Kom draf, loop vir ʼn goeie doel by Voortrekkermonument

Kranige drawwers, stappers en fietsryers word genooi om Saterdag 12 November by die Voortrekkermonument in Pretoria byeen te kom om geld vir hulpbehoewende kinders in te samel.

AfriForum Sport het deur die jaar maandeliks sy #VirHoop-pretloop by die Voortrekkermonument aangebied, en vandeesmaand word die winste van dié pretloop aan die Bemagtig-ʼn-kind-projek geskenk.

Die Bemagtig-ʼn-kind-projek, ʼn gesamentlike inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en Maroela Media, staan behoeftige kinders op verskillende maniere by om hul lewens in ʼn nuwe rigting te stuur.

“Kinders is ’n kwesbare deel van ons samelewing – hulle kies nie in watter huis of in watter omstandighede hulle grootword nie. Soms verg dit net ’n klein verskil in so ’n kind se lewe om vir hom of haar ’n brug te bou na beter omstandighede toe, hetsy dit koshuisgelde, vervoer na en van die skool, remediërende onderrig, terapie of iets anders is wat hul nodig het. Bemagtig ’n kind kan juis hiermee ondersteuning en hulp bied,” sê Chandré Oosthuizen, projekorganiseerder van die Bemagtig-ʼn-kind-projek.

Sy sê die geleentheid gaan ʼn lekker pretdag vir die hele gesin wees. Fikse mense, selfs die wat minder fiks is, kan kom deelneem en saam stap, draf of hardloop om ʼn verskil in hierdie kinders se lewens te maak.

Deelnemers sal die keuse hê om by hierdie geleenthede die 5 km-, 10 km- of 15 km-roete te stap of te draf, terwyl fietsryliefhebbers terselfdertyd welkom is om deur die dag die sosiale fietsryroetes aan te durf. Die wegspringtye is stiptelik om 07:00.

“Ons alleen kan nie die verskil maak nie, maar saam is ons sterker,” sê sy.

Besoek gerus die skakel en registreer vandag nog!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.