Gerhard Steyn en sy Zelri: ‘Ons is regtig beste vriende’

Gerhard en Zelri Steyn saam met hulle dogtertjies, Zardi en Zaniq. (Foto: Verskaf)

Die “Baby Tjoklits”-sanger, Gerhard Steyn, het nou wel ʼn paar maande gelede saam met die sangeres Charlize Berg ʼn liedjie getiteld “Lucky Packet-ring” uitgereik, maar dít is allermins die soort ring wat hy nege jaar gelede aan sy blondekopvrou, Zelri, se vinger gesteek het.

Gerhard (45) en Zelri (31) is op 1 Junie 2013 op ʼn landgoed in Muldersdrift, Gauteng, getroud en het sedertdien twee pragtige woelwater-dogtertjies ryker geword.

Hoewel daar destyds wyd berig is oor hulle glansryke troue, is dit die egpaar se huwelik van nege jaar én hulle hegte band wat aan die groot klok behoort te hang.

Zelri, wat haar eie mode-onderneming bestuur, en Gerhard, wat steeds met ʼn suksesvolle sangloopbaan woeker en ook onder meer as die aanbieder van Konings van kitskos op VIA te sien is, sê die grootste uitdaging in hulle huwelik is om gehalte tyd vir mekaar in hulle gejaagde lewens te skep.

“Ons is regtig beste vriende,” sê die paartjie in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Ons connect, ons bid, ons gesels, ons lag, ons huil, ons deel alles met mekaar, en so is dit dan maklik om ʼn balans te hou as jy weet wat is belangrik in ʼn huwelik.”

Zaniq (2) en Zardi (5), wat in 2016 op 32 weke gebore is, hou ook die egpaar op hulle tone. “Hulle het beslis ons lewe kom inkleur met die mooiste kleure en ons lewe kom vol maak,” vertel die egpaar oor dié twee skattige dogtertjies.

“Om kinders groot te maak bly ʼn uitdaging in ʼn huwelik en dit kom weer terug na die feit dat ʼn mens tussen die kinders en hulle behoeftes deur moet besef dat ‘ons’, Gerhard en Zelri, belangrik is, dat Gerhard en Zelri as paartjie eerste gekom het.

Gerhard en Zelri Steyn. (Foto: Verskaf)

“Ons sien ons liefde vir mekaar deur ons kinders en as ons vir ons kinders kyk sien ons Gerhard en Zelri. Ons is so ʼn hegte gesin en lewe absoluut vir mekaar.”

Hulle raad vir paartjies wat pas getroud is en daaraan dink om met ʼn gesin te begin, is eenvoudig: “Onthou altyd dat julle eerste was en ook laaste gaan agterbly as die kinders uit die huis is, en dat julle altyd vir mekaar as man en vrou moet tyd maak en nie net verdrink in die kinders se behoeftes nie.”

Destyds is daar ook gegis oor die ouderdomsverskil van sowat 15 jaar tussen Gerhard en Zelri, maar dit skeel die egpaar tot vandag toe min.

“Soos die Engelse sê: Age is just a number, en so iets maak lankal nie meer saak nie. Dit gaan oor die liefde en goeie verstandhouding wat ons het. Ons leer verskriklik baie by mekaar,” sê Zelri.

“Gerhard leer my om beter in situasies op te tree of nie dadelik te reageer in ʼn oomblik nie.”

“Zelri leer my weer om te laat gaan en nie te lank oor dinge te top nie,” voeg Gerhard by.

“Dit gaan ook daaroor om mekaar aan te vul en die beste in mekaar na vore te bring. Dit is só belangrik om aan ʼn mens se huwelik te werk. Werk, werk, werk aan jou huwelik! ʼn Mens is so geneig om aan jou loopbaan, jou kinders en jou liggaam te werk, maar ʼn mens gee so gou op as dit by ʼn huwelik kom. ʼn Huwelik verg tyd van albei partye om dit te maak werk.”

Gerhard en Zelri Steyn. (Foto: Verskaf)

Die Steyns, wat ook mal is oor gesinsvakansies, se grootste huwelikswenk is kommunikasie.

“As daar kommunikasie is, sal die res 100% in plek val. Dan sal die date nights en die saamwees baie maklik gebeur. Dit is belangrik om plek te maak om spontaan, impulsief en laf saam met mekaar te wees, want dit is waar die romanse wegkruip.”

Volgens Zelri en Gerhard doen hulle alles saam wat hulle moontlik kan. “Of ons nou televisie kyk, sit en gesels, stap, buite sit en ʼn vleisie braai, of net by mekaar sit sonder dat een van ons ʼn woord sê – partykeer kry ons ook nie kans om te praat met die kinders wat so besig is nie –  dan kyk ons vir mekaar en kan maar net lag. Ons as gesin geniet om alles saam te doen.”

Hulle benadruk dat God die middelpunt van ʼn huwelik moet wees. “Sjoe, God is alles. As God nie die middelpunt is nie, sal alles uitmekaar val. Albei se geloof in God moet ook sterk wees sodat julle saam kan sterk wees,” sê hulle.

Zelri sê daar is nie ʼn enkele ding van haar man waarop sy nie halsoorkop verlief is nie. “Hy is my hele lewe, my alles, maar as daar een ding is wat ek kan uitsonder is dit hoe hy my altyd laat lag, maak nie saak in watter situasie of oomblik ons onsself bevind nie,” koer sy.

Gerhard sê Zelri het hom geleer hoe om sy liefde te wys, liefde uit te leef en om te ontvang asook uit te deel.

“Sy het my ook geleer dat verjaardae maar gevier mag word. Niemand verstaan my soos sy nie. Sy het my al op my knieë sien huil, my al sien lag dat ek nie kan asem kry nie, en ek het niemand nog ooit so lief gehad nie. Sy is my alles en uit ons liefde is ons twee pragtige dogtertjies gebore. Niks in die wêreld is mooier en lekkerder as dit nie.”

Maroela se Bruid van die Jaar: Skryf in as Somerbruid!

Maroela Media bied vanjaar vir die eerste keer ʼn spesiale Bruid van die Jaar-kompetisie aan. Dit word in samewerking met Dream Hotels & Resorts aangebied en daar is groot pryse op die spel.

Ons gaan elke seisoen ʼn seisoenbruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys. Jy kan in aanmerking kom vir ons Somerbruid as jy tussen Desember 2021 en Februarie 2022 trou. Inskrywings vir ons Somerbruid sluit op 4 Maart 2022. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.