Wat lê vir Tamaryn Green voor in 2019?

Die beeldskone Tamaryn Green (24) sal Suid-Afrika op vanjaar se Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig. (Foto: Facebook)

Tamaryn Green, die 24-jarige mediese student van die Paarl in die Wes-Kaap, wat in Mei vanjaar as Mej. Heelal Suid-Afrika gekroon is, is die afgelope naweek as die naaswenner in die 67ste Mej. Heelal-skoonheidskompetisie in Bangkok, Thailand, aangewys.

Catriona Gray, ʼn 24-jarige skoonheid van die Fillipyne, het stof in Green se oë geskop. Mej. Venezuela, Sthefany Gutiérrez, is as die tweede prinses gekies.

Claudia Henkel, voormalige Mej. Suid-Afrika en skakelbeampte van dié skoonheidskompetisie en Sun International, het aan Maroela Media gesê Green sal steeds haar amp as Mej. SA beklee totdat sy die kroon in Mei 2019 moet oorhandig.

“Tamaryn is ongelooflik passievol daaroor om die stigma aan tuberkulose te bestry en sal voortgaan met haar veldtog, #breakthestigma, wat sy vroeër vanjaar van stapel gestuur het. Sy beplan ook om haar studie te voltooi en wil graag in pediatrie spesialiseer,” het Henkel aan Maroela Media gesê.

Tamaryn dra die halssnoer wat sy saam met Jack Friedman ontwerp het (Foto: Verskaf)

Volgens Henkel is Green nie heeltemal met leë hande huis toe ná afloop van die Mej. Heelal-kompetisie nie. “Die naaswenner wen geen pryse nie, maar ontvang wel deur die loop van die reis tot by die kompetisie ʼn hele paar geborgde items van oor die wêreld.”

Henkel het ook gesê Green het tans geen verantwoordelikhede as naaswenner nie, maar sou Gray om watter rede ook al nie haar verantwoordelikhede as wenner kan nakom nie, sal dié titel aan Green oorhandig word.

Green het ná afloop van die Mej. Heelal-kompetisie luidens ʼn mediaverklaring gepraat oor die Mej. Heelal-kompetisie. “Dié ervaring het my wildste verwagtinge oortref en ek is verheug dat ek so goed gevaar het,” het sy gesê.

“Baie geluk aan Catriona. Die deelnemers was almal wonderlik – sommige van hulle sal lewenslank my vriendinne bly. Dit was waarlik ʼn reis van susterskap. Thailand is ook ʼn fantastiese land met vriendelike mense wat ons almal baie welkom laat voel het. Ons het hard gewerk, maar dit wat ons in ruil daarvoor ontvang het, is van onskatbare waarde. Dankie vir elkeen by die huis wat my ondersteun het, dit het my werklik aangespoor.”

Catriona Gray en Tamaryn Green wag vir die wenner om aangekondig te word. (Foto: Twitter)

Green was een van die gunstelinge om Demi-Leigh Nel-Peters, Suid-Afrika se Mej. Heelal 2017, op te volg. Slegs Venezuela kon dit nog ooit regkry om twee agtereenvolgende jare dié kompetisie te wen, toe die land in 2008 én 2009 gewen het. Margaret Gardiner het 40 jaar gelede die eerste Suid-Afrikaner geword om die Mej. Heelal-titel te wen.

Thulisa Keyi, wat vanjaar as Mej. Wêreld Suid-Afrika gekroon is, het Suid-Afrika vroeër die maand by die Mej. Wêreld-kompetisie verteenwoordig. Vanessa de Leon van Mexiko het tydens die 68ste Mej. Wêreld-kompetisie met die kroon weggestap. Nicolene Pichapa Limsnukan van Thailand is aangewys as eerste prinses en Quiin Abenakyo van Uganda as tweede prinses.

Keyi (26) het deurgedring na die top-30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda ·

Green het baie goed gevaar !!! Sy is pragtig, net n bietjie te sag ! Ons is trots op jou ! Mag jy nou graad vang en die oulike dokter wees wat jou hart begeer, jy het SA darem op die ‘map’ gehou !!!!! Die wereld moet weet, hier in Suid-Afrika is mooi mense !!!

Jj ·

Ek stem Linda en Chris!!!! Sy is pragtig. .. en n goeie loopbaan op die horison

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.