Luister: Janie Bay, Elandré roer hartsnare met liefdeslied

Janie Bay en Elandré kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Janie Bay en Elandré is kunstenaars in eie reg, met ʼn ongekende passie en talent vir musiek wat saamgevoeg is in die splinternuwe enkelsnit, “Die einde”.

Die kunstenaars vertel in Maroela Media se ateljee dit was ʼn voorreg om saam ʼn oorspronklike Afrikaanse liedjie te skep.

“Ek het die liedjie al in 2021 geskryf, maar my instink het vir my gesê ek moet die liedjie saam met iemand anders opneem. Ek vertrou altyd my instink,” vertel Janie.

Radiostasies ontvang die liedjie uiters goed en dit pryk ook op treffersparades soos die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

“Ek het die liedjie klaar vervaardig en besluit om dit vir Elandré aan te stuur, met die hoop dat hy die liedjie saam met my sou wou aanpak en voltooi. Vandat ek die eerste keer sy liedjie, ‘Stilte voor die storm’ gehoor het, het ek geweet hy is ʼn spesiale kunstenaar en dat ek graag eendag saam met hom sou wou werk.”

Elandré, ʼn bekroonde liedjieskrywer wat al met ʼn hele rits gesogte Afrikaanse musiektoekennings vereer is, het saam met Janie aan sy gedeelte in die liedjie geskaaf.

“Dit was op die ou einde nie nodig vir my om veel te verander nie, maar dit was nogtans vir my belangrik om my gedeelte my eie te maak en ʼn bydrae tot die eindproduk te lewer,” sê die “Vuur op die water”-sanger.

Janie Bay en Elandré het pas hul nuwe liedjie, “Die einde”, uitgereik. (Foto: verskaf)

“My wens vir ‘Die einde’ is dat die liedjie mense sal vind in plaas daarvan dat hulle die liedjie vind. ʼn Paar mense het al vir my gesê hulle vind aanklank by die liedjie, of dat dit hulle emosioneel maak, en dis waaroor dit gaan. As jy een persoon kon aanraak, het jy jou werk gedoen.”

Die veelsydige kunstenaar is ook binnekort by Krone by Loftus-verhoog te sien saam met 21 ander gesogte Afrikaanse kunstenaars. Die saamsingjol beloof om ʼn unieke ervaring vir elke konsertganger te bied en daar word sowat 30 000 mense by die konsert verwag.

“Ek sien uit daarna. Daar word soveel moeite en tyd deur ʼn hele klomp mense ingesit vir slegs een aand, en ek dink dit gaan baie spesiaal wees.

“Al die details word fyn uitgewerk en selfs die kostuums word by elke kunstenaar se spesifieke handelsmerk ingepas,” verklap hy.

Krone by Loftus vind Saterdag 19 Augustus plaas. Kaartjies is hier beskikbaar.

“Die einde” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Janie Bay en Elandré.

Janie Bay en Elandré deel vyf goed wat hulle in gemeen het met Maroela Media:

Kyk hier na die musiekvideo van “Die einde”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.