‘Kanarie’ maak opslae in die buiteland

Die Suid-Afrikaanse musikale oorlogsdrama Kanarie, met Schalk Bezuidenhout in die hoofrol, sal in Junie vanjaar in fliekteaters in die VSA begin draai.

Marche Media, vervaardigers van die fliek, het ʼn ooreenkoms met die Amerikaanse maatskappy Breaking Glass Pictures gesluit. Dié maatskappy sal die fliek in die VSA versprei.

Kanarie, wat plaaslik ʼn groot sukses by die loket was, het verlede jaar op fliekfeeste in die VSA en Kanada gedraai en is in Atlanta vereer met ʼn prys vir beste vollengte fliek en een vir beste regisseur. Die rolprent sal ook op 14 Februarie in Australië op die Queer Screen Mardi Gras-fliekfees te sien wees.

Die span van Kanarie is op verlede jaar se Silwerskermfees in Kampsbaai met vyf toekennings vereer: beste produksie-ontwerp (Rocco Pool), beste redigering (Eva du Preez), beste regisseur (Christiaan Olwagen) en beste vollengtefliek. Germandt Geldenhuys is ook vereer as beste manlike byspeler.

Kanarie is ʼn musikale oorlogsdrama wat afspeel in Suid-Afrika in 1985 en vertel die storie van Johan Niemand (Bezuidenhout), ʼn jong seun wat in ʼn tyd van onderdrukking gedwing word om sy identiteit te vind.

Wanneer Johan vir militêre diensplig opgeroep word, lê hy ʼn oudisie af vir die Suid-Afrikaanse kerkkoor-en-konsertgroep, die Kanaries, en word aanvaar.

In ʼn politieke landskap waar wet en godsdiens individualiteit onderdruk, moet Johan en die Kanaries militêre opleiding doen en daarna op ʼn landwye toer gaan om mense te vermaak en geloof in die kerk en weermag te versterk.

Op toer ontwikkel Johan gevoelens vir ʼn medekoormaat en dit veroorsaak dat hy alles oor homself en sy wêreld bevraagteken. Hy ontmoet verskeie karakters op die toer, sommige trots op die koor se pogings en ander wat hom bewus maak van die werklikheid en uitwerking van apartheid in Suid-Afrika. Namate Johan sy geloof, patriotisme en seksualiteit bevraagteken, lei sy kreatiwiteit en passie vir musiek tot ʼn direkte konflik met sy bevelvoerders.

Die fliek is gegrond op ware gebeure en is uit die pen van Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenfelder. Olwagen het ook die regie behartig. Jaco Smit en Roelof Storm van Marche Media het die fliek vervaardig.

Hannes Otto, Germandt Geldenhuys, Gérard Rudolf, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse, De Klerk Oelofse en Anna-Mart van der Merwe is ook in die rolprent te sien.

Die DVD vir die fliek word ook binnekort uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swartwolf ·

Gelukkig het ek dit ‘n mis gegee. Sal in die toekoms ook.

Leser ·

Kan nie wag om dit te sien nie….ek dink dit gaan puik wees.

Welgedaan ·

Geluk aan die vervaardigers en akteurs en almal wat aan die film gewerk het. Dit is inderdaad ‘n puik produksie vandaar die erkenning van hoogs ontwikkelde lande soos Kanada en Australië. Dankie tog daar is nog mense oor is in Suid-Afrika wat kuns soos die kan waardeer vandaar die sukses by die loket. Daar gebeur tog nog goeie dinge in Suid-Afrika ook. Mag die begaafde en kreatiewe mense floreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.