Francois en Nykie sterre van nuwe musiekvideo

Adèle Fouché, Farancois Jacobs, Nykie Pretorius en Lila Botha van Saarkie. (Foto: Verskaf)

Op my Eish!2 se Francois Jacobs en Nykie Pretorius koer weer saam voor die kameras, maar dié keer is dit vir die Afrikaanse rockgroep Saarkie se musiekvideo vir hul jongste enkelsnit, “Rondomtalie”.

Die twee speel ʼn verliefde paartjie wat saam by ʼn ou huis intrek nadat Francois se karakter haar op ʼn rondomtalie in die parkie vir die eerste keer daarvan vertel.

In dié musiekvideo, wat deur Kopwond Films in ’n ou antieke huis verfilm is, dans en terg die twee geliefdes mekaar terwyl hulle saam hul nuwe huis verken.

“Rondomtalie” word beskryf as ʼn Afrikaanse folk-liedjie en is Saarkie, wat al meer as 16 jaar saam musiek maak, se eerste enkelsnit van hulle sesde ateljee-album.

Maroela Media het vroeër berig dat Jacobs die 25-jarige Pretorius as sy pasmaat in die jongste aflewering van dié kykNET-program gekies het.

Francois en Nykie dans en terg mekaar in die nuwe musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Die akteur het aan Maroela Media vertel dat Saarkie-groepslid Lila Botha hom en Pretorius vir die nuwe musiekvideo genader het nadat sy weekliks sy soeke na liefde in Op my Eish! gevolg het.

“Ek en die dames van Saarkie stap al lank saam ʼn pad en het kort na universiteit bevriend geraak. Lila was ook verheug dat ek en Nykie toe op die einde bymekaar uitgekom het en het gevra of ons deel van die musiekvideo kan wees.”

Jacobs sê hoewel dit Pretorius se eerste keer voor die kameras in dié hoedanigheid was, die proses ʼn lekker en uiters gemaklike een was. “Ons liefde blom steeds net so sterk en ek dink mense om ons sien dit raak. Ons was baie opgewonde om deel te wees van dié projek.”

Pretorius het op haar beurt bygevoeg dat dit veral lekker vir die paartjie was omdat hulle “net hulself” voor die kameras kon wees.

Dit blyk dat “Rondomtalie” ook in die paartjie se koppe vasgesteek het. “Ek is ʼn massiewe aanhanger van die groep en ek en Nykie sing die lied nog elke dag sover. Die lied bly nogal by jou en ek dink dit is soos wat die liefde is. Al gaan dinge swaar of goed, die liefde bly die anker in ʼn verhouding.”

Francois en Nykie baljaar in die tuin. (Foto: Verskaf)

Dié lied is uit die pen van Saarkie-lede Adèle Fouché en Lila Botha, asook Christine du Plessis as medeskrywer. Volgens die groepslede sal ’n wye gehoor by die lied aanklank vind omdat almal al “’n rondomtalie van goeie en slegte tye” ervaar het.

“Die lewe vat ’n mens op geheimsinnige paaie, ’n mallemeule van oomblikke. Op ’n dag ontmoet jy iemand, en dit voel of jy die besonderse mens al ’n leeftyd ken. So asof hulle nog altyd daar was, maar die tyd moes eers reg wees,” vertel hulle oor die betekenis agter dié liedjie.

ʼn Nuwe gesig het ook onlangs by Saarkie as baskitaarspeler aangesluit.

Die sestienjarige Angelo Roman – wie se pa die musikant Rixi Roman is – vergesel Saarkie die afgelope jaar op die verhoog en het volgens die groep ʼn besondere aanvoeling vir musiek.

“Hy het ’n mooi hart en ons hou van sy persoonlikheid, op die verhoog is hy uit en uit ’n rockster,” sê die groep oor die jong Pretorianer.

Kyk die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonkprop ·

Baie waaghalsig om tv romanse in ‘n video te gebruik. As dit nie uitwerk tussen die twee nie dan sal dit definitief die video beinvloed. Gebruik eerder modelle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.