Luister: Rocco maak boeremusiek sjiek

Rocco de Villiers by Anton Hartman, ‘n Suid-Afrikaanse dirigent en musiekpionier, se historiese 127 jaar oue Bechstein-klavier. Dit staan tans by die FAK se liedjietuin. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy kinderjare op Harrismith het die gevierde pianis Rocco de Villiers geïnspireer om sy vellies aan te trek en die geliefde boeremusiek waarmee hy grootgeword het, sy eie te maak vir ʼn splinternuwe produksie, Boeremusiek: Rocco styl.

Hy het in die Maroela Media-ateljee kom kuier en vertel hoe hy destyds as kind byna elke naweek na sy pa se boeremusiekorkes gaan luister het.

“Alles het begin toe my pa sy banjo in 1969 koop. Kyk, toe is ons naweek in en naweek uit na al wat ʼn troue is, genooi. Later in die aand het my pa my dan nader geroep om Jim Muller se keurspele saam met die orkes te speel en so is ʼn liefde daarvoor by my gekweek.”

Rocco het kort voor die pandemie self boeremusiek opnames gemaak en begin nadink oor dié geliefde musiek waarmee hy grootgeword het.

“Hoe meer jy dit speel, hoe nader kom dit aan jou. Dan besef jy dat boeremusiek in Afrikaanse outjies soos ek wat van die Vrystaatse platteland af kom se DNS sit, soos ʼn koeksister en melktert.”

Rocco wil mense herinner om die goeie goed uit hul verlede te vier. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Vir Boeremusiek: Rocco styl blaas hy saam met Lizelle le Roux op viool en Hansie Roodt jr. op kitaar nuwe lewe in stukke soos “Umfaan”, “Outa in die langpad”, “Hartseerwals”, “Die ou waenhuis” en natuurlik keurspele van Jim Muller en musiek van legendes soos Nico Carstens en Hansie Roodt sr.

Dít alles, maar in eg Rocco styl. Groot blom op die bors en al.

“Ek is mal oor disco en dansmusiek en boeremusiek is essensieel dansmusiek. Ons speel alles van polkas tot walse. Ek gaan natuurlik my vellies ook aanhê,” sê hy met ʼn knipoog.

Dié geliefde kunstenaar erken wel dat sy produksie se verwerkings met tye uitdagend was.

“ʼn Mens wil nie karring aan die musiek se kern nie. Dit help nie jy speel ‘Outa in die langpad’, maar jy kan nie eintlik hoor of dit die liedjie is of nie. Tog wil ons dit relevant vir 21 eeuse gehore maak.

“Natuurlik praat ek ook lekker nonsens tussendeur.”

Volgens Rocco moet dié produksie gehore ook opbeur en hulle juis herinner daaraan om nie mooi goed uit die verlede af te skryf nie.

“Ek het onlangs ʼn baie insiggewende dokumentêr van prof. Hermann Giliomee gekyk wat my opnuut bewus gemaak het van die kompleksiteit van ons land se geskiedenis, maar ek is op ʼn stadium in my lewe waar ek nie net oor die probleme van die verlede wil dink nie. Ek wil iets vir die mense gee uit hul verlede wat hulle kan vier, en dít is boeremusiek.”

Koop kaartjies vir die volgende Boeremusiek: Rocco styl-vertonings hier:

  • 8 April by die ABSA KKNK. Kaartjies is te koop by Webtickets
  • 11-15 April by die Oppiwater Kunstefees. Kaartjies is te koop by Itickets
  • 26-28 Mei by die Centurion Teater in Pretoria. Kaartjies is te koop by Quicket
  • 14-18 Junie by Monte Casino in Johannesburg. Kaartjies is te koop by Webtickets
  • 26 Julie by die AfriForum Teater. Kaartjies is te koop by AfriForum Teater

Luister na die ateljee-onderhoud met Rocco boaan hierdie berig.

Kyk hier hoe hy ‘n voorsmakie van sy nuwe produksie op Maroela Media se klavier gee:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LekkerOuJan ·

Doen so voort Roco! Hierdie videotjie het my opgebeur vanoggend! Dink ek moet een van jou uitvoerings bywoon!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.