Foto’s: Voortrekkermonument kry ’n veelkleurige baadjie

Monique Steyn sing op die Voortrekkermonument met die Jakarandastad se liggies in die agtergrond. (Foto: Theana Breugem)

As jy einde verlede week saans in Pretoria sou opkyk in die rigting van die Voortrekkermonument-koppie, kon jy jou maklik verbeel daar is ʼn grootskaalse soektog na ʼn vermiste vliegtuig soos wat helder en veelkleurige ligte oor en teen die monument weerkaats het.

Sou jy egter ʼn bietjie nader aan die terrein ry, sou jy die soet klanke van sangeresse soos Corlea Botha, Nianell en Monique Steyn hoor opklink, want dié monument was die agtergrond vir die repetisie van ʼn reeks skouspelagtige vertoning wat by die Voortrekkermonument opgeneem is en uitgesaai sal word.

Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurorganisasies (FAK) het kragte met Jak de Priester en die Voortrekkermonument gesnoer vir ʼn spesiale reeks virtuele konserte wat as die “Hier staan ons”-konserte bekendstaan.

Maroela Media het verlede week die geleentheid gehad om self te gaan loer hoe daar gerepeteer word vir die aanlyn konsert wat op Vrouedag (9 Augustus) uitgesaai sal word.

“Ons wil die Spoegwolf-generasie aan Afrikaans en ons kulturele erfenis bind, en met die pandemie op hande moes daar vinnig nuwe horisonne ontdek word vir nie net ons kulturele erfenis nie, maar ook die vermaakbedryf,” sê dr. Danie Langner van die FAK oor die doel van die konsertreeks.

“Die kinders van vandag praat nie Afrikaans of Engels nie, hulle praat ʼn digitale taal van sosiale media en ons bring die Voortrekkermonument en musiek tot reg binne in dié leefwêreld.”

En daar is digitaal behoorlik gewerkskaf: Twee van die grootste dataprojektors in die land word gebruik om die konsert en grafika teen die sowat 1 600 m2 monument te vertoon. ʼn Hommeltuig neem die sangers af terwyl die monument van alle kante belig word en die Jakarandastad se liggies word die agtergrond vir die vertoning.

Verlede week se repetisies het gevolg op die wegholsukses van Jak de Priester se eerste konsert by die Voortrekkermonument saam met Steve Hofmeyr op 16 Junie.

Woensdagaand het Spoegwolf se beurt aangebreek en kykers sal die konsert op 18 Julie kan kyk. Corlea, Nianell en Monique het Donderdag saam geoefen aan ʼn konsert wat spesiaal vir Vrouedag geskep is, en Jannie Moolman het Vrydag gewerk aan ʼn ligte klassieke konsert wat op 13 September uitgesaai sal word.

“Die droom is natuurlik om weer konserte so gou moontlik voor ʼn gehoor te kan doen,” sê De Priester. “Ek kan nie wag vir die dag wat ons weer 2 000 mense het wat hier reg voor ons sit nie, maar in die tussentyd is ons besig om die grondwerk te doen om hierdie unieke konsertreeks uit te brei vir ʼn gehoor.

“Wie weet, eendag kan ons nog vir André Rieu net hier voor die Voortrekkermonument ontvang, maar tot dan vier ons ons kuns en kultuur op al die maniere wat ons kan,”

Volgens Nianell is dit vir haar heerlik om tussen mense te wees vir ʼn konsert. “Ek geniet die mense eintlik veel meer as die musiek. Dan kan ek nog saam met mense werk soos Corlea, Monique en Jak teen die ongelooflike agtergrond van die Voortrekkermonument, dit is eenvoudig asemrowend.”

Corlea het op haar beurt gesê dit is vir haar ʼn voorreg om deel te wees van ʼn konsert waar sy “Bittersoet” kan sing en op so ʼn manier ʼn kollig kan plaas op geweld teen vroue en kinders op Vrouedag. “Dit is waarlik ʼn eer om ʼn boodskap en waarheid te kan deel met elke vrou wat onder geweld ly. Dit gebeur so dikwels, maar daar word steeds veels te min hieroor gepraat.”

Monique sê haar lied wat sy opdra aan vroue in die konsert is “Vure brand”. “Iets spesiaals en positief gebeur wanneer ʼn klomp vroue bymekaar kom en nou kan ek dit laat gebeur op ʼn verhoog saam met vroue soos Nianell en Corlea.”

Kaartjies vir ʼn “Ons staan hier”-konsert kos R60. Vir R150 kan kykers na al drie konserte kyk. Kaartjies is beskikbaar by www.ticketslive.co.za en www.plankton.mobi.

Kyk hier na eNuus se video oor die Donderdag se repetisie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.