Hollywood: ‘Frasier’ herleef; Harry en Meghan maak oop teenoor Oprah

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Frasier herleef

Die gewilde 1990’s-televisiereeks Frasier, met Kelsey Grammer in die rol van die pedantiese sielkundige en radio-omroeper dr. Frasier Crane, sal binnekort na die kassie terugkeer.

Grammer het die reeks se herlewing bevestig. Dit is egter nog nie bekend wie van die oorspronklike rolverdeling in die nuwe reeks te sien sal wees nie. John Mahoney, wat die rol van Frasier se pa vertolk het, is in 2018 oorlede.

Frasier is een van die mees suksesvolle Amerikaanse televisiereekse nog. Dit het van 1993 tot 2004 vir 11 seisoene uitgesaai en 37 Emmy-toekennings, waaronder vyf vir beste komediereeks, ingeoes.

“Aanhangers vra al lank dat ons die reeks terugbring en ons antwoord nou daarop,” het David Stapf, president van CBS Studios, gesê.

Die reeks sal na verwagting op die nuwe stromingsplatform Paramount+ uitgesaai word, maar ʼn uitreikingsdatum is nog nie bevestig nie.

Nóg bekendes beskuldig van seksuele wangedrag

Alexander Wang in Januarie 2020 op die Recording Academy en Clive Davis se galageleentheid voor die Grammy-toekenningsgeleentheid. (Foto: Mark Ralston/AFP)

Die Amerikaanse modeontwerper Alexander Wang word deur nóg ʼn man, die 21-jarige student Keaton Bullen, van seksuele aanranding beskuldig.

Bullen is een van 11 mans wat sedert Desember verlede jaar dieselfde aantygings teen Wang gemaak het. Lisa Bloom, ʼn hoëprofiel-prokureur, verteenwoordig die 11 klaers, almal mans.

Volgens Bullen was hy en ʼn vriend in 2019 in die Fishbowl-nagklub in New York waar hy Wang raakgeloop en oor hul alma mater, die Pearson School of Design in Manhattan, begin gesels het. Bullen studeer tans binnenshuise ontwerp aan dié skool.

Bullen het in ʼn onderhoud met BBC News beweer Wang het hom in die vroeë oggendure seksueel aangerand.

“Hy het skielik my broek se ritssluiter oopgemaak, sy hande in my broek gedruk en voor ʼn klomp mense aan my private dele begin vat. Ek het heeltemal versteen. Hy het gesê: ‘Ek wil jou saam met my huis toe vat.’ Ek het vreemd gevoel en myself so ver moontlik uit die situasie verwyder.”

Wang (37) ontken alle aanklagte teen hom. “Om te sien hoe hierdie leuens oor my vir waarhede aangesien word, maak my woedend. Ek het nog nooit aan hierdie soort gruwelike gedrag deelgeneem nie en sal my ook nooit op daardie wyse gedra nie,” het Wang in ʼn verklaring gesê.

Gérard Depardieu by die vertoning van die rolprent ‘Novecento – Atto Primo’ op die Venisiese rolprentfees in 2017. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Intussen word die Franse akteur Gérard Depardieu daarvan beskuldig dat hy in 2018 ʼn vrou in Parys verkrag het.

Depardieu se prokureur het aan die Franse nuusagentskap AFP gesê sy kliënt staan die beskuldigings teen en die ondersoek moes nooit openbaar gemaak word nie.

Die aanvanklike ondersoek in die verkragtingsaak is in 2019 afgelas, met aanklaers wat aangevoer het dat daar te min bewyse was, maar die saak is verlede jaar hervat.

Die Franse kunswêreld is onlangs geskud deur ʼn reeks aantygings van seksuele aanranding teen bekende figure. Depardieu (73) is ook een van dié land se bekendste akteurs, wat in sowat 170 flieks te sien is.

Hy het in 1973 sy deurbraak gemaak in Les Valseuses (Going Places). Hy het in 1990 die Cannes-rolprenttoekenning gewen vir beste akteur vir sy rol in Cyrano, waarvoor hy vir ʼn Oscar-toekenning benoem is. Hy het ook in die Engelse fliek Green Card gespeel.

Meghan, Harry maak oop teenoor Oprah

Meghan en Harry. (Foto: Instagram)

Meghan Markle en prins Harry sal Sondag 7 Maart in ʼn openhartige onderhoud met die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey gesels oor “die spanning” in die Britse koninklike familie.

ʼn Bron na aan die paartjie het aan E! News gesê die twee sal “hul waarhede verklap” tydens die spesiale CBS-uitsending, noudat hulle finaal die tuig as koninklikes neergelê het.

Koningin Elizabeth II het verlede Vrydag aangekondig dat haar kleinseun en sy vrou nou finaal van hul koninklike pligte onthef word. Dít nadat Harry onlangs aan die koningin bevestig het dat hulle inderdaad nie hul koninklike pligte sal hervat nie.

Die twee het ʼn jaar gelede aangekondig dat hulle al hul koninklike pligte staak en het intussen na Amerika verhuis waar hulle verskeie kommersiële projekte onderneem het en ooreenkomste met onder meer Spotify en Netflix gesluit het.

Die koningin het die paartjie aanvanklik ʼn jaar gegee om te herbesin. “Die hertog en hertogin van Sussex het intussen aan die koningin bevestig dat hulle nie as werkende lede van die koningshuis sal terugkeer nie,” het Buckingham-paleis Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Oprah Winfrey. (Foto: Paul Drinkwater/NBC via AP)

In reaksie het die koningin die militêre eretitels, pligte en koninklike aanstellings wat aan die paartjie toegeken is, teruggetrek. Dit sal nou aan ander lede van die koninklike familie uitgedeel word.

Gerugte oor ʼn skeuring tussen Harry en sy broer, prins William, het ook kort daarna die ronde begin doen.

“Daar is baie spanning tussen hulle [Harry en Meghan] en die koninklike familie. Die onderhoud gaan lig werp op wat hulle tot dusver deurgemaak het. Harry en Meghan is verlig dat hulle verwyder is van alles,” sê die bron.

Maroela Media het ook vroeër berig dat hulle nou hul tweede kind verwag.

Bronne: BBC, E! News, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.