Luister: Riaan Benadé oor sy beroemde pa, ‘ons sal self’ en wegholsukses

Riaan Benadé. (Foto: Francois Olivier)

As skugter jong man op ʼn klein dorpie waar hy homself geleer het om kitaar te speel, sou die sanger en liedjieskrywer Riaan Benadé nooit kon dink dat hy eendag ʼn bekende kunstenaar sou word nie.

Al is sy pa die bekende sanger Franna Benadé, wat in die negentigs bekendheid verwerf het saam met sy broer Innes as die sangduo Innes en Franna, het sy pa se destydse bekendheid hom nie die hupstoot gegee in die musiekbedryf soos wat ʼn mens maklik sou aanneem nie.

Pa Franna het vir hom ʼn paar akkoorde op die kitaar geleer, daarop gewys dat hy “nie so deur sy neus moet sing nie” en hom gelos om sy eie weg te baan tot waar hy vandag is, vertel Riaan (28) in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

Sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf het as’t ware spontaan gebeur nadat hy by Coleske Artists aangesluit het as liedjieskrywer en uiteindelik verlede jaar sy debuutalbum Spontaan uitgereik het.

Die eerste enkelsnit in die album, “Gooi nog ʼn whisky”, het Benadé se voete as kunstenaar stewig in die musiekbedryf gevestig, maar dit is die titelsnit van die album wat aanhangers tans aan die gons het.

“Spontaan” het vroeg in Februarie vanjaar binne ʼn enkele week van die 19de plek na die eerste posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 gespring. Die liedjie het ook die treffersparade gehaal nog voordat dit as ʼn amptelike enkelsnit uitgereik is en is ná vier weke steeds in die no. 1-posisie.

“Ek kon dit nie glo nie. Dit het net weereens vir my bevestig hoe sterk die liedjie is en ek is so dankbaar dat ons ʼn musiekvideo vir die liedjie kon uitbring, sodat ons ʼn visuele element ook by die snit kan voeg.”

Die musiekvideo is op Valentynsdag uitgereik en het reeds byna 118 000 trefslae op YouTube. Die Johannesburgse model en sangeres Cara Frew is saam met Riaan in die video te sien.

Hy vertel die saadjie vir die liedjie is deur vervaardiger Paulo Azevedo by hom geplant. “Dit is ʼn liefdesliedjie wat gaan oor hoe dinge tussen twee mense spontaan aan die brand slaan wanneer daar ʼn aantrekkingskrag tussen hulle is. Partykeer ontmoet jy iemand en die sparks is so groot dat daar dadelik vlamme is, maar dit woed dan weer net so vinnig uit.”

Riaan Benadé. (Foto: Francois Olivier)

Riaan het ook onlangs die volk se hartsnare geroer met die enkelsnit “Ons sal self” wat in Oktober verlede jaar bekend gestel is as deel van Solidariteit se nuwe Werkherstelprogram. Marno van der Merwe en Arnold Coleske het die liedjie saam met Riaan geskryf.

Marno is ʼn bekende Afrikaanse akteur wat in die kykNET-reeks Sterlopers en die SABC2-sepie 7de Laan te sien was. Hy het ook die hoofrol in Riaan se musiekvideo vir “Gooi nog ʼn whisky” vertolk.

“Wat min mense weet, is dat Marno ʼn kleinneef van my is. Ons was nooit regtig vriende voor 2019 nie weens die ouderdomsgaping. Ons het onlangs goeie vriende geraak en ook saam ‘Vat ʼn bietjie’ in die album geskryf.

“Marno is altyd baie entoesiasties daaroor om ʼn liedjie te skryf en daarom het ek hom genader om my te help met ‘Ons sal self’.”

Hy sê hy was “skrikkerig” toe Arnold hom bel met die tema van die liedjie vir Solidariteit se veldtog.

“ʼn Mens wil nie jouself in ʼn situasie plaas waar jy moontlik geboikot kan word nie. Iets waarmee daar egter geen probleem is nie, is om vir jou regering ʼn ope brief te skryf. Ek en Marno het toe die lirieke in die vorm van ʼn brief geskryf en Arnold het ons gehelp om aan die liedjie te skaaf tot hy perfek was.”

Hy vertel oorspronklik sou net twee kunstenaars die liedjie uitvoer, maar die terugvoer van die kunstenaars was so oorweldigend positief dat 16 van Afrikaans se bekendste kunstenaars uiteindelik ingestem het om deel te wees van die liedjie.

Saam met Riaan is Charlize Berg, Chris Else, Corlea, Demi Lee Moore, Dewald Wasserfall, Gerhard Steyn, Ivan Roux, Jay, Lianie May, Liezel Pieters, Monique Steyn, Ruhan du Toit, Steve Hofmeyr, die nuweling Tasha en die duo Touch of Class almal deel van dié veldtog.

“Dit is vir my regtig lekker om te weet dat daar soveel kunstenaars is wat bereid was om saam met my standpunt in te neem. Ek is trots op die standpunt wat ons as mense van Suid-Afrika inneem.”

Pa Franna bars ook van trots oor sy seun se suksesvolle musiekloopbaan, al het hy nooit musiek op sy kinders afgedwing nie.

“My pa weet wat die struikelblokke is en weet dat die lewe van ʼn musikant vlietend kan wees. Hy het my geleer dat jy moet inkom, goed skep en jou uittrede op ʼn baie elegante wyse maak – nié noodwendig uit die musiekbedryf nie, maar dalk uit die kollig. Ek slaan beslis ag op enige raad wat hy vir my gee,” sê Riaan.

“Die Here het geweet dat ek musiek moet maak. My ouers is uiters trots op my en opgewonde oor wat voorlê, maar ek dink nie enigiemand is so opgewonde soos ek nie.”

Spontaan en “Ons sal self” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige ateljeeonderhoud.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Spontaan”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Ek sien ‘n blink toekoms vir hierdie jong man.
Sterkte Riaan xxx

Retha ·

Dan is die jongman nog iets vir die oog ook. As die ou tannie dit kan raaksien, wat nog te sê van al die jong dames

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.