Britney-boek ontbloot afgryse van popster se beheerde lewe

Britney Spears in die 1990’s. (Foto: Phototheque Lecoeuvre / Collection ChristopheL via AFP)

Met ʼn industrie wat haar sedert haar tienerjare obsessief verslind en later genadeloos uitgespoeg het, en ʼn familie wat haar vasgevang en misbruik het, is dit gʼn wonder dat die Amerikaanse sanger Britney Spears op 41 besluit het om uiteindelik haar eie verhaal in haar eie woorde met die wêreld te deel nie.

The Woman In Me, die popprinses se opspraakwekkende en openhartige nuwe memoires, het Dinsdag boekrakke wêreldwyd getref en reeds vir ʼn paar skokonthullings gesorg.

Dit beloof om lesers ʼn blik te gee op die “Toxic”-sanger se suksesvolle musiekloopbaan, verhoudings, asook haar uiteindelike ineenstorting wat tot ʼn 13 jaar lange voogdyskap gelei het.

Volgens kritici het dit sover nie teleurgestel nie, en moet dit as ʼn waarskuwingsverhaal eerder as ʼn poniekoerant-onthulling gelees word.

“Britney Spears weet hoe dit is om vasgevang te voel: eers deur armoede, dan deur roem, dan deur haar familie. Dit is onmoontlik om dit te lees en nie namens haar hartseer en verontwaardig te voel nie,” skryf die BBC se Mark Savage oor The Woman In Me.

Hier is van die boek grootste onthullings:

Stormagtige gesinslewe die beginpunt

The Woman In Me is deurspek met die invloed van Britney se beherende pa, wat deur sy dogter as ʼn “mislukte sakeman, alkoholis en beheervraat” beskryf word.

Britney skryf oor haar dikwels moeilike gesinslewe in Kentwood, Louisiana in die VSA, waar sy grootgeword het, en sê haar ma Lynne en pa Jamie het “gedurig baklei” weens sy alkoholmisbruik.

Britney as dogtertjie saam met haar pa, Jamie, en ma, Lynn. (Foto: Facebook/Britney Spears)

Sy onthul dat haar oupa aan vaderskant twee van sy vroue in inrigtings laat opsluit het en een selfs gedwing is om litium-behandeling te ondergaan – soortgelyk aan dié wat Britney later onder haar pa se voogdyskap in geestesgesondheidsbehandelingsgeriewe sou ontvang.

Die sanger verklap verder dat sy op 13 reeds met haar ma, Lynn, mengeldrankies gedeel het en skroom nie om haar ma en jonger suster, Jamie Lynn Spears, se aandeel én finansiële voordeel in die voogdyskap uit te lig nie.

Justin Timberlake-verhouding belig dubbele standaarde

Een van die onthullings wat tans die meeste media-aandag geniet is die beweerde aborsie wat Britney se ekskêrel, die sanger Justin Timberlake, haar glo oorreed het om te kry toe beide 19 jaar oud was.

In The Woman in Me voer sy aan dat die popsterpaartjie, wat van 1999 tot 2002 in ʼn verhouding was, besluit het dat hulle te jonk was om ouers te word en boonop die aborsie tuis gedoen het om media-aandag in ʼn hospitaal te vermy.

Die sanger beskryf hoe sy van pyn en angs gekrul het terwyl Justin haar met musiek probeer troos het: “Hy het gedink dat musiek dalk sou help, toe kry hy sy kitaar en lê daar by my en tokkel daarop.”

Britney Spears het ʼn skokonthulling oor haar destydse kêrel, Justin Timberlake, in haar memoires gemaak. (Foto: Lucy Nicholson/AFP)

Volgens Britney het sy en Justin egter nie dieselfde tipe nuusdekking geniet toe hul paadjies later geskei het nie. Sy meen hoewel beide mekaar verneuk het, sy as die “flerrie wat die hart van Amerika se goue seun gebreek het,” in die media gebrandmerk is.

Justin se besluit om aantygings dat Britney hom eerste verneuk het met sy trefferlied, “Cry Me a River”, verder te bevorder, het haar ook geweldig ontstel.

Hoewel sy kort daarna klaarblyklik haar gevoelens in ʼn treffer van haar eie, genaamd “Everytime” neergepen het, glo aanhangers dat dié lirieke nou ander betekenis dra en na die aborsie eerder as haar en Timberlake se verhouding verwys.

Voogdyskap ontneem Britney van volwassene word

Britney voer aan dat sy in 2007 breekpunt bereik het weens druk van haar gesin, platemaatskappy en die media om gelyktydig “ʼn fantasie, ʼn seksobjek, ʼn rolmodel en ʼn passiewe produk” te wees.

ʼn Openbare struweling met haar tweede man, Kevin Federline, en gevolglike toesigstryd oor hul twee kinders, het volgens Britney gelei na die nou alombekende foto’s van haar wat haar kop kaal skeer en ʼn steelfotograaf se motor met ʼn sambreel aanval.

Jamie Spears is ʼn jaar later as sy dogter se voog aangestel te midde van kommer oor haar geestesgesondheid, maar dit blyk dat die sanger geen sê oor haar loopbaan, liefdeslewe of lyf gedurende dié omstrede voogdyskap gehad het nie.

Aanhangers en ondersteuners van Britney Spears buite die County Courthouse in Los Angeles, Kalifornië op 23 Junie 2021. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

In die boek onthou sy hoe haar pa vir haar gesê het dat hy wettige beheer oor haar sake oorgeneem het, met die woorde: “Ék is nou Britney Spears.”

Lesers lees ook hoe die sanger van alle privaatheid ontneem is (selfs in badkamers), verhoed is om ʼn geboortebeperkingsmiddel te laat verwyder, vasgepen en medikasie gevoer is wanneer sy opstandig sou raak, en selfs selfone skelm moes insmokkel om met die buitewêreld te kommunikeer.

Dít alles skryf sy, het sy trotseer om tyd met haar nou vervreemde seuns, aan wie sy die boek opdra, te spandeer.

Hoewel sy “gesond genoeg” verklaar is om drie suksesvolle albums uit te reik en twee konsertreekse in Las Vegas te voltooi, is sy ʼn streng toelaag van $2 000 (R38 000) per week deur haar pa “gegee”.

“Van daardie stadium af het ek begin dink dat my pa my as niks anders behalwe kontantvloei gesien het nie,” skryf sy.

Britney en haar seuns in 2015. (Foto: Facebook/Britney Spears)

“Dié beheerde ooreenkoms het my van my vroulikheid gestroop en my weer in ʼn tipe kind verander.”

Die voogdyskap is in 2021 ontbind nadat die sanger danksy die sogenaamde #FreeBritney-beweging besluit het om die hof daaroor uit te daag.

“Nou mag ek weer sjokolade eet,” skryf Spears oor die klein vreugdes wat sy twee jaar ná die beëindiging daarvan geniet.

Die sanger en haar derde man, die danser en akteur Sam Asghari, se egskeiding word egter tot lesers se teleurstelling nie in die boek behandel nie en aanhangers moet klaarblyklik ook nie té gou opgewonde raak oor nuwe Britney-treffers nie.

“Om vorentoe te druk in my musiekloopbaan is nie op die oomblik my fokus nie. Dit is tyd vir my om nie iemand te wees wat ander mense wil hê nie; dit is tyd om werklik myself te vind.”

Dít het jy dalk ook nie oor Britney geweet nie:

(Foto: Facebook/Britney Spears)

  • Britney erken in haar boek dat sy in ʼn “kort, passievolle en stormagtige” verhouding met die Ierse akteur Collin Farrell was.
  • Sy het haar platemaatskappy se idee om “Baby, One More Time” se musiekvideo in die ruimte te laat afspeel, verwerp en voorgestel dat dit eerder soos die musiekblyspel, Grease, in ʼn skool moet plaasvind.
  • Sy het ʼn oudisie vir die hoof vroulike rol in die romantiese fliek, The Notebook, afgelê. Hoewel Rachel McAdams uiteindelik die rol gekry het, was die fliek se regisseur en vervaardigers geweldig beïndruk met die popsanger se akteursvernuf.

Bronne: AFP, BBC, The Guardian, The New York Times, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcha ·

Dit is mos maar die lewe van n popster. Elke aspek van jou lewe word beheer selfs wie hulle verhoudings met het word vir hulle voorgeskryf.

Vanessa ·

Ek was so mal oor Britney. Sy het my inspire met haar mooi musiek en lyf en menswees. Dis so hartseer om teweet al diè het met haar gebeur en ons was van niks bewus nie. Al het sy nou bietjie haar marbles verloor, het sy en sal altyd n sagte plek in my hart hê. En ek glo sy sal eendag weer opstaan en wys wie sy regtig is en nog altyd moes wees…
LOVE U BRIT!!! <3

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.