Vrystaatse skrumghoeroe sak ook in Bulls-skrum

Daan Human in sy speeldae vir Toulouse. Foto: Facebook.

In wat as ’n eerste vir Suid-Afrikaanse rugby bestempel word, sal die Cheetahs se skrumafrigter, Daan Human, voortaan ook die Bulls se skrumwerk dokter.

Die 42-jarige Human het as stut vir die Toulouse-skrum in Frankryk se Top-14-reeks gesak, terwyl hy ook in vier toetse vir die Springbokke uitgedraf het. Hy sal die Pretorianers vir twee dae per week bystaan en die res van die tyd saam die Cheetahs deurbring,

waar hulle vir die Guinness Pro14-kompetisie voorberei.

“Die samewerkingsooreenkoms met die Vodacom Bulle is uniek aan Suid-Afrika en is ter bevordering van al die spanne in die land. Om ’n skrumafrigter soos Daan Human in albei entiteite aan te wend, is ʼn positiewe stap en is in belang van rugby gedoen,” het Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs gesê.

Benewens Human se betrokkenheid is daar verskeie interessante spelerskontrakte by die plaaslike Superrugbyspanne gesluit.

Die Bulls het onder meer die dienste van Schalk Brits (Saracens), Paul Schoeman (Cheetahs), Muller Uys (Stormers), Duane Vermeulen (Kubota, Japan), Stedman Gans (SA Sewes), Dylan Sage (SA Sewes), Cornal Hendriks en Rosco Specman (SA Sewes) gekry.

Schalk Brits is ook deel van die Bulls-groep. Foto: Facebook.

Terwyl die Lions ’n hele groep spelers verloor het – hulle is hoofsaaklik agter Johan Ackermann aan na Gloucester – het hulle ook kontrakte met ’n paar indrukwekkende spelers geteken. Stephan Lewies (Sharks) sal hul slot-enjinfabriek in Franco Mostert se afwesigheid stook, terwyl Danie Mienie (Toulouse) en Carlu Sadie (Stormers) ook ’n Leeukontrak onderteken het.

Die Sharks sal met die dienste van Ruben van Heerden vir die komende Superseisoen klaarkom. Die 20-jarige voormalige slot van die Blou Bulle het ’n kontrak van drie jaar met die Durbaniete onderteken.

Die Stormers – wat met die land se beste rugbyskole in Paarl Boishaai, Paarl Gimnasium en Paul Roos sit – het ’n hele rits van hul o.21-spelers na die senior groep opgetrek. Spelers van ander provinsies sluit Corné Fourie (Lions) en Ruhan Nel (SA Sewes) in.

Die kleedrepetisie vir vanjaar se Superreeks is op 3 Februarie in Kaapstad wanneer die Lions (Spider-Man), Sharks (Black Panther), Bulls (Captain America) en Stormers (Thor) in hul superhelduitrustings in opwarmingswedstryde kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Hulle sal eers verby ‘n paar omgekrapte NZ-spanne moet kom,terwyl die Reds ,die seisoen
saam met die Jaguares vir ‘n paar skokke sal sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.