White se aanstelling dalk een van die laaste stukkies in die Pretoria-legkaart

Jake White. Argieffoto.

Om die regte rugbyafrigter aan te stel, is ʼn waagspel.

Dis soos ʼn kind wat ʼn gelukspakkie oopmaak, jy hou maar oë toe en hoop vir die beste, al is jy in die moeilikheid omdat jy jou sakgeld gemors het.

Die keuse van Jake White om by Pote Human as die Bulls se Superrugby-afrigter in 2021 oor te neem, kan een van daardie laaste stukkies van die legkaart wees waarna daar so lank in Pretoria gesoek is.

White is die 13de Superafrigter sedert 1996 en met sy CV kan daar bitter min fout gevind word, want hoeveel ander afrigters kan met Wêreldbekergoud (2007) spog, nog ʼn goue vir sukses in die o.21-toernooi (2002), ʼn Japanse wennersmedalje by Toyota Verblitz en ʼn rits inskywings oor sy welslae as lid van die Bokke se afrigtingspanne in 1995, 1999 en 2001, die Brumbies, Sharks en Stormers.

Hy is ʼn baie fyn ontleder van die spel, sy meesterplan is om die vaste fasette te oorheers, maar ook om die buite-agterspelers in te span.

Ja, hy trap op tone, bly nie lank by ʼn span aan nie, volg sy eie kop en iewers langs die pad gaan hy koppe stamp met die bestuur in Loftus Versfeld se wandelgange.

Aan die ander kant, as die span wen, wie gee om?

Daar was voorheen al baie goeie afrigters wat gewoonlik oor omstandighede buite hul beheer die pad moes vat.

Voor in die koor was Harry Viljoen wat naas sy Aussie-vriend Rod Macqueen ligjare voor die res was.

Daar was Kitch Christie, wat baie groot welslae by Transvaal en Springbokke behaal het. Hy was soos ʼn pa vir die spelers; hy was streng, maar altyd bereid om te luister.

Christie is die enigste Bok-afrigter (in die wêreld) wat met ’n 100%-suksessyfer in toetsrugby kan spog.

Maar ondanks al sy mensekennis, bestuursvermoë en afrigterskennis, glo ek steeds nie dat hy die beste afrigter by 1995 se WB-toernooi was nie.

Dan was daar Nick Mallett, wat die Bokke tot ʼn rekordgetal oorwinnings (geëwenaar) afgerig het.

Hy was te bombasties, sy verkeerde spankeuses het hom aan die hakskeen gebyt en hy het koppe met die dasdraers op die verkeerde tyd gestamp.

By die Blou Bulle het hulle ook gekom en gegaan: die mees suksesvolle was ongetwyfeld oom Buurman van Zyl, maar dit was in die amateurera, toe hy die spelers met die fluitjie op die bene kon raps, hulle die koppe kon was en op Naas Botha se knoppie kon druk.

Heyneke Meyer was die hoeksteen van die oplewing van Blou Bul-rugby, maar dink maar terug toe hy afgekraak is, en die toeskouers hul rûe op die span gedraai het.

Wat van John Williams, Chris Buitendach, Eugene van Wyk, Rudy Joubert, Phil Pretorius, Frans Ludeke, Nollis Marais en Pote Human?

White kan ʼn nuwe tydvak by die Bulls inlui. Hy volg die regte spelpatroon (vir die Bulls), koop die regte spelers en speel wenrugby, maar dan moet hy toegelaat word om sy eie ding te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johannes

Ek was nog altyd onder die indruk dat Jake White min tot geen tyd vir die Blou Bulle gehad het nie.

Snaaks wat ‘n lekker vet tjek aan ‘n ou se houding kan doen né.

Johan Venter

Die grootste teleurstelling vir my was Harry Viljoen, ek dink nie ons was ooit naby beskore om die resultate waartoe hy in staat was te sien nie, hy was ook ‘n ligjaar voor die spelers.

in 1995 het Stransky se skepskop vir Jake gered.

Kokkie

@Johan Venter. Stransky se skepskop in 1995 kon nie vir Jake red nie. Christie was toe die afrigter. As Harry nie sy idees by die Bokke kon tuis bring nie, was dit sy eie onvermoë, nie die spelers se skuld nie.