White in sy noppies met Goosen

Johan Goosen op die aanval teen Cardiff. Foto: GB Jordaan.

Statisties gaan dit goed met die Bulls op die aanval.

Volgens die mense wat goed is met somme tel die Pretorianers onder die topvyfspanne wanneer daar oor punte, drieë en breekslae in die Verenigde Rugbykampioenskap gesels word.

Die Bulls het die afgelope naweek weer eens die septer op Loftus Versfeld geswaai toe hulle vir Cardiff met 45 – 9 ore aangesit het. Die tuisspan het ses drieë gedruk, met spelers soos Canan Moodie en Kurt-Lee Arendse wat op die aanval uitgeblink het.

Waar die twee Springbok-agterspelers met hul afrondingswerk beïndruk het, meen Jake White egter dat Johan Goosen die een was wat die toutjies vanuit sy losskakel-posisie getrek het.

“Ek is baie opgewonde – die reeks is nog nie eens verby die halfpadmerk nie en ons druk baie drieë. Ons lyk elke keer baie gevaarlik wanneer die agterspelers die bal in die hande kry,” het die Pretorianers se direkteur van rugby gesê.

Die uitgeslape afrigter, wat in 2007 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokke omhoog gehou het, glo dat Goosen net beter sal word soos wat die reeks vorder.

Foto: GB Jordaan.

“Weens sy beserings het hy nog nie veel geleenthede in die nommertientrui gekry nie, maar hoe meer hy speel en hoe meer sy spanmaats om hom kan speel, hoe beter.”

Goosen het sy internasionale buiging in 2012 teen die Wallabies in Perth gemaak, maar hy het nog net 13 keer vir die Springbokke uitgedraf.

Hy was weliswaar deel van die Springbok-oefengroep vir hul jaareindtoer na Europa, maar hy het uiteindelik vir die SA A-span gespeel.

In Handré Pollard en Elton Jantjies se afwesigheid het Damian Willemse en Manie Libbok hul geleenthede op losskakel aangegryp.

Tog weet White wat in Goosen steek.

“Almal van ons weet dat hy ʼn baie talentvolle speler is en ek kan nie glo dat hy nog nie 50 toetse vir Suid-Afrika gespeel het nie. Ons is opgewonde om hom terug te hê en hy moet nou in soveel as moontlik wedstryde speel.”

Die Bulls speel hierdie naweek teen Lyon in ʼn Heineken Kampioenebeker-kragmeting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andries ·

Hoe ouer die bul,hoe harder die horing.
Blou Bulle Noord Transvaal oom Thys se Bulle.

Boer ·

Die probleem met Jake White is dat hy Johan Goosen met sy mond in die springbokspan probeer inkoop. Johan Goosen het ,n kans in die SA A-span gehad en hy het nie regtig presteer nie. Daar is nog baie water wat in die see moet loop voor hy gereed sal wees. Daar is baie spelers voor soos Handre Pollard, Damien Willemse, Manie Libbok (die speler wat Jake White van die bulle af weggejaag het) en op die oomblik is hy ‘n speler wat in vorm is en moet nie vir Elton Janjies weggooi nie. Op die stadion is Johan Goosen nie op Springbok-standaard nie.

Manie ·

Quinten van Rooyen het dit ook destyds gedoen. Wanneer hy van ‘n speler gehou het, is hy tot in die Bokspan geskryf.

B-Man ·

Hoekom nie vir Elton weggooi nie? Gemors moet weggegooi word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.