Foto’s: Fakkels brand hoog by LIG-konsert

Mathys Roets vermaak die gehoor by Helpende Hand se LIG-konsert. (Foto: Maroela Media)

“Soos met Helpende Hand se ander projekte gaan hierdie konsert nie daaroor dat ons persone met gestremdhede wil bederf nie. Die boodskap is andersom. Dit is van die persone met gestremdhede aan die persone sonder gestremdhede: ‘As ek kan, kan jy ook’.”

Só het Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, by Helpende Hand se tweede LIG-konsert gesê. Die konsert is op 3 September by Sol-Tech se kampus in Pretoria aangebied en honderde mense het weereens kom saamkuier.

Die sangeres Monique Steyn en akteur Erik Holm was die aanbieders en ʼn tolk het deurgaans die kunstenaars se lirieke in gebaretaal getolk.

Solidariteit Helpende Hand se tweede LIG-konsert is op 3 September by Sol-Tech se kampus in Pretoria aangebied. (Foto: Maroela Media)

Steyn het later self agter die mikrofoon ingeskuif en die gehoor met treffers soos “Sweef soos ʼn arend” en haar eie lied “Die boom” vermaak. Ander kunstenaars soos Mathys Roets, Ruhan du Toit, Vernon Barnard en Drihan du Plessis, bekend as Prop, het ook by die geleentheid opgetree.

Dit is te danke aan Prop dat dié konsert in 2021 op die planke gebring is. Hy het gedroom die Here praat met hom. Die Here en sy oom het vir hom gesê hoe hulle ʼn groot gehoor van hoop hoor weerklink. Ná hierdie droom het Prop met ʼn gevoel van moedigheid wakker geword. Kort daarna het sy geliefdes hom laat weet dat sy oom oor wie hy gedroom het, in die hospitaal waar hy vir Covid-19 behandel is, oorlede is.

Solidariteit Helpende Hand se tweede LIG-konsert is op 3 September by Sol-Tech se kampus in Pretoria aangebied. (Foto: Maroela Media)

Daarmee in gedagte het by by Helpende Hand aan Noëth se deur geklop en dit het eindelik gelei tot die eerste “Sing, Hoop, Weerklink”-konsert, oftewel die LIG-konsert wat gisteraand vir ʼn tweede keer aangebied is.

Nog hoogtepunte van die konsert sluit in die Mathys Roets-toekenning van hoop wat Prop aan Roets oorhandig het, ʼn rentevrye studielening wat aan Wesley Grant oorhandig is deur Helpende Hand se studiefonds vir gestremde persone, en die fakkelseremonie van hoop.

Tydens die seremonie het ʼn gestremde persoon elke afdeling in die Solidariteit Beweging en verskeie Helpende Hand-streke verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Laat jou Lig skyn vir ander, vir wie in donker leef. Moet nie jou talent onder ‘n emmer sit nie. Wel gedaan aan almal wat betrokke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.