angeles word nie. Die Suid-Afrikaners is in dieselfde groep as reeksvoorlopers Argentinië en Ierland ingedeel.

Die Blitsbokke het weliswaar verlede naweek se Vancouver-toernooi met ʼn goeie vertoning teen Australië afgesluit, maar die verrassende nederlaag teen Groot-Brittanje en slegte verloor teen Ierland moet nog by die afrigtersgroep spook.

“Die wedstryd teen Australië het ons vermoëns op die sewesveld onderstreep. Tog is dit ʼn feit dat ons meer bestendige spel moet begin opdis. Ons kan dit nie bekostig om geestelik onvoorbereid te wees nie,” het Sandile Ngcobo gesê.

Volgens die Blitsbok-afrigter weet hy dat sy spelers goed genoeg is om met enige span af te reken.

“Ek dink ons geestelike ingesteldheid is tans die grootste struikelblok en ons sal dit beslis moet takel.”

Intussen is James Murphy nadergetrek om Ricardo Duarttee, wat om persoonlike redes na Suid-Afrika teruggekeer het, se skoene in Los Angeles vol te staan.

Die 28-jarige Murphy het die Blitsbokke reeds in 18 toernooie verteenwoordig en hy glo dat hy sommer gou sy voete in die VSA sal vind.

“Die span werk baie hard en ek is oortuig dat ʼn mens dit binnekort ook in ons vertonings kan sien. Ons is gereed vir die naweek.”

Blitsbok-groep vir Los Angeles: Selvyn Davids (kaptein), Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Shaun Williams, Shilton van Wyk, Darren Adonis, Rosko Specman, David Brits, Justin Geduld, Tristan Leyds, James Murphy en Katlego Letebele.

Bepalings:

Saterdag:

05:38: Suid-Afrika teen Ierland

20:36: Suid-Afrika teen Argentinië

Sondag:

00:54: Suid-Afrika teen Spanje.

Algehele sewespunteleer:

  1. Argentinië: 78 punte
  2. Ierland: 54 punte
  3. Fidji: 54 punte
  4. Nieu-Seeland: 50 punte
  5. Australië: 47 punte
  6. Suid-Afrika: 46 punte
  7. Frankryk: 36 punte
  8. VSA: 30 punte
  9. Samoa: 20 punte
  10. Groot-Brittanje: 17 punte
  11. Spanje: 13 punte
  12. Kanada: 11 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

En daar sak ons toe van nommer 1 na no 6 binne ‘n paar maande. Neewat Blitsbokke.

Casper ·

Niklaas,wat sou jy sê is die rede.Sandile Ncgobo maak my siek.Hy is ook net daar vir die geld.Hy het geen visie of enige iets wat dit verg om ‘n goeie afrigter te wees nie.Dit laat my wonder waar is Phillip Snyman en Marius Schoeman wat sewes rugby ken en weet wat dit vat om te wen.Scooter weet nie of hy in Malelaan of Klokkelaan is nie,patetiese keuse.

piet ·

Ek moet se ek geniet die 7’s deesdae. Dis uiters kompeterend en daar is werklik nie meer ‘n maklike wedstryd nie. Argentinie is egter ‘n trappie hoer as die ander spanne maar dis baie kompeterend tussen al die spanne. Ons sal ander spelers moet kry, die helfte van die span is te lig in die broek en word fisies oorrompel, sukkel ook op verdediging, speel touch rugby.

Casper ·

Piet,ek kan nie met jou meer saamstem nie maarons het spoed in die span wat ons nie benut nie.Jy kan nie hardlopp sonder voete nie maar ons spelers kom futloos voor.Verdediging word tydens oefeninge ge-oefen.Watse wedstrydplan volg hulle,kry die bal maar nou ja.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.