Bekroonde gospelsanger kom toer in SA

Michael W Smith (Foto: Michael W Smith/Facebook)

Met treffer-gospelliedjies soos “Open the Eyes of My Heart”, “Awesome God”, Let it Rain” en “The Heart of Worship” help Michael W Smith al ʼn hele paar jaar om Christene wêreldwyd met gewyde musiek en lofprysing bymekaar te bring.

Dié bekroonde Amerikaanse gospelkunstenaar is eersdaags in Suid-Afrika te sien wanneer hy met sy Waymaker-toer ʼn draai in Pretoria en Kaapstad maak.

“Dit is vir ons ʼn absolute voorreg om ʼn ikoon in die gospel-musiekbedryf weer na Suid-Afrika te bring,” vertel Hardus Zevenster, hoofuitvoerende beampte van die Bloudruk Groep wat Radio Tygerberg 104FM, GrootFM 90.5 en Die Groot Ontbyt insluit.

“Ons sien baie daarna uit om duisende Christene in die teenwoordigheid van God te bring en saam die Here met die bekende musiek van Michael te aanbid.”

Rikus van Rooy, stasie- en programbestuurder van Radio Tygerberg 104FM, is ook opgewonde om deel van die span agter dié geleentheid se reëlings te wees.

“Michael het oor die jare ʼn groot invloed op die gospel-musiekbedryf gehad. Sy liedjies word daagliks wêreldwyd gespeel, in kerke gesing en dit bring mense met verskeie agtergronde nader aan God,” sê hy.

Michael het in sy loopbaan meer as 18 miljoen albums verkoop. Hy het 31 nr. 1-trefferliedjies, 14 goue albums en vyf platinumalbums opgeneem. Hy is boonop ʼn driemalige Grammy-wenner, en hy is met 45 Dove-toekennings bekroon.

In 1999 het die American Society of Composers, Authors and Publishers (ASCAP) ʼn lewensbydraetoekenning aan hom toegeken vir sy bydrae as liedjieskrywer, en in 2014 het dié vereniging hom as ʼn grondlegger vir Christelike musiek vereer.

Michael W Smith tree op 9 Junie by die Moreleta Kerk in Pretoria op en hy is op 10 Junie by die GrandWest Arena in Kaapstad te sien. Kaartjies is by iTickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pandora ·

Al die treffer gospel liedjies het bekendheid verwerf deur die persone wat dit geskryf het – MWS het dit wel ook na die aanbiddingsmark gebring.
Michael W. Smith is in eie reg ‘n kunstenaar met liedere soos “Friends” wat hy saam met Amy Grant en Gary Chapman geskryf het, Place in this world, Love me good, This is your time.
Fantastiese kunstenaar, gesinsman en geestelike leier! Enige iemand wat sy “vertonings” bywoon, sal definitief ‘n fantastiese belewenis he, solank mens onthou wat die hoofdoel daarvan is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.