‘Sound of Freedom’ binnekort in SA te sien

‘n Skermgreep uit die fliek “Sound of Freedom”. (Foto verskaf)

Die onafhanklike rolprent Sound of Freedom begin landswyd op Vrydag 18 Augustus in Suid-Afrikaanse rolprentteaters draai.

Sound of Freedom is geskoei op die ware verhaal van Tim Ballard, ʼn voormalige agent van die VSA se departement vir binnelandse veiligheid, wat op eie houtjie besluit om ʼn operasie uit te voer om ʼn jong boetie en sy suster van mensehandel in Colombië te red.

Jim Caviezel, wat die rol van Jesus in Mel Gibson se 2004-fliek The Passion of the Christ vertolk het, speel Ballard in die fliek.

Hierdie rolprent het reeds merkwaardige sukses by teaters in die VSA en Europa gehad. Volgens die fliekkritiek-platform Rotten Tomatoes het dié rolprent gedurende die naweek van 21 tot 23 Julie beter gevaar as Tom Cruise se Mission: Impossible – Dead Reckoning Part One met ʼn derde plek in verdienste net agter Barbie en Oppenheimer. In die vorige naweek het Sound of Freedom ook stof in Indiana Jones and the Dial of Destiny se oë by die loket geskop.

Angel Studios, die produksiehuis agter die rolprent, het ʼn onkonvensionele manier gevind om mense teaters toe te lok om na die fliek te kom kyk en terselfdertyd bewustheid oor die saak van mensehandel te skep.

Jim Caviezel, wat die rol van Jesus in Mel Gibson se 2004-fliek “The Passion of the Christ” vertolk het, speel Tim Ballard in “Sound of Freedom”. (Foto verskaf)

“Ons doelwit was om twee miljoen mense te inspireer om die fliek se openingsnaweek by te woon. Op die wyse simboliseer dit die sowat twee miljoen kinders wat wêreldwyd in ʼn web van mensehandel vasgevang is,” het Caviezel verduidelik.

“Angel Studios het die ‘pay it forward’-beginsel ingestel waar jy vir iemand anders ʼn fliekkaartjie kan koop, wat andersins nie die rolprent sou kon sien nie. As die kaartjies se prys jou keer om die fliek te sien, kan jy ʼn gratis kaartjie op eis.”

Tot dusver is die doelwit van twee miljoen reeds oorskry en staan dit tans op meer as vier miljoen kaartjies wat op dié beginsel aangekoop is.

Hierdie inisiatief sal ook in Suid-Afrika vir die fliek uitgerol word. Caviezel het gesê die bedoeling is om kykers op te roep tot aksie en aan die einde van Sound of Freedom word elke kyker gevra om te help om die storie teen kinderhandel te versprei.

Gravel Road Distribution-groep, die plaaslike verspreiders van die fliek, het reeds met die #PayItForwardAngels-veldtog ʼn teiken van ʼn 10 000 kaartjies gestel wat hulle wil insamel met die hulp van gewone fliekgangers en maatskappye om diegene te help wat dit nie kan bekostig om self ʼn fliekkaartjie te koop nie.

Aangesien Suid-Afrika se bevolkingsdinamika en omstandighede verskil van die VSA, sal van die geld wat ingesamel word ook gaan om die koste van vervoer na rolprentteaters te dek.

Suid-Afrikaanse gehore kan www.gravelroadafrica.com/payitforward besoek vir meer inligting oor hoe om te skenk of ʼn plaaslike kaartjie op te eis.

‘n Skermgreep uit die fliek “Sound of Freedom”. (Foto verskaf)

Benjamin Cowley, uitvoerende hoof van Gravel Road Distribution-groep het sy afwagting oor die bekendstelling van die rolprent uitgespreek, aangesien mensehandel een van die vinnigste groeiende internasionale misdaadnetwerk is en reeds sterker as die onwettige handel in wapens staan en ook binnekort dwelmhandel gaan verbysteek.

Suid-Afrika word volgens die organisasie teen mensehandel beskou as een van die lande wat ʼn bron, deurloop en bestemming vir slagoffers van mensehandel is.

Sound of Freedom vertel ʼn belangrike storie, een wat al te dikwels versteek word. Kinderhandel is ʼn wêreldwye verskynsel en daar word gereken meer mense bevind hulself vandag in hierdie soort slawerny as ooit tevore.

“Ek hoop dat ons deur die rolprent kan help om bewustheid oor die omvang van hierdie kwessie te verhoog en tot positiewe verandering kan bydra,” het Cowley gesê.

Kyk die lokprent van Sound of Freedom hier:

  • Lees ook hier op Maroela Media van Gideon Swart van Pretoria se poging om bewusmaking teen mensehandel te skep en die menseregteprokureur Nadine Blom se raad om mensehandel hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Mmmm en Hollywood en spesifiek Disney het nie daarin belangestel om die film te vervaardig nie – dit pas nie in hulle naratief om die aanvaarbaarheid van “minor attacted persons” te verhoog nie.

Linda ·

Dis waaroor kinderhandel gaan. Die fliek dek die kwessies van kinder prostituise, orgaan werwing en slawerny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.