‘Julle lyk moeg, afgemat en sonder planne’

’n Krieketklub in Nantes, Frankryk, het die Proteas uitgenooi om saam met hulle te kom oefen. Foto: Verskaf.

Die Proteas wiebel tans voor die afgrond van nóg ʼn groot nederlaag teen Australië. Teen uitskeityd op die vierde dag van die Sydney-toets het hulle op 149/6 gesteier; nog 326 lopies weg van die Aussies se reuse-eerstebeurttelling van 475.

Nou het ʼn krieketklub in Frankryk die sukkelende Suid-Afrikaners op sosiale media genader om saam met hulle te kom oefen.

“Julle ouens lyk moeg, afgemat en sonder enige planne. Dalk is dit tyd om uit jul gemaksone en geborgde, lugversorgde voertuie te kom en jul passie terug te kry op ʼn plek waar julle dit die minste verwag,” het die Nantes-krieketklub op Instagram gedeel.

Volgens die skerpsinnige Fransmanne is dit voordelig om in die skadu van die imposante château Grand-Blottereau aan jou opslagballe en haakhoue te skaaf.

Die Proteas kou tans harde bene in Australië. Foto: Twitter.

“Niemand sal weet dat julle hier in Frankryk is nie, julle kan van openbare vervoer gebruik maak om by die veld uit te kom en julle kan sommer in jul plakkies rondhang; dit sal nie nodig wees om vir die flitsende kameras bont te staan nie.”

Daar is spelers van regoor die wêreld wat tans hul kolwe vir Nantes swaai; onder meer ʼn Australiër, maar die klub het plegtig beloof dat hy homself sal skaars maak tydens die Proteas se besoek.

“Daar is ook ʼn speler wat ons Momo noem. Hy het deur 11 lande gestap om uit Afghanistan te vlug. Hy kan nie lees of skryf nie. Maar hy het 143 lopies vanaf slegs 39 aflewerings teen ʼn Britse toerspan gemoker.”

Natuurlik is daar ook  ʼn Suid-Afrikaner in die Nantes-geledere.

Erik le Roux, kosmaak-ghoeroe en mede-aanbieder van die gewilde Nataniël. Erik. Wolf-reeks saam met sy beroemde broer Nataniël, is nie net die klub se kaptein nie, maar ook die opsigter.

’n Skermskoot uit Erik le Roux se TV-reeks saam met Nataniël. Foto: Verskaf

Hy het vroeër vir Maroela Media gesê dat die kolfblad-in-Nantes-droom so twee jaar gelede begin gestalte kry het, terwyl ʼn aanlyn kuratorskursus dit verdere vlerke gegee het. Vandag is dit die amptelike oefenveld van Frankryk se nasionale vrouekrieketspan, terwyl daar elke naweek klubkrieketwedstryde aangebied word.

Maar terug na die Proteas en Le Roux meen dat daar ʼn definitiewe verskil tussen passie vir wen en ʼn passie vir die sport is.

“Met die hoeveelheid krieket wat van moderne spelers vereis word, is dit maklik om in die dryfsand tussen administrasie, borge, media en ondersteuners te beland; gevolglik kan jy jou passie vir die sport verloor. As ʼn mens na die Proteas se liggaamstaal kyk, is dit duidelik dat hulle wil wen, maar nie noodwendig op die veld wil wees nie,” het hy gesê.

Dit is vir hom hartseer om die Proteas se geploeter daar in die verte dop te hou.

Le Roux besig om die Nantes-kolfblad wedstrydgereed te kry. Foto: Verskaf.

“Deur die jare het Suid-Afrika waarskynlik die grootste poel indrukwekkende talent van alle lande gehad, maar met soveel eksterne invloede, inmenging en swak bestuur kan ons al vir ʼn lang tyd nie die wa deur die drif trek nie. Suid-Afrika was op ʼn stadium tergelykertyd die no. 1-span op die toets- en eendagkrieketverhoog. Waar is daardie vrugte vandag?”

Gaan hy darem daar in Nantes vir die Proteas ’n bietjie kos so tussendeur hul krieketpligte maak?

“Ja beslis. Ons het “draft-bier” langs die veld en met net ’n gasplaat en ’n stukkie roosmaryn maak ek ’n fantastiese gebraaide makriel.”

Vir die Nantes-spelers is Momo die toonbeeld van iemand wat met ongekende passie speel.

“Wanneer jy in sy oë kyk kan ’n mens die begeerte en liefde vir die spel sien. Ons nooi julle om in sy oë te kom kyk.”

Die Proteas het inderdaad ’n Momo-ervaring nodig.

  • Opsomming van die Sydney-telkaart:

Australië 475/4 verklaar in 131 boulbeurte: Usman Khawaja 195*, Steve Smith 104 en Anrich Nortjé  2/55.

Suid-Afrika 149/6 ná 59 boulbeurte: Khaya Zondo 39, Temba Bavuma 35 en Pat Cummins 3/29.

Die klub se boodskap op Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Te veel tyd voor die spieel en te min in die nette . Dis wat die Franse reguit se , en dit is die waarheid .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.