Konsert ter ere van Angie Oeh gehou

Angie Oeh. (Foto: Marina Maré Photography/Facebook)

ʼn Konsert ter ere van Angie Oeh word Woensdag in Pretoria aangebied. Dié 24-jarige kletsrymer het op 19 Augustus haar stryd teen longkanker verloor.

Die kaartjieverkope is ten bate van Oeh se mediese rekeninge. Sy het in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria gesterf kort nadat sy met fase 4-longkanker gediagnoseer is.

Die konsert vind by Railways Café in Irene, Pretoria plaas. Martin Bester, Karlien van Jaarsveld, Jaco van der Merwe, Van Pletzen, Jan Bloukaas, Zaan Sonnekus, Biggy en Loufi sal op die verhoog te sien wees.

“Ons is baie dankbaar aan almal wat betrokke is by Angie se geldinsamelingskonsert by Railways Café,” sê Wynand Myburgh, Oeh se bestuurder.

“Dit is baie hartseer dat Angie nie meer hier is nie, maar die geld wat deur die konsert ingebring word, is nog steeds noodsaaklik om al die kostes rondom Angie se behandeling te dek.

“Dit gaan ook ʼn fantastiese geleentheid wees om hulde aan onse Angie te bring en ons moedig almal aan om dit asseblief te ondersteun. Kom ons pak Railways Café uit vir Angie!”

Oeh is op Maandag 14 Augustus met fase 4-longkanker gediagnoseer en het die volgende dag ’n noodoperasie ondergaan. Teen die Donderdag het sy met chemoterapie begin.

“Na die tweede chemosessie op 18 Augustus het sy begin sukkel met lae suurstofvlakke in haar bloed en is sy in die hospitaal se waakeenheid opgeneem. Daar is alles moontlik gedoen om haar te stabiliseer, maar ongelukkig het dinge net nie beter gegaan nie en het haar organe begin ingee,” het Louise Crouse, Oeh se publisiteitsbestuurder, gesê.

ʼn Back A Buddy-fonds, wat op 14 Augustus deur Oeh se bestuurspan van stapel gestuur is om met mediese onkostes te help, het binne 48 uur die oorspronklike doelwit van R250 000 bereik.

Dié geld sal steeds aangewend word om mediese onkostes, asook die kostes van die gedenkdiens en begrafnis en ander versteekte kostes te dek.

Oeh, wat in 2021 op die Afrikaanse musiektoneel verskyn het met haar omstrede voorkoms en lirieke, het oor die afgelope paar jaar saam met verskeie bekende kunstenaars in die bedryf gewerk, onder andere Biggy, Loufi, Van Pletzen en Jack Parow.

Oeh was ten tyde van haar diagnose besig om aan nuwe musiek saam met vervaardigers Kay Faith en Van Pletzen te werk. Of van dié musiek nog die lig gaan sien, is nie op die oomblik bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannelie ·

Ek het haar nou die aand op Rian se show saam Sonja Herholdt gesien. Mens moet verby die tattoos, die tipe liedjies kyk. Ek dink sy was ‘n kind met ‘n diep siel.
Rus in Vrede Angie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.