Liezel Pieters oor haar liefde vir Bosveld, Afrikaans

Liezel Pieters. (Foto: Liezel Pieters/Facebook)

Die betowerende fluweelstem van Liezel Pieters weerklink in Afrikaanse huishoudings oor die land heen, maar dit is haar liefde vir haar mense, die Afrikaanse kultuur en bowenal die bos wat haar eie hart laat vinniger klop.

Die mikrofoon, wat Pieters se hart al op negejarige ouderdom gesteel het, deel die kollig met ’n hele paar ander passies wat dié talentvolle sangeres nastreef.

Een van dié is haar liefde vir die natuur. Haar hart word stil in die Bosveld en sy sê dit is hier waar sy opnuut kennis met die Here maak.

“As ek in die wildtuin is, met sterre wat so helder skyn, voel ek ongelooflik naby aan my Skepper. Dis daar waar my siel rus.”

Die beskerming van die natuur is vir haar iets wat na aan die hart lê en iets wat sy graag met toekomstige generasies wil deel.

“As ons nie vandag na ons diere gaan begin omsien nie, gaan ons dit nie eendag met ons kinders kan deel nie.”

Die pad Krugerwildtuin toe is in haar hart ingeprent. Sy nooi ook dikwels mense om saam met haar die Bosveld te verken en nuwe Bosveldherinneringe te skep.

“Of jy nou van die wildtuin hou of nie, dis ’n ervaring wat jy nie maklik gaan vergeet nie.”

Pieters erken dat as sy nie die verhoog so betowerend gevind het nie, was sy vandag ’n wildbewaarder wat daagliks die wildtuin platgery het.

Hoewel sy nog nie mikrofoon vir ’n dreunende wildtuinbakkie verruil het nie, bied sy tog aan stadsjapies ’n geleentheid om die dolle gejaag agter te laat.

Liezel Pieters saam met een van die renoster tydens ‘n vorige kuier. (Foto: Die Toerbroers/Facebook)

Saam met die Toerbroers bied Pieters ’n heerlike geleentheid waartydens mense ’n aand lank nie net heerlik saam met haar kuier nie, maar ook die geleentheid kry om ’n ontmoeting met ’n paar klein renostertjies te hê.

Mense wat saam op die avontuur gaan, ontmoet mekaar om 15:00 in Montana, Pretoria. Vandaar word hulle na ’n geheime ligging ’n entjie van Pretoria geneem waar hulle dan die geleentheid kry om heerlik tyd saam met die renosters deur te bring.

’n Akoestiese vertoning onder die sterre wag dan op die avontuurlustiges, en om 22:00 is hulle veilig terug in Pretoria.

As klein dogtertjie het sy nie net gedroom oor die dag wanneer sy ’n sangeres gaan wees nie; soos baie ander het sy ook veearts-lugkastele gebou. Sy het egter vinnig besef dat haar hart nie gebou is om diere in pyn te sien nie.

“Dit voel asof ek self seerkry!”

Pieters het in ’n reusefamilie grootgeword. Sy gesels maklik oor die grondslag wat dít in haar lewe geskep het.

“Ek het grootgeword met groot familiebyeenkomste. Dis ongelooflik belangrik vir my.”

Dié samekoms van familie is vir haar eg aan die Afrikaanse kultuur.

Hoewel die borrelende sangeres hoofsaaklik met Engelse musiek grootgeword het, is dit Afrikaanse musiek wat op die ou end haar hart gesteel het.

“Vandat ek my eie Afrikaanse solo-album uitgereik het, besef ek net weer hoe mooi die taal werklik is. Dis een van die mooiste tale in die wêreld.”

Die Solidariteit Beweging het sy 120ste bestaansjaar gevier. (Foto: Reint Dykema)

Sy het haar liefde vir Afrikaans met ’n hele paar bewoë gehoorlede gedeel tydens die viering van die Solidariteit Beweging se 120ste bestaansjaar vroeër vanjaar by die Voortrekkermonument in Pretoria.

“Dit was wonderlik om te sien hoe musiek mense bymekaar gebring het en hoe ons saam gestaan het om dit te vier.”

Sy is op haar gemaklikste wanneer sy op die verhoog is. Die energie wat deur die gehoor vloei is iets wat haar passie net nog verder aanwakker.

“Ek is mal daaroor om te gesels met die gehoor, te giggel en ’n grap hier en daar te vertel.”

Om op die verhoog te wees, met mense wat heerlik saam met haar sing, beskryf sy as “die gevoel om op malvalekkers te loop”.

Hoewel Krone, die reusekonsert waarvan Pieters deel is, nog nie ’n terugkeer ná die Covid-19-pandemie gemaak het nie, is daar steeds ander Krone-projekte wat plaasvind.

Een van dié is nog ’n Krone Cruise wat in Februarie 2023 plaasvind. Pieters gaan saam met Eloff, Refentse, Kurt Darren, Brendan Peyper, Elizma Theron en Monique Steyn die see rooi verf.

“Dis die derde Krone-boot wat ek doen. Dis baie lekker, ek geniet dit vreeslik. Om mense gelukkig te sien is heerlik.”

Sy moedig mense aan om saam te kom kuier tydens dié ervaring.

Hoewel sy die vermaakbedryf geniet, weet sy dat dit ’n uitdagende omgewing is om in te werk.

Vriendelike mededinging met diegene wat sy as vriende in die bedryf beskou, is ongetwyfeld deel van die werk.

“Dis nie maklik nie, maar dis lekker, regtig lekker.”

Pieters geniet dit om grense uit te daag. Wanneer iemand vir haar sê dat sy iets nie gaan kan regkry nie, is dit juis dán wat sy besluit om die uitdaging aan te pak en dit haar eie te maak.

Een van dié uitdagings is die Roxette-huldeblykproduksie waarmee sy tans saam met Dewald Dippenaar die land plat toer.

Sy het grootgeword met die musiek van Roxette. Toe die groep in 2011 ’n Suid-Afrikaanse draai kom maak het, het sy nie geskroom om kaartjies te koop nie.

“Ek het die hele konsert byna deur gehuil. ʼn Mens kon sien dat sy nie lekker was nie,” vertel Pieters aan Maroela Media.

Elke keer wat een van die groep se liedjies op die radio gespeel het, het Pieters se hart warm geklop. Sy het geweet dat sy daardie liedjies al te lekker sal kan sing.

Sy het die huldeblykproduksie op die been gekry en sê dat Suid-Afrikaners dit terdeë geniet.

“Mense gaan mal. Ons het juis die liedjies gekies waarby mense gaan aanklank vind.”

  • Vir meer inligting oor ’n aand onder die sterre saam met renosters en Liezel Pieters kontak [email protected].
  • Bespreek jou plek op die MSC-Krone-vaart hier.
  • Hou Liezel Pieters se Facebook-blad dop vir wanneer haar Roxette-toer in jou dorp of stad kom draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.