Bernice West se voete ferm in geloof geplant

Bernice West (Foto: verskaf)

Nie net spog die sprankelende 21-jarige krulkop Bernice West met ʼn splinternuwe enkelsnit nie, sy is eersdaags op die planke te siene in die nuwe Afrikaanse musiekblyspel Die Gelofte.

Oor ‘Jona’ en nuwe musiek

Die nuwe liedjie is nie net ʼn nuwe enkelsnit nie, dis ook die titelsnit van West se tweede album wat binnekort die klankgolwe gaan tref.

“‘Jona’ is eintlik geïnspireer deur ‘Kom binne’, een van die liedjies op my eerste album. Dis iets anders.”

Die liedjie, wat uit West se pen kom, hou noue verband met haar persoonlike geestelike verhouding en is losweg gebaseer op die verhaal van Jona.

“Baie keer druk die Here jou iets op die hart, nes Hy met Jona gedoen het, wat jy dan vermy met alles in jou. Op die ou end word jy iewers ingesluk, nes die walvis vir Jona ingesluk het. Wanneer jy doen wat Hy van jou verwag en vra, kry jy vrede in jou hart.”

Hoewel die liedjie ʼn ernstige ondertoon het, is dit steeds ʼn lekkerluister-liedjie.

“Dis vars op die ore en daar is definitief ʼn oorwurm daarin versteek. Ek het ʼn goeie gevoel daaroor. Dis ook ʼn kans vir my as kunstenaar om te ontwikkel.”

(Foto: verskaf)

Oor Christenskap

West gesels graag en maklik oor haar geloof.

“Ek is nie ʼn eiland nie, ek kan niks sonder die Here doen nie. Die feit dat ek op so ʼn jong ouderdom kan doen wat ek doen, is net genade. Dis nie ek nie, dis die Here en ek.”

West is deel van ʼn groep kunstenaars wat lofprysliedere saamstel wat deel sal vorm van The Shelter, ʼn platform vir Christelike musiek.

“Ons benader die internasionale mark, ons wil graag Suid-Afrika verteenwoordig in musiek wat die Here loof en prys.”

Daar word beoog om met die nuwe platform ʼn aanlyn skuiling vir diegene te bied wat verlore voel in die gejaag van die alledaagse lewe. Daar sal ook musiek beskikbaar gestel word vir leerders en studente wat graag met musiek in die agtergrond wil leer.

The Shelter se eerste snit, “This is Who I am Without You”, is reeds beskikbaar.

West as Maria in Die Gelofte

Die veelsydige jong kunstenaar is eersdaags in Die Gelofte te sien en sal die rol van Maria vertolk.

“Die storie bevat baie juwele. Daar is soveel aspekte daarvan waarmee mense hulle sal kan vereenselwig. Daar is Christelike, romantiese, geskiedkundige en moderne dele in die blyspel. Daar is ʼn klomp stories wat in Die Gelofte vertel word wat later een storie vorm.”

West is borrelend opgewonde vir die blyspel om af te skop.

“Die rede waarom ek van drama hou, is die feit dat jy in ʼn karakter kan inklim en daardie karakter sonder enige voorbehoud kan wees. Jy word woorde gegee, jy kan dit net uitlaat sonder om ʼn filter te hê, want dis jou woorde. Met die sangbedryf moet jy versigtig wees wat jy sê omdat jy as mens in die kollig is.”

Sy het in haar skooldae aan al wat ʼn blyspel, revue en drama was, deelgeneem.

“Dit is ʼn gróót voorreg, ek is só opgewonde.”

Van die musiek wat in dié blyspel te hore is, sal later as enkelsnitte deur West beskikbaar gestel word.

(Foto: verskaf)

Waar alles begin het

Voordat West in haar matriekjaar aan die talentsoekprogram Maak my Famous deelgeneem het en sodoende bekendheid verwerf het, was sy sterk op pad na ʼn loopbaan as aktrise.

Haar droom om te sing het egter vinnig weer kop uitgesteek toe sy deel geword het van die bekende koor van haar alma mater, Hoërskool Rustenburg.

“Ons het een keer ʼn week kooroefening gehad, en dit was die hoogtepunt van my week. Van kleins af was ʼn sangloopbaan die groot droom, en dit was een van daardie drome wat ek maar onvoorwaardelik kon droom, aangesien ek nooit verwag het dat dit ooit waar sou word nie. Tydens kooroefening kon ek elke week ʼn stukkie van die droom uitleef.”

ʼn Gebalanseerde warrelwind

West se aanhangers ken haar as die energieke, borrelende sangeres wat gereeld op verhoë landwyd te siene is. Sy vind egter rustigheid in die skryf van lirieke.

“Ek kan nie preek nie, maar ek kan sing en skryf. My manier om te praat, om te sê wat op my hart gedruk word, is deur te skryf en te sing.”

Hoewel sy die geleentheid om te toer en op te tree terdeë geniet, raak die energieke aard van haar optredes soms uitputtend en sien sy haarself eerder as ʼn kreatiewe skepper.

“Ek skryf die melodie van die liedjies eerste, wat lekker is, maar wanneer die woorde kom, dan is dit ʼn wowoomblik. Dis wanneer ons besef ons het iets waardevol hier beet. Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe ʼn liedjie sy eie identiteit kry. Dis magic.”

Dis vir West van onskatbare waarde om dit wat sy geskep het met mense, veral diegene wat naaste aan haar is, te deel.

“My musiek is altyd oop vir interpretasie. Wanneer mense na my musiek luister, moet hulle daarmee kan vereenselwig as hul storie of die plek waar hulle tans in hul lewe is. Ek wil hê die boodskap wat ek deur my lirieke oordra, moet vir jou iets beteken.”

Hoewel die jong sangeres vanuit die skoolbanke sommer dadelik agter die mikrofoon ingeskuif het, aanvaar en hanteer sy die druk van gewildheid met sagtheid en volwassenheid.

“Rolene Strauss het eens vir my gesê daardie minuut wat jy saam met ʼn jong dogtertjie wat jou as rolmodel beskou, deurbring, maak die wêreldse verskil.”

Luister na “Jona”, die titelsnit van West se splinternuwe album, hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman L ·

Dit is wonderlik dat Bernice openlik haar geloof uitleef. As meer Christene dit doen, sal dit beter gaan in ons land.

Simoné ·

Jy is voorwaar ‘n voorbeeld Bernice! Ken God in alles wat jy doen, en Hy sal jou ken en dra. Ek sien uit na al jou optredes en musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.