Vlok breebors ná Hane die Rose plattrap

Vlok Cilliers en die res van die Franse afrigtersgroep vier die Hane se spogvertoning op Twickenham. Foto: Verskaf.

As jy ooit gewonder het hoe ʼn trotse skopafrigter lyk, moes jy net Saterdag na Vlok Cilliers tydens die wedstryd tussen Frankryk en Engeland op Twickenham gekyk het.

Die voormalige Springbokspeler, wat deesdae die Hane se skopwerkghoeroe is, het breed geglimlag terwyl hy Thomas Ramos se vertoning agter die skopkelkie vanuit sy pawiljoensitplek dopgehou het.

Die Franse heelagter het so te sê ʼn foutlose skopskouspel gelewer en hy het saam met sy drie altesaam 23 van sy span se punte aangeteken.

Frankryk het vir Engeland ʼn rugbyles geleer toe hulle die Rose met 53 – 10 vertrap het. Dit was die Engelsmanne se grootste nederlaag nóg op hul tuisveld.

“Thomas het ʼn uitstekende skopvertoning gelewer en hy werk hard aan sy spel. Eintlik is elke lid van die span doelgerig en hulle het vertroue in die afrigtersgroep se plan met die span,” het Cilliers Sondagaand vir Maroela Media  gesê.

Dit was die eerste keer in amper 20 jaar wat die Fransmanne vir Engeland op hul rugbyheiligdom kon klop en dit was die enigste stadion in Europa waar Fabien Galthie nog nie ʼn wedstryd kon wen nadat hy die Hane se afrigtersleisels oorgeneem het nie.

Frankryk het sewe drieë teen Engeland op Twickenham gedruk. Foto: Glyn Kirk/AFP.

“Dit is nie altyd maklik op Twickenham nie en dit was vir ons ʼn baie goeie oorwinning gewees. Die span en afrigtersgroep se selfvertroue het ʼn definitiewe hupstoot gekry.”

Frankryk het in 2022 nie ʼn enkele wedstryd verloor nie, terwyl hulle tans tweede op die Sesnasies-punteleer is; hulle het nog net teen Ierland in Dublin vasgeval.

Volgens Cilliers het die keerpunt vir die Franse ná die 2019-Wêreldbeker in Japan gekom.

“Frankryk het toe bymekaar gekom en aandag gegee aan dinge soos dissipline en bestendigheid. Hulle kan dit byvoorbeeld nie bekostig om die een week met die All Blacks af te reken en die volgende week teen Kanada vas te val nie,” het die Suid-Afrikaanse skopmeester destyds gesê.

“Ek is baie trots op die span en ons het sekere doelwitte wat ons wil bereik en waar ons as ʼn groep wil wees met die oog op die Wêreldbeker-rugbytoernooi. Daar wag nog een Sesnasieswedstryd teen Wallis op ons, waarna ons in alle erns met die voorbereiding vir die Wêreldbeker sal begin.”

Rose het loesing nooit verwag nie

Intussen het die Engeland-agterspeler Owen Farrell erken dat Frankryk se aanslag hulle onkant betrap het.

“As ʼn Engeland-speler verwag jy nooit om só op jou tuisveld te verloor nie. Trouens dink ek dat ons eintlik nooit so iets verwag nie; maak nie saak waar ons speel nie,” het die 31-jarige speler gesê.

Hy het erken dat daar harde werk op die Rose wag.

“Die ganse kleedkamer ly tans aan bomskok en ons sal beslis ons spel moet ontleed. Frankryk het kliniese spel opgedis en hulle verdien lof vir hul vertoning.”

Dit was inderdaad ʼn perfekte dag op Twickenham vir Frankryk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aries ·

Frankryk het die verwaande Engelse se rugbyspan se tjank behoorlik afgetrap- dis een groot lekkerkry op sy beste. Engeland het die verkeerde persoon weggejaag- In plaas van om Eddie Jones te hou as afrigter moes hulle net die verwaande Owen Farrell weggejaag het

Niklaas ·

Ek geniet elke rugby wedstryd waar Owen Farrell in die span is wat die loesing kry. Hy is net te voor-op-die-wa na my smaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.