Luister: Barto – van nuweling musikant tot Afrikaanse treffermaker

Barto. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Sedert die jong sanger en liedjieskrywer Barto se debuutenkelsnit, “H2Oë”, verlede jaar die klankgolwe met mening getref het, het hy ʼn lysie van treffers agter sy naam bymekaargemaak.

“Impulsief” en “Ons twee genoeg” saam met die sangeres Marissa, het die ganse land aan die gons terwyl eersgenoemde ook steeds ʼn stewige posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 behou.

Barto se heel jongste uitreiking, “Vlam in die wind”, laat die vure van Barto se gewildheid selfs nog hoër brand en is tans te hoor op al wat ʼn Afrikaanse speellys en treffersparade is.

Die musikant vertel in Maroela Media se ateljee sy lewe het handomkeer verander sedert sy debuutuitreiking en dat sy musiekloopbaan tans van krag tot krag gaan.

“Ek het gedink ek gaan vir nog ʼn hele paar jaar my dag tot dag werk moet doen, maar ek sit hier vandag, bevoorreg om te kan sê ek maak voltyds musiek. Dit is die beste gevoel in die wêreld en ek is ewig dankbaar.

“Ek sit nou hier met ʼn groot glimlag op my gesig en my hart is vol, elke dag.”

Hy vertel hy wou met “Vlam in die wind” ʼn middeweg vind tussen “H2Oë” en “Impulsief”: “ʼn Lekker kuierliedjie, maar iets wat steeds aan die siel met hartsdiepte raak.”

Barto kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Hy sê luisteraars sal nie sommer ʼn liedjie uit sy pen hoor wat nie ʼn dieper betekenis het nie.

“Ek sien nie werklik sin in ʼn liedjie as dit nie minstens vir die kunstenaar iets beteken nie. In daardie opsig is diepte in musiek nie vir my belangrik nie, dit is noodsaaklik,” benadruk Barto.

Hy vertel hulle het van sonop tot sononder gewerk aan die musiekvideo vir “Vlam in die wind”, wat reeds byna 133 000 keer op YouTube gekyk is sedert dit minder as ʼn maand gelede die lig gesien het.

Die video is in Nigel in Gauteng geskiet, vertel Barto.

“Die plek waar ons geskiet het lyk soos ʼn soutpan. Ek weet nie hoe videograwe op hierdie plekke afkom nie, maar toe ons by daai groot oop stuk grond uitkom, het ons die hele dag gespeel en gedans. Ek was die volgende dag so styf, maar dit was so lekker.”

Hy sê die terugvoer wat hy oor “Vlam in die wind” kry is oorweldigend. “Ek is so bly en opgewonde dat die liedjie so goed vaar. Hy waai as’t ware soos ʼn vlam in die wind.”

“Vlam in die wind” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Barto.

Kyk hier hoe Barto meer vertel oor “Vlam in die wind” in Maroela Media se ateljee:

Kyk hier na die musiekvideo vir “Vlam in die wind”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andriette ·

Ons sit laas jaar by ‘n bekende piekniek plek en luister na ‘n jongman wat saam met ‘n groep vriende sit en aan sy kitaar tokkel en ‘n (nou baie bekende) liedjie sing. Groot is ons verbasing om dieselfde jongman te sien en te hoor op radio en tv. Baie geluk Barto. Mag jy net groot hoogtes bereik en jou voeta plat op die aarde hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.