White beraam planne om Dupont te stuit

Frankryk en Toulouse se Antoine Dupont. Foto: Franck Fife/AFP.

Daar is ʼn magdom sterre in die Toulouse-rugbyspan: van Julian Marchand en Thibauld Flament voorlangs tot Thomas Ramos en Romain Ntamack in die agterlyn.

Maar as daar nou vir jou een speler is wat vir die meeste van sy teenstanders slapelose nagte kan besorg, dan moet dit Antoine Dupont wees.

Die Franse skrumskakel is Woensdag as die beste speler van die afgelope Sesnasies-toernooi aangewys. Dit is die derde keer in sy loopbaan dat dié eer hom te beurt val en net Brian O’Driscoll – die legendariese Ierse senter – kan met ʼn soortgelyke prestasie spog.

Nou sal die Bulls hul bes moet doen om die 26-jarige speler in sy spore te stuit wanneer hulle Sondag teen Toulouse in ʼn Kampioenebeker-kragmeting te staan kom.

Jake White – die Bulls se direkteur van rugby – wil nie veel van sy geheime verklap nie, maar hy het gesê dat die Fransman hom aan Agustin Pichot laat dink.

Jake White. Foto: Twitter.

“Pichot was net so ʼn belangrike speler vir Argentinië as wat Dupont vir Frankryk en Toulouse is. Ek glo wel dat volgehoue druk die sleutel tot sukses kan wees; wanneer die drukkoker hoog is, kan dit ʼn invloed op iemand se spel hê,” het White gesê.

“Ons moet ʼn manier vind waarop die hele span gesamentlike druk op sy teenstanders kan plaas. Dit sal dan deursyfer na hul besluitmakers op die veld.”

Hoewel die Bulls deesdae meer verloor as wen, glo White dat hulle die knoop kan deurhak wanneer dit saak maak. Hulle het dit immers verlede jaar teen Leinster in die halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap gedoen.

“As ons goed genoeg speel, is daar geen rede waarom ons nie kan wen nie. Wanneer ʼn span wedstryde verloor begin hy in sy vermoëns twyfel; daarteenoor sorg seges vir selfvertroue. Ons moet net aanhou glo en wanneer ons weer op die wenpad kom, sal ons dit soveel meer waardeer.”

Wat sê Vlok van Antoine

Suid-Afrika se Vlok Cilliers is deel van Frankryk se nasionale afrigtersopset en die skopafrigter werk goed saam met Dupont.

“Antoine is werklik goed, hy is ʼn speler van wêreldgehalte met ongelooflike werksetiek. Terselfdertyd is hy ook nederig en ʼn baie goeie leier. Ek het al baie talentvolle spelers in my lewe afgerig, maar nog niemand soos hy nie. Soos die Engelsman sou sê: Hy is die complete package,” het Cilliers in ʼn vorige onderhoud met Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piesang ·

Sy planne werk oënskynlik nie lekker dié jaar nie, so mens moenie té veel verwag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.