‘Sound of Freedom’ se Tim Ballard dankbaar oor kollig op kinderhandel

Tim Ballard. (Foto: Facebook/Tim Ballard)

Sound of Freedom is geskoei op die ware verhaal van Tim Ballard, die man wat op eie houtjie besluit het om ʼn operasie uit te voer om ʼn jong boetie en sy suster van mensehandel in Colombië te red.

Ballard is ʼn voormalige agent van die VSA se departement vir binnelandse veiligheid en vertel in ʼn Zoom-onderhoud vanuit die VSA hy het nie die oorweldigende terugvoer oor dié fliek verwag nie.

Sound of Freedom, wat deur die onafhanklike rolprentmaker Alejandro Gómez Monteverde gemaak is, was tydens sy openingsnaweek in Suid-Afrika kort op die hakke van die massiewe lokettreffer Barbie.

Sound of Freedom het reeds merkwaardige sukses in teaters in die VSA en Europa gehad. In die naweek van 16 Julie het Sound of Freedom ook stof in Indiana Jones and the Dial of Destiny se oë by die internasionale loket geskop.

Volgens Ballard is die terugvoer juis oorweldigend omdat die fliek vir byna vyf jaar op die rak gesit het voordat dit uiteindelik deur Angel Studios vervaardig is.

“Die fliek is telkemale afgekeur by die produksiehuise en ateljees waarby die fliekmakers aangeklop het. Ek het altyd gedink daar moet ʼn ander probleem wees, want ek was te na aan die storie en dink dit word op ʼn baie boeiende manier vertel.”

Hy sê dit maak hom opgewonde dat daar uiteindelik ʼn wêreldwye gesprek oor kinderhandel is sedert die fliek die lig gesien het.

“Ek kan nie glo mense praat uiteindelik oor hierdie onderwerp nie. Ek beveg kinderhandel al vir twee dekades en die grootste uitdaging wat ek het, is mense wat weier om te sien hoe groot die probleem is nie bereid is om die onderwerp te bespreek nie.

“Die feit dat mense daaroor praat, sal lei tot meer ingrypings en reddingspogings.”

Jim Caviezel. (Foto: IMDb)

Jim Caviezel, wat die rol van Jesus in Mel Gibson se 2004-fliek The Passion of the Christ vertolk het, vertolk die rol van Tim Ballard in die fliek.

Die akteurs Mira Sorvino, Bill Camp, Eduardo Verástegui, Javier Godino, José Zúñiga, Kurt Fuller en Gary Basaraba is ook in die rolprent te sien.

“Jim is een van my gunsteling-akteurs en was my eerste keuse toe die vervaardigers my oor die fliek genader het. Jim het ʼn manier om ʼn gehoor te boei wat moeilik is om te beskryf. Hy vertel die storie met sy gesig eerder as met woorde.”

Hy voeg by hy sou nooit kon droom dat daar ʼn rolprent sou wees oor die werk waarmee hy besig is nie.

“Daar was baie belangstelling in my storie, maar ek was kieskeurig oor wie die fliek sou aanpak. Ek vertrou nie Hollywood nie. Ek glo Hollywood vervaardig die tipe inhoud wat daartoe lei dat ek hierdie werk moet doen.”

Volgens Ballard wou die regisseur ʼn rolprent maak wat begin wanneer jy die fliekteater verlaat. “ʼn Fliek wat jou in die dae nadat jy daarna gekyk het, steeds daaroor laat dink en herkou.”

Hy bieg hy kyk nie meer self na die rolprent nie. “Die eerste keer wat ek die volle fliek gesien het, het dit heelwat post-traumatiese stres in my ontketen. Ek het verskriklik gehuil en was papnat gesweet. Ek moes daarna opstaan en praat met potensiële beleggers, ʼn groot ateljee soos Disney, en ek kon nie ʼn woord uitkry nie.

“Dit was vir my uiters belangrik dat die tonele op geen manier eksplisiet of gewaagd sou wees nie, maar die fliek slaan jou steeds in die maag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.